Dirna Ackerman: Kampvuurkonfetti

“Hy is myne, is hy nie?” grom Rudolph deur geklemde kake.

Lienka luister na haar hart wat op loop sit teen ‘n pas wat net een uiteinde kan hê – die hoësorgsaal in die harteenheid van een of ander hospitaal.

“Wat soek jy hier?”

“Antwoord my, Lienka!” Haar tande kletter opmekaar soos hy haar skud.

Sy verbreek die ystergreep om haar elmboë met ‘n sywaartse kap van haar polse en staan weg van hom af. Bang vir die gevoelens wat sy onverwagte nabyheid wakkermaak. Gevoelens waarvoor geen woordeboek ruimte maak nie. ‘n Soort woedende ekstase. Sy wil hom met haar vuiste bydam, maar weet klaar sy is nie bestand teen sy aanraking nie. “Nee, Rudolph. Hy is mýne. Net mýne.”

“Wie is sy pa?”

“Wat traak dit jou?”

“Dit traak my as dit my oë is wat terugkyk uit die gesig van ‘n seuntjie wat boonop nog my naam ook het.”

“Waar kom jy daaraan?”

“Komaan, Lienka, dink jy ek is onnosel? Ek herhaal, hy is myne, is hy nie?”

Die waarheid, weet haar kop is wat nou nodig is. Néé, skerm haar hart. “Biologies miskien,” loop ‘n soort van ‘n erkentenis outomaties by haar mond uit.

“Miskien?”

“Dit kan iemand anders ook wees,” gryp sy na wind, en het nie die glimmering in daardie stormblou oë nodig om haar te vertel dat sy haarself netjies in die kruisdraadjies van sy visier geplaas het nie.

Een lang tree van hom bring hulle lyf teen lyf en voor sy kan reageer, het hy weer haar elmboë vasgevat. “Jy vergeet bietjie, my liefie, maar dis ék wat daardie eerste aand langs die kampvuur saam met jou op die slaapsak was.”

Herinnering slaan in vlamme op haar wange uit. “Wat daarvan?” probeer sy steeds haar pad oop bluf. “Dit kon daarna gewees het.”

“Was dit?”

Haar tong is lam. Sy kan nie eens haar dorre lippe help nie.

“Was dit?” sy hande hou nou haar kop stil en sy blik delf in haar siel.  “Ek was jou eerste minnaar, en te oordeel aan jou onvermoë om te reageer, en dit wat ek in jou oë lees, ook die laaste, was ek nie?”

“Was ek nie?” grom hy toe sy hom ‘n antwoord skuldig bly.

Haar weerstand verkrummel voor dit wat sy op haar beurt in sy oë lees, haar hande vou oop teen sy bors. Sy kop kom stadig nader, maar net toe Lienka dink sy sal vergaan as hy haar nie soen nie, toe staan hy eenkant.

“Wat het gebeur?” grom hy.

“Wat be… bedoel jy?” spartel sy vir vastigheid.

“Lienka, ek is nie in ‘n bui vir speletjies nie.”

“Loop vra jou ma.”

“Kan nie. My ma het beroerte gehad. Sy is verlam en kan nie praat nie. Wat het sy buitendien met alles te doen?”

“Ek is jammer,” sê haar mond omdat die nuus dit regverdig, maar of haar hart daarin is, betwyfel sy. “Maar ek kan jou nie help nie.” Hy het nou die waarheid. Soort van. “Tussen jou en jou ma, sal julle maar die res moet uitpluis.” Sy mik by hom verby.

“O, nee.” Soos blits sluit sy hande weer om haar polse. “Hier staan ons tot ek die volle waarheid ken.”

“Rudolph,” kry woede meteens die oorhand en sy ontspan effens. Hier is uiteindelik ‘n emosie wat sy kan hanteer. “Mý waarheid het jy so pas gehoor,” vermy sy vernuftig daardie slaggat-woord ‘volle’. “Ja, Ruan is jou seun. Die res kan jy vir jou ma gaan vra.”

“Ek wil hom sien!”

“Nee!”

“Ek wil hom sien!”

“Watter deel van ‘nee’ begryp jy nie?”

Die greep om haar arms knel pynigend en sy pluk om los te kom. Sy houvas gee effe skiet, maar sy bly ‘n gevangene. “Lienka, kom ons verstaan mekaar mooi. Nie jý, of daai tamaaie Italianer by julle, gaan my van my seun af weghou nie.” Die greep verstyf weer. “Wat soek jy elk geval by hom met my kind?”

“Nou verstaan jý iets, Rudolph Baxter. As dit nie vir daardie tamaai Italianer was nie, was jou kind dalk nie vandag hier nie. So, die volgende negatiewe woord wat jy oor hom sê, sal jou laaste op hierdie ondermaanse wees. Ek sal jou met my eie hande help om te verhuis.”

6 thoughts on “Dirna Ackerman: Kampvuurkonfetti

  1. Suzie Combrinck says:

    Dirna, ek sou graag wou he dat sy ma sy seun moes leer ken en dat sy berou sou he oor wat sy gedoen het, dankie ek het die boek soos al jou ander, baie geniet.
    Suzie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s