Magdaleen Walters: Uit twee wêrelde

MEISIE UIT DIE BOENDOE

“En nou wil julle vir dertig kilometer so aansukkel,” sê Alta later kwaad waar sy met die kaart oop op haar skoot sit. “Kyk waar sit die son al. Pleks vat julle die teerpad tot dáár, dan het ons net daardie klein stukkie grondpad gehad. Maar nee, julle manne wil mos vir mekaar wys julle ry vier-by-viers.”

Twintig kilometer verder kan Eslpeth sien dat die sowat dertig jaar oue huwelik tussen die voorste passasiers in onmiddellike gevaar verkeer toe Alta, met haar wange hoogrooi van die kwaad vir haar man, sommer in die ry wil uitklim en stap.

“Kan ek dalk vir meneer probeer uitry?” vra Elspeth met groot versigtigheid aangesien sý kleur ook al aansienlik verhoog het. Vir al wat sy weet, sukkel die man nog met bloeddruk ook. “Ek is darem ‘n bietjie meer gewoond aan die sandpaaie.”

“Nou hoe wil ‘n klein pipsqueak soos jý nou die ding hier uitdryf?” vra hy ergerlik en sy kan sommer sien meneer Myburgh is nou nie meer die grootbaas op kantoor nie. Nou is hy net ‘n gefrustreerde man wie se ego besig is om pak te kry.

“Kan niks erger gaan as met jóú agter die wiel nie,” laat hoor Alta van haar. Hy kyk haar kwaad aan.

“Dis erg genoeg om die pad te probeer kry sonder ‘n back-seat driver,” raas hy.

“Ek is ‘n front-seat driver. En kyk liewer waar jy ry,” raas sy vrou terug en stamp haar kop toe hy met ‘n voorwiel in ‘n yslike gat beland. Hy spook vergeefs met die ratte. Die viertrek grawe net al dieper die sand in.

“Kyk nou net wat het jy nou gedoen,” baklei hy toe hy uitklim.

“O, en nou’s dit skielik ék?” Alta is uit die viertrek en beduie vir hom oor die neus van die voertuig. “As jy daardie meisiekind netnou al agter die wiel laat inklim het, was ons al by Legago se woonwapark.”

LIEFDE IN ‘N TEEKOPPIE

Iets val met ‘n plopgeluidjie op haar bors en haar oë vlieg oop. Sy kyk af. ‘n Geelgroen ding met baie hare kriewel met draaibewegings op haar rond. Dis ‘n wurm wat probeer om weer op sy voete te kom. Hygend van skrik kom sy regop. “Nee! Vat weg die ding,” hoor sy haarself piep.

“Lê stil, Anja,” sê Leon.

“Haal hom dádelik af,” sê sy kwaad van ontsteltenis.

Toe hy weer praat, is sy stem hier by haar. “Lê stil,” gebied hy. “Ek wil hom afneem.”

Hy korrel sowaar met sy kamera hier op haar bors. “Leon!”

“Jy beter stillê,: maan hy agter die lens uit. “As hierdie ding op jou vel loop, gaan jy les opsê.”

“Piet,” kerm sy toe Leon voortgaan met sy afnemery.

“Ag, nee wat, my meisie,” sê Piet van sy stoel af. “Dis net ‘n ou wurmpie.”

“Julle vervlákste mansmense.” Sy het genoeg gehad en rol van die stoel af om op haar voete te lande te kom. Sy kry haar toppie beet, trek dit weg van haar af en skud dit heftig om die wurm af te kry, maar hy klou met al vyftig sy pootjies om nie weer te val nie.

“Hou net so…” die lens flits. Leon hou sy kamera nader aan sy oë en loer iewers in. “Allemintag,” sê hy en fluit sagies.  “Dis ‘n goeie foto. Nooit gedink ek sal so iets van jóú op my kamera hê nie.”

“Het jy my so afgeneem? So, met my toppie weggetrek dat mens als kan sien?”

Sy kry ‘n ondeunde glimlag vir ‘n antwoord. “Jou… skurk,” skel sy saggies. “Hoe durf jy? Mens sien seker alles…”

“H’m. Baie mooi, sou ek sê. As jy jou nou mooi gedra en vir my bier en koffie aandra, sal ek dit vir niemand wys nie,” belowe hy plegtig.

5 thoughts on “Magdaleen Walters: Uit twee wêrelde

  1. Magdaleen Walters says:

    Alma, dankie vir jou baie mooi woorde. Ek’s bly Elspeth-hul kon jou vliegrit draaglik maak. Geheimpie: ek het nog nooit in my hele lewe gevlieg nie. O, behalwe een keer, met ‘n weermag-helikopter van Hoedspruit tot op Phalaborwa en terug en dit was verskriklik. My broer se jongste het ná die tyd vir haar ma, wat nie saam op was nie, vertel: “Mamma, ek het een keer opgegooi. Maryke (dis nou mý jongste) het twee keer opgegooi, maar tannie Magdaleen het sommer sewe keer opgegooi.” Die stomme kind kon net nog nie goed tel nie. Dit was nader aan sewentien keer. Verstaan jy nou hoekom ek saam met jou dankbaar is as die boek die tyd vinniger kon verbykry?

  2. Alma Carstens says:

    Hi Magdaleen, ek het die boek in CNA opgespoor en geniet dit baie. Anja en Leon het my op albei vlugte (van PE na Jhb en Jhb na Llw) so besig gehou dat ek nie eens agtergekom het die tyd vlieg nie (ek hou niks van vlieg nie). Nou is ek besig met Nick en Elspeth se storie. Eendag as ek “groot” is, wil ek soos jy kan skryf en myself so oulik uitdruk!

  3. Alma Carstens says:

    Ek gaan net vir drie dae PE toe om vir my sussie te kuier terwyl my kinders in Frankryk is vir die week, maar ek gaan bietjie rondkyk of ek dit sien… wil dit baie graag lees.

  4. Magdaleen Walters says:

    Alma, ek sien nou eers jou skryfseltjie!! (Wens ek kon jou eerder sien, sou jou graag wou ontmoet. Waarheen in SA kom jy?) My sespak behoort seker enige dag hier op te daag, want hy kom in September uit.

  5. Alma Carstens says:

    Soos altyd is dit bo-baas skrywery, Magdaleen. Wanneer kom hierdie boek uit want ek wil dit beslis koop en gaan einde Sept vir ‘n paar dae SA toe… sal ek dit dan al op die rakke wees?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s