Marilé Cloete: Waar sy hoort

“Ma, ons gaan nou aan boord.” Anneke klou die foontjie vas asof dit haar laaste skakel met die lewe is. Haar formidabele ma was nog altyd vir haar ‘n simbool van die lewe – die lekker én die minder lekker daarvan.

“Voorspoedige vlug, my kind.” Helena Bezuidenhout klink kalm en bekwaam, soos altyd. En natuurlik organiseer sy haar kinders ook nog net so graag soos altyd. Maar dis soos hulle haar ken en liefhet al loop dit maklik op ‘n botsing uit. “Ons kan nie wag nie,” kom haar warm stem gerusstellend oor die lyn na haar dogter.

Anneke gryp na Thomas, wat huppelend hulle nuwe lewe tegemoetgaan. “Bly by Mamma, moenie wegdwaal nie.” Met die foon in haar een hand en haar kind s’n in die ander, voel sy meteens geanker. Veiliger as wat sy in ‘n lang tyd gevoel het.

“Is Ma seker dit sal uitwerk as ons …?” begin sy, maar bedink haar dan. Sy’s ‘n selfstandige vrou, sy het dit reggekry om uit ‘n siek huwelik los te breek. Sy hoef nie by haar ma versekering te soek vir haar besluite nie.

Maar Helena se woorde uit die verre Boland is steeds kosbaar en oneindig gerusstellend: “Natuurlik is ons seker, my kind. Jy en Thomas kom huis toe, waar julle hoort. Jy kom rus eers lekker uit vir die vakansie. En na Nuwejaar begin jy rondkyk vir ‘n werk en blyplek.”

So eenvoudig, ‘n mens sou nooit vermoed soveel vasbyt en verlang lê agter die woorde nie.

“Julle het ons aankomstyd, Ma? En die vlugnommer?” vra sy vir die hoeveelste maal.

“Ja, ja, kind! Ek sal moet keer, of jou pa ry lughawe toe nog voor julle vir Afrika gehaal het.”

Anneke groet, begin met nuwe veerkrag in haar lyf saam met die stroom mense beweeg na die wagtende vliegtuig. Haar laaste paar treë op Australiese bodem, haar eerste treë na ‘n nuwe toekoms in die land waarna sy nooit kon ophou verlang nie. Sy los Thomas se hand, kyk hoe hy spring-spring voor haar uit met sy nuwe rugsakkie vol spesiale speelgoedjies vir die lang vlug.

Natuurlik moes sy nie sy handjie gelos het nie, want kyk nou net – vas in iemand se bene spring hy met rugsak en al. Sy moet haar proeslaggie vinnig as ‘n hoesie verdoesel. Haar Thomas is ‘n soliede bondeltjie energie en ondernemingsgees, sy impak op mense is nooit gering nie.

Gelukkig het die vreemdeling teen wie Thomas gebots het, darem blykbaar ‘n humorsin. Of seker kinders van sy eie. “Oeps, amper spring die perdjie my om!” reageer hy gemoedelik. Beslis iemand wat kinders gewoond is. Anneke steek vas, moet die glimlag onderdruk. Al het hy Engels gepraat, is hy duidelik so Afrikaans soos sy. En soos haar seuntjie sekerlik na ‘n jaar of wat by die huis gaan wees.

Nogal ‘n mooi man ook, al is hy te lank na haar sin. Sy’s gewoond mans in die oë kyk, sy’t nie erg daaraan om haar nek so agteroor te knak as sy met een van hulle praat nie. Dit gee die man ‘n onregverdige voordeel, veral in haar beroep waar party manne nog dink hulle is die alleenheersers. Hy’s skraal ook, het dalk een van daai vrouens wat dink mans kan ook op slaaiblare en mineraalwater oorleef. Of miskien is een hy van die bedorwe, aantreklike mans wat gewoond is vroue swymel oor hom en daarom doelbewus soveel aandag aan sy voorkoms gee.

