Rika du Plessis: Beproefde geluk

PROESTUKKIE  VAN  BEPROEFDE  GELUK.

“Siestog, net soos ‘n ou bang voëltjie wat in ‘n arend se klou beland het. Jy bewe selfs. Besef jy dan nou nog nie dat jy nie vir my hoef bang te wees nie? Ek sal jou nooit seermaak of teleurstel nie, Sonita,” fluister hy heserig teen haar oor sodat sy warm asem skokprikkels oor haar vel heen stuur. Sy beur om los te kom, maar sy arms om haar verstyf en sy sien sy lippe nader kom. Hy gaan haar weer soen. Sy kan nie asem kry nie. Haar hele wese roep na dit wat hy haar bied, maar net toe sy in sy omarming verslap, sien sy uit die hoek van haar oog Len die winkel binnekom.  Hy kyk reguit na hulle toe.

            Sonita stamp Henro van haar af weg en maak of sy nie vir Len sien nie.

            “Wat dink jy doen jy, Henro? Ek is jou neef se meisie. Kan jy nie néé vir ‘n antwoord aanvaar nie?” Sy praat ekstra hard en kry dit selfs reg om hom met kwaai oë aan te kyk. Haar binnegoed voel egter nou nog omgekeer van die opwinding wat deur haar gebruis het met sy arms om haar. Die eienaardige kyk in Henro se oë kan sy meteens nie verduur nie. Sy swaai weg van hom en gaan staan agter Len. Hoe gaan sy die situasie nog vir so lank hanteer?

            “Ja, neef, wat dink jy doen jy? By my meisie aanlê? Klink my sy het jou al tevore gesê nee, en jy wil nie luister nie. Is jy nie tevrede dat jy my onderneming gesink het nie? Wil jy nou nog my meisie ook afrokkel? Bly van haar af weg, verstaan jy my?” dreig Len en draai dan sy rug op Henro wat tot dusver nog nie ‘n woord gesê het nie.

            “Ons moet praat oor die winkel hier langsaan.”

            “Sy wil nie jou winkel hê nie, Len.” Henro se spottende stem klink hard agter die boeke op waar hy in een staan en blaai.

            “Is jy nog steeds hier? Hoekom loop jy nie? Hierdie is privaat sake tussen my en Sonet.” Sonita draai om net betyds om te sien hoe Len aan Henro stamp sodat hy deur se kant toe moet gaan.

            “Len, doen dit weer en jy gaan grond toe, verstaan jy my mooi? Jy stamp nie aan my nie. Moenie dat ons soos twee barbare baklei en die hele boekwinkel afbreek nie.” Henro praat sag, maar sy kan die woede in sy stem hoor.

            “Gee dan pad hier en los my meisie uit!” spuug Len die woorde na hom toe uit.

            “Sy is nie jou werklike meisie nie. Julle het mekaar nie lief nie. Hoekom julle dit voorgee, sal ek nie weet nie,” antwoord Henro met spot in sy stem, lag dan uitdagend en stap by die winkel uit.

            “Hoekom sê hy so, Sonita? So wragtag, as jy alles vir hom vertel het, kan jy maar nou al jou pa bel en hom waarsku die polisie is op pad!” Die are bult in Len se nek en sy oë lyk of dit wil uitpeul, so opgewerk is hy.

            “Bedaar, Len, liewe magtig. Hy weet niks. Ek het hom niks vertel nie, maar hy hou aan om te sê dat hy kan sien ons is nie lief vir mekaar nie en wil weet waarom ek aan jou bly klou, dis maar al.”

            “Daar is nou net een oplossing. Jy moet by ons kom intrek sodat hy kan sien hoe ernstig ons is.”

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s