Madelie Human: Halsoorkop

Halsoorkop – Madelie Human

Die donker is totaal. Dit voel vir haar of dit haar vasdruk. Donkerte het haar nog nooit afgeskrik nie, maar dis ‘n wildvreemde man hier saam met haar in hierdie klein, donker plekkie. Die gedagte maak haar ‘n bietjie bang. Om doodeerlik te wees, dit is eintlik die idee dat dit moontlik hý is wat hier by haar in die geslote ruimte van die hysbak is, wat haar asem skoon wegslaan.

“Dit moet ‘n kragonderbreking wees,” grint sy diep stem hier by haar. Dit ís hy! Haar asem stol nou heeltemal. Dis bisar, dis nie besig om te gebeur nie, sy is níe vasgekeer in ‘n hysbak saam met ‘n man wat net tussen die bladsye van boeke en in haar drome bestaan nie. Iets is vreeslik verkeerd.

Haar asem kom skielik met mening terug. Met inspanning probeer sy dit beheer, maar kan nie, dit hort en dit stoot en maak haar net ál benouder. Wat is aan die gang met haar? Is dit hoe ‘n angsaanval voel? Dit het nog nooit met haar gebeur nie. Sy is eenvoudig nie ‘n angstige soort mens nie.

Sy hyg en snak, maar dit word net al erger.

“Juffrou … is jy oukei?” vra die diep stem.

“Hu … hie …” Geen woord wil by haar mond uitkom nie. Werklike paniek pak haar nou beet. ‘n Suurstoftekort, of te veel daarvan, sy weet nie mooi nie, laat haar skoon duiselig voel.

“Jy hiperventileer. Het jy ‘n papiersakkie … ‘n inkopiesakkie of iets?” Hy vat aan haar arm, voel-voel na haar handsak. Verskrik skarrel sy weg van hom af tot in die hoekie van die hysbak.

Die pikswart donkerte voel dik en taai om haar. Die wêreld begin duisel … Sy moet uit! “Hie … ugh …!” hyg sy.

Skielik voel Beth weer sy hande op haar bo-arms. “Kom ons probeer iets anders.” Warm asem waaier oor haar wang voordat sy mond, op soek na hare, ligweg daaroor vee en dan dig oor haar lippe sluit. Wegbeur help niks, hy trek haar net nog nader. Haar arms flap verskrik rond in die lug, poog floutjies om hom weg te stoot. Wat op aarde dink hy doen hy? Hy soen haar sowaar of verbeel sy haar dit ook? Is haar kop nou besig om haar totaal en al te verlaat?

In ‘n poging om asem te kry, trek sy van syne in haar longe in en voel dadelik ‘n mate van verligting. Die man se plan werk sowaar. Die angstigheid verdwyn geleidelik, haar asemhaling begin na normaal terugkeer, die benoudheid verdwyn en sy begin ander dinge waarneem. Verbasend sagte – bekende! – lippe verken hare. Dit is immers die man van wie sy elke nag droom, in wie se arms sy al menige vurige omhelsing beleef het, net soos die karakters in Surina se nuwe boek.

Daardie einste paar arms vou nou heeltemal om haar en met ‘n suggie leun sy teen hom aan. Die aarde wat ‘n oomblik gelede gekantel het, kom weer tot ruste op sy as en alles voel … so reg.

Sy lippe sluit nie meer so dig oor hare nie, sy kop draai effens en die mond-tot-mond asemhaling, of wat dit ook al is wat hy probeer doen het, verander in ‘n baie definitiewe liefkosing. Ja sowaar, haar asem sukkel glad nie meer nie, syne smaak soet in haar mond. Dit maak nie eens saak dat hierdie soen dalk ook net ‘n droom is nie. Hierdie man is haar droomheld en hy soen haar. Dit voel asof alles in haar vloeibaar word.

One thought on “Madelie Human: Halsoorkop

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s