Self gaan sy nie weer in haar lewe oor enige man swymel nie – en sy kan nie wag vir ordentlike Suid-Afrikaanse braaivleis nie. Deur haar pa gebraai, op ‘n regte vuur van wingerdstompies of doringhout. Verkieslik ‘n lekker vet ribbetjie, van die soort wat in Australië as hondekos beskou word.

“Sê ekskuus vir die oom,” maan sy in Afrikaans, lig terselfdertyd die seuntjie en sy bagasie op die eerste trappie na die vliegtuig.

“Sorry, oom,” antwoord hy in die mengeltaal waarop hy onmiddellik terugval as hy onseker voel. Maar nie meer vir lank nie, sy gee hom net ‘n paar weke in haar hartland, dan is daar niks van oor nie.

Gelukkig tog val die man hul nie om die nek oor hul Afrikaans is nie. Dit pas haar – sy’s ook regtig nie nou lus vir geselsies maak met vreemdelinge nie. “Dis niks, boeta,” sê hy egter heel vriendelik vir Thomas. Dalk hou hy meer van kinders as van grootmense. Sy hand rus ‘n oomblik op die voskoppie. Nogal ‘n mooi hand, ‘n sterk hand; so met die fyn, goue haartjies op die rugkant. Ringloos.

Anneke voel hoe haar nek warm word. Is sy nou van plan om al haar verstand op Aussie-grond agter te laat? Pas ontslae van een man en hier let sy ‘n ander se ringlose vingers op. Dommer as ‘n donkie is sy sowaar nie, haar voet gaan sy nie teen dieselfde klip stamp nie.

Tom was ‘n harde klip. En die stamp was flippen seer.

Sy worstel in die nou gangetjie af met haar seuntjie en hulle pakkasie, probeer maar met haar beste glimlag almal paai wat langs die pad deur haar stadige gang verontrief word. Haar glimlag was nog altyd haar beste wapen. Maar in die laaste paar maande voor die egskeiding kon daardie wapen haar nie eens meer red nie.

Vandag lyk dit darem of sy nog nie haar slag heeltemal verloor het nie, haar mede-passassiers reageer heel gunstig. Veral die omie met die groot snor en die ronde brilletjie. Hy reageer so gunstig dat sy angstig hoop sy kom tog net nie langs hom te lande nie.

Die spul handbagasie is natuurlik alles beplan om die lang vlug vir Thomas makliker te maak. En natuurlik vir haar. Dit was maar een van die nagmerries van die lang skeiding van haar mense – die eindelose vlug met ‘n klein kindjie. Dis nou as jy ooit by die koste van die vliegkaartjie kon verbykom. Maar nou gaan hulle huis toe. Vir altyd.

“Ons gaan baie lekker by Ouma en Oupa bly, hoor jy, Thomas?” Maar eintlik probeer praat sy haarself moed in. Natuurlik kan sy dood oor haar ouers. Maar dit verander nie die feit dat haar ma gewoond is dinge loop soos sý hulle wil laat loop nie, haar pa geneig om in homself te keer en soms sy eie paadjie te stap. Dit gaan nie noodwendig net maanskyn en rose wees onder een dak nie. ‘n Goeie klompie blitse sal sekerlik ook in die prentjie kom; sy en haar ma is hartstogtelik lief vir mekaar, maar hulle kon van altyd af lekker vassit ook. Sy sal nie vir maande op haar bas kan sit en haar ma se lekker kos geniet nie. Sy sal die vakansieseisoen geniet en dan sal sy moet uitspring om ‘n nuwe lewe te skep vir haar en haar kind. Al haar hoop is gevestig op die navorsingsinstituut naby haar tuisdorp, maar dit sal nie help om voor Januarie daar navraag te doen nie.

Energie vir vooraf ordentlik navorsing doen oor werksgeleenthede het sy eenvoudig nie gehad nie. Net eers by haar mense kom, het sy gereken, dan aan die ander dinge begin werk. Net eers die breek maak, die sprong uitvoer.

