Chanette Paul: Willemien

Willemien speel in 1909/1910 af. Sy was as kind in ʼn konsentrasiekamp en verafsku die Engelse. Hierdie toneeltjie vind op ʼn luukse bootreis plaas. Willemien, Ryk Ruben se protégé en sy seun se goewernante,is gevra om aan die kaptein se tafel te sit. Die gaste is die room van die Britse hooggeplaastes aan boord.

 

Die voorgeregte is uit die heel boonste rakke en die wyn ook. Die gesprekke is lig en vermaaklik, asof selfs hierdie berese mense ook steeds opwinding op hierdie seereis ervaar. Willemien verluister haar aan die geselskap. Die beringde vroue praat merendeels oor operas wat hulle bygewoon het, kortstondig oor Kipling wat die Nobelprys ontvang het, Joseph Conrad se jongste boek, die saligverklaring van Joan of Arc en verder oor modes en hul ervarings in Kaapstad. Die mans bespreek die voor- en nadele van die Tin Lizzie, Kimmerling se vlugte in sy FlyingMatchbox en die politiek in Duitsland.

Sy sug heimlik. Dis so ’n verligting om nie heeltyd Suid-Afrikaanse politiek te hoor nie. Louis Botha is sus, ja, maar Hertzog is so … Hoe moeg raak sy nie soms daarvoor nie. Dis asof alles in Afrika ’n stryd is. Die kerk, die taal, die onlangse verlede, die toekoms.

“Ek sal my kop op ’n blok sit dis ’n Poiret-ontwerp wat jy aan het, miss Davel?” dring die stem van een van die jonger vroue tot haar deur. Lady wie nou weer? probeer Willemien onthou. Anne? Jane? Nee, Sarah.

Willemien bloos liggies. “Inderdaad,” is al waaraan sy kan dink om te sê.

“Ek verstaan gravin Greffulhe het een van sy ontwerpe na haar dogter se troue gedra en amper die bruid oorskadu! Dis waar sy faam glo begin het. Maar ek wonder tog hoe dit voel om so sonder …” Die admiraal se volborstige vrou twee sitplekke van Willemien af bloos effens. “So sonder julle-weet-wat rond te loop.”

“Wel, vra vir miss Davel,” giggel lady Sarah.

Willemien voel hoe haar wange vlam, veral toe sy besef Aidan se volle aandag is nou by die vroue se gesprek. “Ek dink nie ek wil ooit weer ’n korset dra nie,” sê sy dan onomwonde.

Die geselskap stol, asof sy die woorde uitgeskree het. Daar is nie een paar oë wat nie op haar bolyf rus nie.

“Bravo!” Aidan klap sy hande spottend. “Daar is hoop vir die vrou van die toekoms. Nou moet julle nog net stemreg ook kry.”

“Codswallop, Aidan.” Die gesette admiraal se formidabele snor tril van verontwaardiging. “As ek EmmelinePankhurst of daardie verspotte dogter van haar in die hande kry, trek ek hulle oor my skoot en gee hulle wat hulle toekom. Dis hulle wat die ander vroue oprui. Wat wil ’n vrou met stemreg doen?”

Aidan sit agteroor in sy stoel. Sy oë blink moedswillig. “Die vroue verskil dalk van jou, admiraal Greymont. Of hoe, Willemien?”

Willemien kan hom vermorsel. Hy weet baie goed dat hy haar in ’n uiters moeilike posisie plaas. “Ek kan glad nie insien waarom vroue nie stemreg kan kry nie,” besluit sy om eerlik te wees en maar die kritiek te verduur wat sy weet gaan kom. “En ek dink dit lê nie meer te ver in die verskiet nie, al klink dit nou dalk nog vergesog.”

“Vergesog is die regte woord. Dis presies wat dit is. Verbeel jou. Ethel sal nie eens weet vir wie om te stem nie, laat staan hoe.” Hy gee sy vrou ’n kyk wat veronderstel is om goedig te wees, maar in Willemien se oë grens dit aan minagting. “Sy kan nie eens haar personeel uit mekaar se hare hou nie, wat nog besluit wat die beste vir die land sal wees.”

Willemien voel ’n witwarm woede in haar opbou en weet dit spoel oor in haar gloeiende wange. “Hoe moeilik kan dit wees om ’n mens se gesonde verstand te gebruik en ’n kruisie op ’n stembrief te trek?”

“A, daar het jy dit. Dis die hele probleem. Ek moet nog ’n vrou met gesonde verstand ontmoet. Nee, miss Davel, jy is baie dekoratief – blink maar eerder daarin uit en laat die ernstige dinge oor aan ons mans wat weet wat in die wêreld aangaan.” Hy lag neerbuigend.

“Dis omdat dit mans is wat die politieke besluite neem dat vroue in konsentrasiekampe gegooi, verhonger en vir alle praktiese doeleindes vermoor word.” Die woorde is uit voor Willemien dit kan keer.

Die stilte hang soos ’n swaar wolk oor die tafel.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s