Susan Olivier: Vir altyd joune

Liesel Klopper weet nie haar loseerder, Ignatius is ‘n sakemagnaat wat wegkruip van sy familie nie. Tot die dag toe sy stiefseun. Philip by haar huis opdaag. Nou wil Ignatius hê sy moet saam met hom na sy huis, sodat hy sake kan uitsorteer. En sy moet voorgee hulle is verloof. Maar hoe hanteer sy Philip, wat haar nie daar wil hê nie, maar ook nie sy hande van haar kan afhou nie?

Proestukkie (Unedited weergawe, voor die ekspert die taal verbeter, die deel kom nie natuurlik nie- soo vir julle ander nie)

Philip kyk ondersoekend na haar. “Jy is bleek. Voel jy siek?”

Sy frons. Wat bedoel hy? Kry hy lekker oor die penarie waarin sy haar bevind? Hy het haar mos gewaarsku. Sy lig haar ken. “Daar is niks fout met my nie. Ek lyk altyd so.”

Hy skud sy kop. “Nee, jy doen nie. Laas toe ek jou gesien het, was jou wange rooi en jou oë het geblink. As ek reg kan onthou was daar selfs geel verf in jou hare en op jou hande. Nou lyk jy vaal.”

Sy probeer nie afgehaal voel nie. Hoekom gee sy om wat hy dink?  “Sjoe, maar jy weet hoe om ʼn vrou met mooi woordjies te bekoor. Ek is bleek, vaal en lyk sieklik. Voeg nog ʼn kompliment of twee by en ek val aan jou voete.”

Hy glimlag, en dis dieselfde glimlag wat haar die eerste dag op hol gehad het, maar nou is nie die regte oomblik om dit te geniet nie.

“Jy is fyngevoelig,” sê hy beslis.

Sy kyk hom reguit in die oë. “Ek is nie fyngevoelig nie en ek is baie gelukkig met my voorkoms.”

Sy oë beweeg tydsaam oor haar, terwyl hy aan sy drankie teug en sy verstyf geaffronteerd. Hy het laas dit ook gedoen, so na haar gestaar. Het hy nie nou al gesien wat hy wil nie? Sy hou nie van sy kyk nie, asof hy haar evalueer en te lig vind. Want hoe kan dit anders, as sy haarself met sy vroeëre geselskap vergelyk?

“Ek is nogal verbaas. Die meisies wat gewoonlik Ignatius se oog vang, maak  besondere moeite met hul voorkoms, maar jy lyk nie gepla met sulke goed nie. Ignatius raak vinnig verveeld. As jy nie ʼn bietjie harder probeer nie, kan hy dalk groener weivelde soek.”

Hy sê dit amper tergerig, maar sy vind sy opmerking nie snaaks nie. “Smaak verskil. Dalk verkies hy iemand met ʼn vaal voorkoms.” Sy weet die opmerking is onvanpas. Sy wil juis nie hê hulle moet dink daar is iets tussen haar en Ignatius nie, wat seker belaglik is na Ignatius se aankondiging, maar sy kan ook nie net haar mond hou na sulke uitlokkende opmerkings nie.

“O nee, ek het slegte nuus vir jou. Sy vriendinne is altyd beeldskoon en dis hoe hy dit verkies.” Hy lag saggies. “Ek het ook nie bedoel jy is vaal nie, net onopgesmuk.”

“Is daar ʼn verskil?” Nukkerig neem sy ʼn groot sluk van haar drankie, en hyg  na haar asem toe die alkohol haar soos ʼn vuishou op haar nugtermaag tref.

Hy vat die glas uit haar hand toe dit begin kantel, en kyk vies na haar. “Dis nie koeldrank nie, vroumens. Dit bevat ʼn groot dosis vodka. Jy moet dit teug, nie wegsluk nie.”

Toe sy weer haar asem terug het, gluur sy hom aan. “Hoe moes ek weet? Dis nie asof my kelner sulke goed vir my aandra nie.”

Hy lag hardop en gee haar glas terug. “Ek sweer jy is ʼn gevaar vir jouself en almal om jou.” Skielik steek hy ʼn hand uit en streel liggies met sy kneukels oor haar wang. “Ten minste is daar nou weer kleur in jou wange.”

Weer snak sy na haar asem, en hy laat sy hand vinnig sak. Ongemaklik kyk hulle vir mekaar, en sy sien verwarring in sy blou oë, asof hy ook nie heeltemal weet wat nou gebeur het nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s