Van finansiële bystand van Tom se kant af kan sy maar vergeet, haarself die spanning spaar van wag daarop. Tom gee nie regtig veel vir sy kind om nie, wil hom net gebruik om haar by te kom. Sy’t haar bed opgemaak en sy sal haar lê moet kry daarop. En vinnig ook.

‘n Alleen-bed, dis wat haar bed gaan wees. ‘n Manlose bed. Behalwe vir haar liefste seunskind natuurlik. En vir hom gaan sy leer om ‘n man te word met respek vir sy ma. En vir alle vroue.

“Ekskuus tog, ek moet ongelukkig ook hier inpas.”

Die man vir wie klein Thomas netnou amper laat wankel het. En wat nie kwaad geword het daaroor nie. Die lang man met die mooi, ringlose hande. Maar nou lyk hy als behalwe vriendelik. Hulle kyk hulle mekaar effens verslae aan. Want sy is lank, en hy is báie lank. En Thomas is báie woelig. Hoe gaan hulle oorleef in die drie skrale sitplekkies? Sy voel behoorlik hoe haar glimlag eers verdof en toe verdwyn.

‘n Mens sal sweer die ganse Australië is vir Krismis oppad huis toe, Suid-Afrika toe, want sy’t tevergeefs gesoebat vir een van die geriefliker sitplekke wat gewoonlik gehou word vir mense met klein kindertjies. Nou kyk sy jaloers na die paartjie met die twee kleintjies wat kwalik meer as ‘n jaar kan verskil, hoewel sy hulle nie die tweetjies beny nie. Een Thomas is heeltemal genoeg vir haar, dankie, lief soos sy hom het. Maar hulle het die lekker ruimte by hulle voete om die kinders op neer te lê as dit moet. En hier moet sy nou die mooie man teen die venster vaskeer met haar woelige kind.

Want teen die paadjie moet sy wraggies wees. Sy kan vergeet van rustig op haar blaker sit tot in Johannesburg. Sy ken vir Thomas. Energie het hy gans te veel, en dis seker haar eie skuld ook dat hy so opgewerk is oor die uittog na Ouma en Oupa Afrika toe. Sy moes haarself eenvoudig opgewonde kry, die angs op een of ander manier besweer. En dit het sy gedoen deur ellelange stories van haar grootwordjare in die mooiste Kaap, mildelik aangedik waar nodig.

Hy sal wel op sy eie tyd agterkom Suid-Afrika is ook nie meer dieselfde land waarin sy grootgeword het nie. Gelukkig tog nie, probeer sy haarself moed inpraat. Wie wil nou nog in die verlede vasgevang sit? Beslis nie sy nie.

Dis net dat die verlede soms so lekker bekend en gerusstellend kan lyk.

Half verbouereerd staan sy opsy sodat die man sy handbagasie in die oorhoofse rakke kan pak en bo-oor Thomas tot in sy sitplek kan klouter. Want die kleinman sit alreeds penorent op sy plek, vasgegordel en paraat. En sy vrae hou nie op nie. Hoekom vlieg hulle nog nie? Hoekom klim die mense so stadig in? Hoekom sit die oom by hulle?

“Sjuut, Thomas,” probeer sy hom stilkry. “Die oom mag hier sit, hy mag enige plek sit.”

“Maar ek wil daar lê, Mamma!” kla hy luidkeels. “Waar gaan ek nou lê as ek wil slaap?”

Sy loer onderlangs na die man, maar hy’s blykbaar horende doof. Hy’t ‘n pak papiere uit sy skootrekenaar se sak gehaal, dié veilig tussen sy voete geanker en terstond in sy leesstof verdiep geraak. Haar alreeds moedelose hart sak van haar skoene tot in haar skoensole. ‘n Werkholis, een van daai wat elke oomblik moet gebruik, anders dink hy hy gaan agterbly in die rotresies.

