Annetjie van Tonder: Nuwe seisoen

Ronel Lategan sit die swaar tas neer en kyk op na die man hier voor haar. Binne sekondes neem sy alles omtrent sy voorkoms in. Dis seker die blouste van blou oë wat sy nog gesien het. En daardie lyf kan geen mens miskyk nie. Breedgeskouerd, lenig en lank. Hy is sekerlik haar jare, dalk bietjie ouer, maar die parmantige, blonde kuif verleen aan hom ’n jeugdigheid wat dit moeilik maak om sy presiese ouderdom te skat. Sy skuif haar blik terug na sy oë. Daardie frons pas hom glad nie. Sulke oë behoort vrolik te vonkel, maar nou is dit streng op  haar gerig.

“Dame, die leerlinge se ingang is aan die oostekant van die gebou, hierdie ingang is slegs vir die personeel. Ek neem aan jy bring jou dogter koshuis toe,” sê hy bruusk.

“Ek is ’n personeellid, Meneer, en is op pad na …”

Oorbluf kyk sy hom agterna toe hy sy rug op haar draai en wegstap sonder om te luister na wat sy sê. Verbrande ongepoetste man. Hy mag nouwel ’n netjiese agterstewe hê en die houding van ’n Griekse god, maar dit beteken niks as hy in hom ’n buffel huisves nie. “Ongeskikte javel,” brom sy en tel weer die swaar tas op. Plaas die vent aanbied om te help dra. Hoe kan hy dink sy bring haar kind koshuis toe as die skool eers oormôre begin.

“Ma is lekker vies vir die oom, nè,” sê Anri. “As hy nie so gou weggeloop het nie, het ek hom ook sowaar vertel hy dink hy’s kaas. Toemaar, ons sal hom seker nie sommer weer sien nie. Ek sal darem graag sy bakkies wil sien as hy moet agterkom wie ma is.

* * * * *

Toe sy die kantoor instap, voel dit kompleet of sy ’n straal koue water in haar gesig kry. Wat soek die buffel dan hier? Verlig merk sy dominee Jooste, die bestuursliggaamvoorsitter, ook in die vertrek. Dis gaaf. Dan wag hulle nog net vir die hoof. Buffel moet maar sy sê klaarkry en maak dat hy wegkom. Daar is ook altyd ouers wat wil kom kruip.

“Mevrou Lategan, goeie môre,” groet Deon Jooste vriendelik terwyl hy opstaan en haar ’n handdruk gee. “Baie welkom hier by ons.” Hy wys na die buffel. “Dis vir my ’n voorreg om ons nuwe hoof, doktor Frans Hugo, aan u voor te stel.”

Aarde, sluk my in, dink Ronel en dit voel of haar bene onder haar wil padgee. Dit voel of sy oë soos x-strale oor haar gly, asof hy alles aan haar probeer ontleed. Byna gehipnotiseer staar Ronel terug in die saffierblou oë. Sy wenkbroue lyk na twee gevaarlike vraagtekens. “Aangename kennis, doktor Hugo,” prewel sy en voel hoe haar slape klop.

“Aangename kennis, mevrou Lategan,” groet hy met ’n sterk, musikale stem. Met haar hand steeds in syne, kyk hy deurdringend na haar. “Het ons mekaar al voorheen ontmoet? Jy lyk half bekend.”

* * * * *

“Maak asseblief die deur toe, Mevrou,” sê hy toe sy die kantoor instap. Hy staan agter sy lessenaar en dit noop haar om ook te bly staan. Sy oë lyk koudblou en ’n spier spring in sy wang. Dit is die eerste keer dat sy hom regtig kwaad sien.

“Wat de duiwel het jou besiel om so ’n klip in die bos te gooi sonder om my vooraf daarin te ken? Besef jy dat ek nou weer arbiter tussen jou en Minnaar moet speel. Niemand het nog ooit gekla oor die speelterreinopset nie. Nou kom maak jy sowaar slapende honde wakker. Jy mag my na-ure rondneuk in ons privaatlewe, maar hier verwag ek dat jy met my sal saamwerk en my sal ken in sake. En …” hy kyk met vernoude oë na haar. “Jy hoef nie bang te wees dat ek my aan jou sal opdring as jy my hier in die kantoor wil spreek oor skoolsake nie. Ek moet kennis dra van alles wat in hierdie skool gebeur. Is dit duidelik, Mevrou?”

Sy oë spat vuur en sy sluk teen die vernedering. “Ja, Doktor,” kom dit skor oor haar lippe. “Mag ek nou maar gaan?”

Hy druk sy hande in sy broeksakke, “Ja.”

Bedremmeld draai sy om en stap uit. Gelukkig is daar geen siel in die kil, skemer gang nie. Die personeel is seker weer goed aan die gis oor die stugheid tussen hulle hoof en adjunkhoof.

2 thoughts on “Annetjie van Tonder: Nuwe seisoen

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s