Dirna Ackermann: Die ander erfgenaam

Anselie sug. “Ons veg met die rug teen die muur. Daai kasarm sluk nie net geld nie, dis besig om ons ook in te sluk.”

“Hoekom dink jy so?” vra Crafford, maar sy weet nie eintlik wat om te antwoord nie. Hoe kan sy haar finansiële kommer deel met ’n man wie se van sy nie eens ken nie?

“Omdat ons net gee, en die verdekselse plek net vat.”

“Wat is jou eintlike kommer? Tyd of geld?”

“Dalk albei,” gee sy toe. “Jy moet tog een of ander …” Sy weet nie hoe verder nie.

Hy red haar deur met klem te antwoord, “Ek gaan nêrens, nie, Anselie. My hulp is tot julle beskikking so lank soos dit nodig is.”

“Crafford, ek het jou al gesê ek kan jou nie betaal nie en begin voel ons maak misbruik van jou. Wat van jou eie lewe? Ek bedoel, jy kan darem seker ’n beter werk kry?”

Hy lag. “Vis jy alweer, Blondie?”

Net daar stroop haar draad. “Kyk hier, Crafford-wie-jy-ook-al-is. Jy vra die onmoontlike. Ek weet absoluut niks …”

“En dit pla jou.” Dis ’n stelling, nie ’n vraag nie.

“Ja!”

“Waarom? Wat maak dit saak waarvandaan ek kom, of waarheen ek gaan? My handearbeid is joune, ek kos jou niks behalwe ’n aandete en nou en dan bietjie koffie en beskuit nie. Waaroor kla jy?”

Anselie gaap hom aan. “Ek het g’n gekla nie,” grom sy dan.

Hy lag weer en trek skielik van die pad af. Hou stil en draai na haar. “Anselie.”

“Wat?” brom sy koponderstebo.

“Kyk na my. Asseblief?”

Sy gehoorsaam gedagteloos. “Wat wil jy hê?”

“Vir jou.”

Net twee woordjies in haar moedertaal, maar met die impak van ’n tsunami, en sy is haar woorde en haar asem kwyt.

“Moenie so verbyster lyk nie. Jy is net so bewus van die onderstrominge tussen ons, soos ek, al lyk jy asof jy nog nooit eens behoorlik gesoen is nie.”

Sy gaan nou enige oomblik in die sitplek insmelt. “W … wat m … moet ek nou daarop sê?”

“Dalk dat jy die waarheid erken? Dat daar van die eerste oomblik ’n vonk tussen ons was.”

“J … jy praat twak ma …”

Hy beweeg soos blits en die sin sterf teen sy bors. “Het jy ’n demonstrasie nodig, braambosmeisie?”

“Asseblief …” wil sy pleit dat hy haar moet los, want die tsunami gaan haar enige oomblik verswelg.

“Met plesier,” fluister hy op haar mond en toe duisel die aarde weg. Haar hand vou oop teen die geratel van sy hart onder haar palm.

Net so skielik sit sy weer op haar eie.

“Ek is jammer,” kom dit skor. Hy moet twee maal probeer voor die enjin vat. “Gelukkig is ons al mooi groot en hoef nie aan al ons begeertes toe te gee nie.” Die Jeep bokspring voor hy dit in die pad swaai. “Ek is hier met ’n doel en sodra ek gekry het wat ek soek, sal ons mekaar nie weer sien nie. Dus, hoe minder ons van mekaar weet, hoe beter.”

2 thoughts on “Dirna Ackermann: Die ander erfgenaam

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s