“Jy kan op Mamma se skoot lê, my kind,” paai sy. En sê solank tot siens aan enige illusies wat sy nog oor ‘n gangbare nagrus gehad het.

“Jy is lekker klein, jy kan sommer in jou eie sitplek slaap, boeta,” praat hul buurman meteens. Toe nie so doof soos sy gedink het nie. En steeds liewer vir kinders as vir grootmense.

“But I don’t want to …” begin Thomas teenpraat, maar bedink hom vinnig. Die klein klits kon gou sien hierdie man gaan hom nie deur ‘n kleuter laat omrokkel nie.

Die heilige waarheid is natuurlik dat sy die mannetjie nie altyd behoorlik gedissiplineer het die laaste tyd nie. Kon dit nie oor haar hart kry nie, hy moes in sy vyf lewensjaartjies alreeds soveel ontbeer. En sy het ook dikwels eenvoudig nie die energie gehad nie.

“Ek is baie groter as jy, en ek moet maar in my sitplek slaap. Ek sal ook graag ‘n lêplekkie wil hê.” Anneke wil-wil glimlag. Sy het haar nie aanvanklik met die man misgis nie; hy het definitief ‘n humorsin. Die arme ding se knieë steek omtrent by sy ore verby. Dis nie net sy wat nie vannag ‘n oog gaan toemaak nie.

“Ons kan in die paadjie lê,” bied Thomas nou grootmoedig aan, sy verontregting skoon vergete. “Hulle bring vir ‘n mens komberse.”

“Te klein vir my,” sug hulle buurman. “Ek kan net my kop of my voete toemaak met daai kombersies.”

“Ek sal myne vir jou ook gee, my ma sal my sommer warm broei.” Die duim is vergete, Thomas se gesiggie straal van welwillendheid. Anneke se hart krimp. Haar arme, arme kind het ‘n pa nodig. Gaan dit die patroon wees – dat hy hom vasklem aan elke moontlike rolmodel?

“Gelukkige jy.” Skielik kyk hy reg in haar oë. Sy oë is ‘n besondere mengsel van groen en blou. Regte see-oë, Weskus-oë. En nou vol tergliggies. Toe steek hy sy hand uit. “Adriaan Rossouw.”

Hoekom klink die naam so bekend? Haar gedagtes gryp wild rond. “Anneke Bezuidenhout,” prewel sy outomaties. Haar nooiensvan val nog vreemd op haar tong. Met Tom se van wou sy nie langer opgesaal sit nie.

“My naam is Thomas,” kwetter die vrolike vinkie voort. “En ons gaan na my Ouma en Oupa Afrika toe. Ons gaan nou daar bly, my pa wil nie …”

Genadiglik is hulle eindelik gereed om te vertrek. “Kyk, Thomas, kyk die liggies wys almal se sitplekgordels moet nou vas wees,” beduie sy effens wanhopig. Voor sy weet waar sy is, het die dierbare kindjie hulle hele hartseer verhaal aan die Adriaan-man uitgeblaker. Soveel soos hy weet, natuurlik.

Want hy weet net van Ouma en Oupa Afrika se groot huis met die foto’s van ander oupas en oumas wat lank voor hulle gelewe het, en van Oupa se baie honde en van al die diere wat hy gesondmaak, want hy’s ‘n dieredokter. En van Ouma se winkel waar mense troeteldiere kan koop en kos en hokke en speelgoed vir hulle. Van verbreekte beloftes en ‘n gebrek aan lojaliteit weet hy nog niks.

“My seatbelt is lankal vas,” verklaar Thomas trots aan hulle buurman. “Kyk, ek kan self!”

“Ek sien. Jy’s ‘n baie slim seun.” Oor haar seun se kop hou Adriaan Rossouw se mooi oë hare vir een lang oomblik vas. Toe laat sak hy weer sy blik na die papiere in sy hand. Sy kan sien dis fotostate van artikels uit akademiese joernale wat hy in sy hand het.

