Linelle Venter: Nuwe begin

Die gewig langs haar op die bed behoort nie aan haar nuwe waghond nie, maar aan ’n man. ’n Man wat sy nog nooit in haar lewe gesien het nie en lyk asof hy ’n vuurspuwende draak met een kyk kan annihileer. Die donderstorm wat bo sy donkerbruin hare woed, is amper tasbaar en die woede spat soos vuurwerke in sy amper-swart oë. Sy weet nie hoe groot haar oë op hierdie oomblik gerek is nie, maar sy kan die vrees in haar slape hoor klop en is oortuig daarvan dat die vreemdeling die vrae wat deur haar brein skreeu, kan hoor.

Hoe het hierdie indringer in haar huis gekom? Na Wouter se vele waarskuwings het sy gisteraand dubbel seker gemaak dat al die deure en sekuriteitshekke gesluit is en sy het selfs die alarm geaktiveer met die hoogsgeheime kode. Nikki se oë begin nou eers ordentlik fokus en sy bestudeer die man wat so gemaklik op haar bed sit. Sy kan nie regtig sê nie, maar hy lyk asof hy heelwat langer as haar honderd twee en sewentig sentimeters kan wees, en die feit dat sy demin nie die sterk beenspiere kan wegsteek nie en die swart T-hemp wat los oor sy bolyf hang nie die krag in sy spiere verbloem nie, maak haar baie ongemaklik. Watse tipe boef breek in ’n huis sonder enige wapen of enige gesigmasker? Dalk is hy ’n sluipmoordenaar, dink sy en sluk swaar aan die vrees in haar keel.

“Wat maak jy in my huis?” kraak die woorde verby haar droë lippe. Nie net het die man in haar huis ingebreek nie, maar hy kyk na haar met ’n vuur in sy oë wat normale asemhaling uiters moeilik maak.

“Jóú huis?” Sy donker stem dreun in haar ore en sy wil haar verbeel dat sy sien hoe die woorde met weerligstrale uit sy mond uit skiet. Die grootste van haar oorspronklike skrik begin verdwyn en die oorlewingsveglus wat sy moes aanleer met vier ouer broers, wil-wil na vore kom. Hoe durf hy in haar huis, ja, haar huis, inkom en na haar kyk asof sý die indringer is? Nikki trek haar oë en lippe op gedetermineerde skrefies en sy trek die duvet saam met haar terwyl sy regop sit en probeer wegwikkel van die potensiële gevaar af terwyl sy desperaat in haar geskokte brein na ’n strategie soek wat haar uit hierdie penarie sal red.

“Ja, mý huis. Wat maak jy hier?” Deurdringende donker oë begin haar inspekteer en sy trek die duvet nog hoër teen haar ken. Nee. Sy gaan nie toelaat dat ’n indringer haar intimideer nie, selfs al is hy baie aantreklik en kyk hy na haar asof sy ’n Italiaanse roomys op ’n hittige dag is. Hoe durf hy in haar huis in kom en haar soos ’n boef laat voel? Sy’s bly dat die woede-stoom in haar begin opbou, want dit vat haar aandag weg van die skielike en irrasionele kommer oor haar blonde krulhare wat elke oggend ’n stort en baie werk nodig het om nie na die hemele te krul nie.

Daar’s geen twyfel in haar siel dat sy soos Electric-Barbie lyk nie en die feit dat hierdie wildvreemde indringer haar so sien, laat haar bloed nou behoorlik kook. Die verontwaardige woede bring krag en stabiliteit in haar stem en gif in haar oë. “Nee, moenie my antwoord nie. Gaan net weg. As jy nie binne vyf sekondes jou sterre van my bed af lig en by die voordeur uit is nie, gaan ek die polisie bel.”

“Met wat?” vra die arrogante vreemdeling en hou ’n selfoon na haar uit wat sy dadelik as haar eie herken. “Jou selfoon wat op jou bedkassie was?”

Haar veglus en grimmigheid verdwyn soos ontwerperssandale op uitverkoping en die yskoue vingers van vrees begin weer die asem uit haar longe druk, en haar woorde kom as ’n hees kraak uit. “Die alarm …”

“Het ek gedeaktiveer.” Hy vernou sy oë en Nikki voel hoe daardie donker oë haar inspekteer. Sy oë volg die vorm van haar lyf onder die duvet tot by haar voete en al die pad terug na haar Medusa-hare. Teen die tyd wat hy weer in haar oë kyk, voel Nikki se lyf aan die brand en is vlak asempies al wat haar longe in staat is om te bewerk.

 

4 thoughts on “Linelle Venter: Nuwe begin

  1. Bets Smith says:

    Goeiste! Sal moet uitvind wat soek die man daar. En nou moet ek my nuwe manuskrip gaan verander, want op bladsy 2 is daar ook so ‘n kyk van ‘n man in ‘n donderbui (sy van is boonop Storm) wat die heldin van kroon tot toon en terug bekyk. Dêmit, hoe dink skrywers dan binne 4 maande en myle van mekaar presies dieselfde gedagtes!?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s