Dirna Ackermann: Lentelied

Lentelied is ‘n lekker-bederf boek met nie net een nie, maar twee van Dirna Ackermann se stories!! Jy gaan verseker die boek wil besit as jy die twee proestukkies lees.

Vrydagmeisie

Darian kom tot by Chiara. “Waarom is jy nie in die bed nie?”

“Net siek mense bly in die bed,” brom sy, haal so diep asem as wat haar seer liggaam dit toelaat. “Ek wil met jou praat. Asseblief?”

“Nou kom ons sit.”

“Staan is gemakliker. Dankie.”

“Hoe voel jy?” Die goue oë weerspieël die kommer in sy stem.

“Is daar middag plek op die vliegtuig dat ek kan huis toe gaan?”

Sy vingers vee die krulle oor haar wang weg en Chiara voel hoe hy die persblou, opgehewe oogbank ontbloot. “Jy moet ys opsit …”

“Die ertjies is pap,” prewel sy bot. Sy soek meer as groentetroos.

Sy sagte lag vibreer in haar. “Sipho se vrieskas …”

“Kan ek huis toe gaan?”

Hy verstil. “Vandag se vliegtuig is vol, maar ek gaan die bruid môreoggend haal, as jy dan wil saamgaan. Of … jy kan bly vir die makietie …

“Môre is goed. Dankie.”

Darian se hand gly onder haar hare in en sy duim kom tot rus in die holte agter haar oor, sy voorarm teen haar lyf. “Gaan jy darem so ’n bietjie verlang, Sproetjies?”

Dis die hitte van sy nabyheid, en die heesheid in sy stem, wat haar hart in tandem laat skop met die polsing in sy kuiltjie. Die deksel waaronder sy haar emosies ingedwing het, gee mee. Haar gesonde hand vou om die arm teen haar lyf, die fyn haartjies syig onder haar vingerpunte. Die nuutheid van die aanraking versplinter die laaste weerstand, en sy weet dat sy nou weer instorm waar engele nie eens sluip nie.

“Ja.”

Die ander hand se vingers vervleg in haar hare. “Bly dan.”

“Om wat te doen?” kry sy sonder veel klank geprewel.

Sy hande kam deur haar hare, hou haar kop vas. “Ek kan demonstreer dat jy ’n soenbare mond het,” sê hy op haar lippe voor sy mond dieper druk.

En haar simpel hart gryp na strooihalms.

“Ek weet van Kannaland se bokkie,” prewel sy lang oomblikke later, haar gesonde wang teen sy bors.

Meteens is die hande op haar skouers swaar. “Hoe bedoel jy?” frons hy.

“Dat ek die bokkie is wat jy vir jouself gevang …” Die woorde sterf voor die grimtrek om sy mond en Chiara steier onvas toe sy hande wegval. “Wat is fout, Darian?

“Hoe, as ek mag vra, beïnvloed daardie kennis die huidige situasie waarin ons ons bevind?”

“Ek … verstaan nie,” stamel sy ontsenu deur sy granietgesig. Waar is die man wat oomblikke tevore soveel passie op haar mond neergesit het?

“Nou laat ek dit vir jou uitspel, Chiara.” Hy stap na die lessenaar. “Word groot! Moenie elke keer as jy ’n man se bloeddruk opjaag, ’n huweliksaanbod verwag nie.”

Die telefoon skril hard en hy tel dit op. “O’Connor.” Sy blik wip rakelings oor Chiara voor hy sy rug na haar draai. “Hallo, Sanke, dankie dat jy so gou terugbel.”

Chiara se gekneusde liggaam kry dit reg om waardig weg te stap, maar haar vertrapte hart se stukkies bly agter op die peperduur mat.

Wederomliefde

“Sê my liefs wat soek advokaat Basson tienuur op ’n Vrydagoggend in die deel van Bosbaai?” vra die man met die oliebesmeerde klere in die middel van die moddernat grondpad, en Sianka skrik.

Hoe weet hy wie sy is? Het sy hom dalk tronk toe gestuur dat hy wil wraak neem?

Die vreemdeling se diep lag galm deur die motorkajuit en vibreer in haar binneste. Op snare wat sy nie geweet het bestaan nie. Doer agter haar naeltjie.

“Wees getroos, advokaat, ek is wel een van jou slagoffers, maar as ek wil wraak neem, sal dit nie helder oordag in die middel van die pad wees nie.”

Dan lyk dit boonop nog asof hy weet wat sy dink ook.

Hugo hou haar blou blik. Blou soos die hart van ’n vlam. Hierdie herontmoeting het te gou plaasgevind. ’n Leeftyd te gou. Hy het nog nie verleer om op daardie vlam te reageer nie.

Die blou oë kyk hom waterpas aan en hy buig laag. “Hugo Durandt, tot u diens.”

Dis net ’n effense vlamflikkering wat verklap dat sy wel onthou.

Hierdie prentjie van blonde vroulikheid het gesorg dat sy eks met die helfte van sy besittings weg is, en dat hy feitlik van voor af moes begin. Hy weet net nie of hy haar moet wurg, of dalk die mooi bitterbekkie van dankbaarheid moet soen nie? Sy lewe het immers ten goede verander.

“Ek sal terugkom wanneer die pad begaanbaar is,” deel sy hom uit die hoogte mee. Die Porsche se enjin begin weer grom. “En, meneer Durandt, ek is nie ’n moordenaar nie. Ek het nie slagoffers nie.”

“Nee, advokaat, jy is nes die res van jou spesie. Julle word ryk uit julle regsgeleerdheid, maar geregtigheid is ’n vloekwoord in julle boek.”

Sianka se wysvinger timmer op die beheerknoppie, maar die ruit is traag om te reageer. “Tot siens, meneer Durandt.”

“Tot wederom, advokaat,” kom dit net voor die venster toegly.

“Nie indien ek dit kan verhelp nie,” kners sy.

Sianka het lankal die morsige pad agtergelaat, toe stoei sy steeds teen die begeerte om die vent se strot te gaan toedruk. Sy werk hard en sy is trots op haar reputasie as ’n advokaat wat haar tarief werd is. Waar kom hierdie Neanderdaller vandaan?

Haar vingernaels ratel in ’n taptoe teen die stuurwiel. Hoe is dit moontlik dat haar geheue vir gesigte haar vandag so skreiend in die steek gelaat het?

Dan weer … Watter vrou sou in elk geval die welgeklede grimgesigman van die hof met dié skepsel vereenselwig?

Die oneweredige huppel in haar hartritme ignoreer sy. Net soos sy destyds gedoen het. Die donker man, met sy donker hare, donker pak en ewe donker kyk, het sy opsetlik op die vergeet-werf gerangeer!

Sianka ontspan doelbewus haar doodsgreep op die stuurwiel en die Porsche skiet vorentoe toe die grondpad plekmaak vir die teerpad.

Gelukkig sal hulle mekaar nooit weer sien nie. Sodra sy vasgestel het wié Lenie van Bosbaai is, is sy terug in die stad. Daar kan sy ten minste vrylik asemhaal.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s