Cynthia Robertson: Meer as vriende

ʼn Uur later kom help hy haar op, sit langs haar op die bed en trek haar pantoffels aan wat hy uit haar chalet gaan haal het. “Ek kan nie in my jamies uitgaan nie,” protesteer sy flou.

“O nie?” vra hy. “Gaan jy dan dat ek jou aantrek ook, want jy gaan dit nie self regkry nie! Ons gaan kliniek toe, Dané, die mense wat daar is, is net so siek soos jy, so hulle gee regtig nie om wat jy aanhet of nie aanhet nie.”

Dané bly stil, en beur orent, net om te wys dat sy wel nog in beheer is. Die kamer kantel egter gevaarlik om haar en sy verloor amper onmiddellik haar balans.

“Mmmm, so gedink,” terg hy goedig. Hy tel haar op en dra haar na die Land Rover toe.

“Sit my neer, Jos, sit my neer,” mompel sy.

“Sjarrap.”

“Jy gaan jou rug seer maak.”

“Sjarrap.”

“Dis baie lelik,” mompel sy weer.

“Wat?”

“Hierdie sjarrap stories van jou. Jy’t nou die dag vir … vir … wat is jou neef se naam nou weer? ”

“Hermie.”

“O ja, Hermie, ook gesê om te sjarrap. Sies,” eindig sy vies.

“Ag, skuus my ding, ek sal nie weer nie. Maar jy’s net so balhorig soos Hermie.”

“Ek hou van H –”

“Nee hoor jy bietjie, ek blaas al! Jy’s klein, en ek is fiks, maar die bakkie is flippen ver, so bly stil, dan is ons nou daar,” hyg hy effens.

Dané giggel, en druk haar gesig onbeskaamd in sy nek in. Sy voel vreemd, so asof sy nie regtig hier is nie. Miskien is dit hoe mense voel wat dwelms gebruik, dink sy verlangs. Dis heerlik, sy vel is sag onder haar wang, en hy ruik hemels. “Mmm,” sê sy, en druk haar lippe teen die stoppelbaard op sy wang vas. ʼn Klein stemmetjie praat agter in haar kop en sê dat sy besig is om iets verkeerds te doen, maar die kloppende hoofpyn maak haar deurmekaar, asof iemand watte in haar skedel ingeprop het, en om haar lewe te red kan sy nie ontsyfer wat dit is wat nie reg is nie. “Jy ruik so lekker, soos … soos … soos wat ruik jy?” en druk haar lippe teen sy ken.

“Hei!” waarsku hy, maar daar is ʼn lag in sy stem. “Jy moenie my soen nie, more gaan jy spyt wees.”

***************************************

‘n Ligte klop aan die deur laat Dané haar japon stywer om haar trek. “Binne!” antwoord sy en die deur gaan oop, en daar staan Hermie, in lewende, flambojante lywe.

“Hello Doll!” roep hy en swaai teatraal by die kamer in, ‘n bottel sjerrie in die een hand en drie glase in die ander.

“Hermie!” gil Dané en spring verheug op om hom te groet. “Jy het gekom! Ag ek is so bly!” In haar haas stamp sy die haarkapster se trollie om, haar japon gaap oop maar sy gee nie om nie en storm op Hermie af.

“Ooee, maar jy is in a bad way! Sies, maak toe daai goeters, hulle doen niks vir my nie,” spot hy goedig en trek haar kledingstuk reg, sy wange bloedrooi.

Dané lag kliphard, sy is verheug om haar vriend te sien, maar net so vinnig as wat sy gelag het begin haar trane weer vloei.

Sue Marie is sensitief genoeg om op daardie oomblik te besluit om ‘n sigaret te gaan rook, en Hermie troos vir Dané. “Wat gaan aan, my ding? Of hoe kan ek jou nog so ‘n stupid vraag vra! Jy weet mos jy maak ‘n fatale fout om met hierdie man te trou, ek weet nie wat se self-marteling is dit met jou nie. Was jy dalk Joan of Arc in ‘n vorige lewe? Jou true love sit in Mosambiek seker ook amper reg om sy breins uit te blaas omdat jy met hierdie sotlike daad voortgaan!”

“Ag Herms, hierdie mense was vir my net goed gewees, ek kan dit nie aan hulle doen nie – Herms, wat is fout?” Hy is doodstil, vasgevries op sy stoel en sy oë verstar op Dané se trourok wat teen die kas hang.

“Daardie afskuwelike meringue, jou trourok, wie se idee was dit?” fluister hy, en soek in sy sakke na sy asma-pompie.

“Skoonma s’n,” fluister Dané skaam terug.

“Oee,” hyg hy en hou sy hand dramaties oor sy hart asof die skok vir hom net een te veel is.

4 thoughts on “Cynthia Robertson: Meer as vriende

  1. Alma Carstens says:

    Dit lyk heerlik, kan nie wag nie, Cindy! Ek het jou vorige boek gate uit geniet en hierdie een lyk ook na ‘n smulhappie!

  2. Cindy Robertson says:

    Hehehe Marile, jy maak my dag! Hy was ook my geliefkoosde karakter in die boek, een van daardie mensies wat net gebeur, self sy storie skryf. Baie dankie!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s