Linelle Venter: Taal van liefde

“Jy lyk verruklik.” Eben praat sag genoeg dat net sy kan hoor en sy kyk geskok na die man wat na haar kyk met ’n vreemde hitte in sy oë. Die sterk emosie in sy stem en die uitdrukking in sy oë is genoeg om haar groot te laat skrik vir die skielike vuur wat in haar binneste brand. Die skrik en die besef wat die vuur beteken, vergruis die betowering tussen hulle en sy ruk haar elmboog uit sy arm.

“Hierdie is ’n guns wat ek vir jou doen, meneer Duvenhage. Moenie dit misgis met ’n date nie. Ek is alleenlik hier om vir jou te tolk wanneer dit nodig is.” Oe, sy wens sy kon haarself nou opgeneem het. Sy’t al baie probeer, maar dis die eerste keer in haar lewe wat sy dit kon regkry om werklik kil te klink.

“O, natuurlik, Professor.” ’n Glimlag trek aan sy mondhoeke en hy buig sy kop nader aan haar oor asof hy ’n geheim met haar wil deel. Onwillekeurig leun sy in om die geheim te hoor. “Maar jy lyk nogtans verruklik.”

“Pah!” Sy gee ’n systappie om weg te kom van die ondraaglike man en trap op iets sag. Die onbewustelike kommer oor die skade wat sy aan iemand se voet kan aanrig met haar tien sentimeter sandaalhakke, laat haar dadelik haar gewig oorgooi na haar ander voet. Ongelukkig is hierdie voet nie reg gebalanseer op haar nuwe, en baie duur, hakke nie en sy voel hoe sy begin oorkantel soos ’n lamppaal in stormsterkte winde. ’n Oomblik voor sy haarself oorgee aan die noodlot en gravitasie, voel sy ’n sterk arm om haar bolyf. Die wynboer se regterarm vang haar agter haar rug met sy hand op haar boarm, en in een beweging slaag hy daarin om haar omkanteling te stuit, haar balans te herstel en haar te draai sodat hulle opeindig in ’n intieme omhelsing.

“Is jy oukei?” Sy stem vibreer teen haar wang wat knus teen sy sagte ontwerpersbaadjie rus.

“Hmm.” Oe, die man ruik regtig lekker. Geen volbloed vrou sal haar kwalik neem as sy nou al haar voornemens breek en dieper teen sy bors leun totdat sy die lyne van sy bolyf gememoriseer het nie. Sy voel sy asem teen haar hare en hy beweeg sy kop vir die tweede keer vanaand nader asof hy nog ’n staatsgeheim met haar wil deel.

“Jy hoort hier. In my arms.” Die heserigheid wat sy vroeër in sy stem gehoor het, is terug. Hy hou haar nog stywer teen hom en sê: “Van die eerste dag in my kantoor het ek geweet ons sal perfek pas.”

Chaz weet nie of dit sy woorde of sy selfversekerdheid is wat yskoue water op haar romantiese siel gooi en haar voornemens na vore roep nie, maar skielik staan sy kietsregop en styf in die wynboer se arms en praat teen sy ontwerpersbaadjie. “Haal jou hande van my af.”

“Hoekom?” Die vermetelheid. Chaz wriemel in sy arms om te ontsnap, maar word net meer bewus van sy sterk arms wat haar teen sy gespierde borskas hou. “Dit voel goed.”

“Meneer Duvenhage, dit sal nie meer vir jou so goed voel as ek my selfverdedigingslesse op jou begin oefen en jou manlikheid skade aanrig nie. Veral nie as jy vanaand wil netwerk nie,” sê sy deur haar tande en maan hom nog ’n keer. “Haal onmiddellik jou hande van my af.”

4 thoughts on “Linelle Venter: Taal van liefde

  1. Linelle Venter says:

    Ronelle,

    Sjoe, BAIE dankie vir die heerlike kompliment. Jy is glad nie te haastig nie – my volgende Romanza behoort teen die einde van die jaar te verskyn en intussen skryf ek dat die biesies bewe. Dit doen my hart goed om te hoor dat lesers uitsien na my volgende boek. Dankie!!

    Linelle

  2. Ronelle says:

    Hi Linelle
    Ek het lekker gelees aan Taal van die liefde. Ek hou van jou skryfstyl, lekker pittig!
    Wanneer verskyn jou volgende ene of is ek nou heeltemal te haastig?
    Ronelle

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s