Sy raak skoon kortasem van opwinding. Hierdie Adriaan Rossouw is waaragtig die jong navorser wie se werk die afgelope tyd al meer prominent geword het in internasionale tydskrifte op haar vakgebied. Hier anderkant Thomas sit die antwoord op al haar probleme.

Praat met die man, Anneke – sê jy weet wie’s hy, vra of daar poste beskikbaar is, baklei sy met haarself. Maar sy’s stom, sy het waaragtig nie die moed nie. Hy sal dink sy gebruik vir Thomas om by hom uit te kom, sy soek gunsies. Hy sal in elk geval nie eens weet wie sy is nie, sy het onder die naam Anne Browne gepubliseer. En die laaste jaar was vir haar maar ‘n droë een. Haar fokus was in elk geval so verdeeld dat sy nie heeltemal op hoogte is van sy nuutste werk nie. Sy sal nie eens ‘n intelligente akademiese gesprek met die man kan voer nie. Tien teen een maak sy net ‘n gek van haarself.

Nee, eers tuis raak in haar ouerhuis. En dan sal sy die internet bestorm en begin inhaal. Daar’s genoeg tyd in die nuwe jaar, in die vakansietyd gaan sy niks regkry nie.

Anneke sluit haar oë, laat sak haar kop vermoeid teen die nekstut agter haar. Navorsing drink in Australië ook maar aan die agterste speen,veg op baie gebiede om oorlewing. Baie van haar kollegas het nie eens die sekuriteit van ‘n vaste salaris nie, en moet self befondsing soek vir hul projekte. En hier dink sy sy kan die drade gaan optel in Suid-Afrika, waar dinge waarskynlik tien keer erger is. En dan is sy nog te verskimmeld om te netwerk as die geleentheid hom voordoen ook.

Skoolhou, dis haar voorland. Wat ‘n afgryslike vooruitsig. Tieners vol hormone, die massas administrasie … Of werk in haar ma se troeteldierwinkel. Voëlsaad en konynpille afweeg, budjies vir kliënte vang uit die malende menigte in die groot hokke, vir al die nuuskierige kliënte verduidelik hoekom sy terug is. En nee, tannie, Tom sluit nie later by ons aan nie … Vooruitsigte genoeg om haar die Bolandse berge te laat inhardloop.

“Mamma, ek wil piepie!” Thomas pluk aan haar mou, sy pa se twee donker oë kyk beskuldigend na haar. “Maar jy luister nie!”

“’Skuus, my liefling, kom ons loop.” Moeisaam ontknoop sy haar lang bene, vat Thomas se handjie na die toilette. Soos altyd haat sy die opstaan voor al die niksseggende gesigte, almal toegespin in hul eie kokonnetjies, afgesluit van die mense rondom hulle. Sy’t nog op min plekke so eensaam gevoel soos in ‘n groot vliegtuig met ‘n paar honderd vreemdelinge saamgehok.

Thomas se armpie glip om haar bene, maak die tog in die smal gangetjie nog moeiliker. Sy kyk dankbaar af na hom. Sy’s nie alleen nie, sy het haar kind.

Sy het ook nog haar trots en haar intelligensie. En haar glimlag, dit moet sy nie vergeet nie.

2 thoughts on “Marilé Cloete: Waar sy hoort

  1. Suzie Combrinck says:

    Dankie vir die sesde boek in jou reeks oor die manne (net nie almal het verwysings na die manne nie). Ek het dit baie geniet. Ek dink jy moet werklik baie goed kan onthou dat jy nie met die stories deurmekaar raak nie. Sien uit na nog van jou skryfwerk.

    • Marile Cloete says:

      Ek is bly jy het dit geniet, Suzie – ek hou ook baie daarvan om dit so te skryf. Dis net asof die karakters vir jou meer mens word so. Ek probeer nou dieselfde in my liefdesromans doen. Maar ek kan jou verseker dis ‘n hele gesukkel om die feite reg te hou en almal se geite te onthou – ek het eintlik ‘n baie deurmekaar kop!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s