Rykie Roux: Onweerstaanbare vreemdeling

“Baie dankie vir vanaand, Soois, dit was baie lekker,” sê sy stram, weer baie bewus van ’n soort spanning tussen hulle, maar oortuig daarvan dat hulle mekaar nie weer moet sien nie.

“Baie dankie, maar nee, dankie, ek wil jou nie weer sien nie. Is dit wat jy met daardie priets en pruim stemtoon vir my probeer sê?” vra hy en swaai haar na hom toe.

“Ons het niks in gemeen nie,” hou sy vol.

Hy sit sy hande op haar skouers en haar asem raak weg.

“Sal ek vir jou wys wat ons alles in gemeen het?”

Voordat sy kan antwoord, het hy haar in sy arms getrek en snoer sy lippe haar mond brandend. Sy sal nie reageer nie, neem sy haar bewend voor. Sy sal net wag dat hy klaar soen en dan sal sy in haar kar klim en van hom vergeet.

Teen haar mond hoor sy hom lag, asof hy vermoed wat sy probeer doen. Dis ’n tintelende beweging van lug teen haar lippe en die tinteling trek deur haar hele lyf en steek haar aan die brand.

Hy sit sy hande koesterend om haar gesig en vee sy sagte, warm lippe vlindervlerksag oor hare. O genugtig, teen wilde hartstog sou haar skanse kon bly staan het, maar nie teen hierdie oneindige teerheid nie.

Met ’n suggie verslap sy teen hom.

Hy vier dadelik sy oorwinning oor haar deur haar amper ru teen hom vas te gryp, haar lippe van mekaar te sper en haar mond te stroop van elke greintjie soetheid van sy het om te bied. En sy gaan in vlamme op en begin net so lustig terugsoen.

“Jy het belowe,” sê sy amper snikkend toe hy haar uiteindelik laat gaan.

“Ek het belowe dat ek nie gisteraand aan jou sou raak nie. Maar dis na twaalf, dis ’n nuwe dag en nuwe reëls geld, Klarette,” sê hy meedoënloos, maar hy probeer nie weer aan haar vat nie.

“Ons pas nie bymekaar nie!” sê sy gesmoord en kyk na die sementblokke op die sypaadjie.

“Omdat jy ’n rits grade agter jou naam het en ek nie,” sê hy kwaai.

* * *

“Gaan jy nie eet nie?” vra hy.

Haar oë vernou. “Ken jy die storie van Proserpina en Pluto?” vra sy koud.

Hy haal sy skouers op. “Ek het jou tog gesê ek is geen boekemens nie. Hoe sal ek dan nou ou Romeinse stories ken?”

Maar hy weet darem dat dit ’n Romenise storie is!

“Pluto was die god van die onderwêreld en hy het vir Proserpina na sy koninkryk ontvoer. Maar solank as wat sy geweier het om iets daar te eet, kon hy haar nie daar hou nie!” sê sy nog steeds kwaad.

“A, maar jy het klaar van my wyn gedrink. Het dit weer vir jou soos gisteraand s’n gesmaak? Soos vloeibare blydskap! Net op grond daarvan kan jou al klaar by my hou,” snap hy dadelik waarop sy sinspeel.

Dan leun hy oor en soen haar saggies op haar lippe. Toe sy die growwigheid van sy wang teen hare voel gaan haar mond asof vanself oop en hy verdiep die soen, steeds sonder om met sy hande aan haar te raak.

Hy sit terug, tel een van die snytjies brood op en smeer dit met ’n plastiek messie vol patee. Hy hou dit voor haar mond. Sy probeer haar teësit, herroep desperaat Proserpina se vasberadenheid, maar sy oë gebied haar om aan hom toe te gee.

Amper werktuiglik, asof sy in ’n waas is, neem sy ’n happie daarvan. En proe die romerige seesmaak van die patee en die brosse effe olierigheid van die brood.

Haar sintuie is skielik skerper instel op elke subtiele stimulus – die roosmaryn smakie op die brood, die kiewiet wat êrens in die veld kwiet-kwiet, die vroegsomer bries teen haar wang. En op Soois, elke stukkie van hom, sy helder oë, sy ferm vingers, die leerreuk van sy baadjie.

Happie vir happie voer hy vir haar die brood sonder dat sy oë hare vir ’n oomblik verlaat.

Oral in haar lyf begin stroompies begeerte vloei. Dis die sensueelste ding wat iemand al ooit met haar gedoen het. Hy is besig om haar te verlei en hulle weet albei dat sy so pas ingegee het.

“Daar sit ’n krummel in die hoek van jou mond,” sê hy en sy stem is baie, baie hees.

Sy lig haar hand om dit weg te vee, maar hy vang haar pols vas en leun oor na haar. Met die tippie van sy tong pik hy die krummel weg. Sy kyk met groot oë hoe hy dit insluk.

“Jy het my kos geëet, Proserpina, en my wyn gedrink. As ek wil, kan ek jou nou vir altyd in my koninkryk hou,” fluister hy teen haar mond.

3 thoughts on “Rykie Roux: Onweerstaanbare vreemdeling

  1. Alma Carstens says:

    Ek wil meer weet… waar is die res? Nou kan ek nie wag vir my pakkie nie en pos vat tog so lank om tot hier te kom!

  2. Mari Roberts says:

    Stem, ek wag in spanning vir die boek! Die stukkie het my nou so lus gemaak om dit verder te lees, dat ek skoon ongesukkel is omdat ek nie kan nie!

  3. Cindy Robertson says:

    O yummy then!!! kan nie wag om die res te lees nie, hoop ek kry dit in my gelukspakkie van Lapa af…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s