Anna Penzhorn: Anderkant die morester

Deur die houtafskorting tussen die twee vertrekke van die padstalletjie, hoor sy die bariton. ‘n Diep stem  doen dit vir haar. Maar nie vandag nie.

Verlange en frustrasie vervleg met die veraf gedreun van branders. Die gemis aan haar pa is tydelik, maar haar en Stef se verhouding kry nie koers nie. Gisteraand het die onweerswolke weer tussen haar en die dokter opgebou. En die gevoel dat alles haar skuld is, maak dinge nie makliker nie.

Nonna se stem en die geur van varsgemaalde koffie skuif haar gedagtes op die agtergrond. Die vreemdeling antwoord en sy bespeur ‘n sweem van afmatting in die woorde wat deur die geborrel van die perkoleerder dring. Hy het dalk – soos die meeste vakansiegangers wat hier aandoen – ver gery, min geslaap en is flou van die honger.

Nonna kom soos ‘n sterk wind by haar verby en gryp na ‘n vatlap. “Die man soek na ‘n karavaanpark.”

‘n Pannetjie met bruin, hooggeryste muffins beland kletterend op ‘n stoofplaat. “Hy het die bordjie langs die pad gesien. Ek het gesê hy moet maar met jou praat.” Sy vee haar hande aan die blommetjiesvoorskoot af  en kyk oor haar skouer. “Hy kyk my snaaks aan.”

Bronwyn gaan in die opening tussen die kombuis en die aangrensende vertrek staan.  Hy sit met sy rug na haar gekeer, kyk oor die see uit. Binnelanders wil altyd oor die see uitkyk. Deur die glasdeur van die padstalletjie verblind die vroegdagson op ‘n mosterdgeel Hummer se voorruit haar. Die bonkige viertrekvoertuig met Vrystaatse registrasienommer, sleep ‘n ouerige Sprite.

Sy stap tot langs die tafeltjie. Maar toe hy opkyk en die bariton ‘n gesig kry, is sy spyt sy het nie na haar ingebore beskroomdheid geluister nie. Die reuk van gebakte brood vanaf die kombuis kom tot haar redding. “Môre. Ek kan die muffins aanbeveel. Hulle het pas uit die oond gekom.”

Sy wag dat hy moet reageer, maar sy verstrooide blik flits oor die horison en dan weer terug na haar. Hy het dalk sy rigting verloor of het nog nooit die see gesien nie. Maar dit is onwaarskynlik – ‘n man wat met so ‘n duur voertuig ry, kan gewoonlik ook duur vakansies bekostig.

‘n Supernova word gebore terwyl hy standbeeldstil na haar kyk. Om haar verleentheid weg te steek, vlieg haar oë weer na die Hummer – ‘n indrukwekkende voertuig, maar in teenstelling daarmee is selfs die gordyntjies van rooi-en-wit ruitstof voor die Sprite se vensters, verbleik. ‘n Ryk man met ‘n goeie selfbeeld of  ‘n arm man wat voorgee om ryk te wees, maak sy ‘n vinnige gevolgtrekking.

Maar dan kry die standbeeld  sy spraak en teenwoordigheid van gees terug. “Ek het ontbyt bestel. Sluit dit ‘n muffin in?”

Dit klink asof dit die belangrikste vraag van sy lewe is. Hy verskuif die selfoon en voertuigsleutels wat langs die sout- en peperpotjies lê, druk dan sy handpalms teen mekaar sodat die duime kruis. Netjiese hande, goedversorgde naels.

Sy tik met die pen teen die boekie waarin sy bestellings neerskryf. “Nee, maar ek sal sorg dat jy ‘n muffin ook kry.”

In die kombuisie walm die geur van spek en gebakte eiers teen haar aan. Werktuiglik sit sy ‘n muffin op ‘n kleinbordjie saam met bakkies botter en aarbeikonfyt. Nonna kan dit vir hom gee, besluit sy, maar tel dan die skinkbord op.

“Is jy Bronwyn?” vra hy toe sy weer langs hom staan, maar wag nie dat sy antwoord nie. “Ek verstaan jy kan my help om ‘n woonwastaanplek te kry.”

Die poniestert val oor haar skouer toe sy buk om die bordjie met die muffin neer te sit. ‘n Goeie ding sy het vanmôre die swaar, dik hare met nog ‘n rekkie aan die onderpunt vasgevang.

“Die woonwapark word nie juis meer gebruik nie. Daar is woonwaparke met beter geriewe op die strande hier naby – die staanplekke het elektriese krag en wasmasjiene vir klere.” Wat haar  laat wonder waarom hy nie soos die ander vakansiegangers, nie eerder daarheen gaan nie.

“Solank ek die see kan hoor.” Daar is ‘n koppigheid in sy stem wat haar nie aanstaan nie. Nie die soort man met wie jy onderhandel nie.

“Jy sal ‘n entjie verder aan die afdraaipaadjie kry, net na die huis. Nonna verkoop aas – indien jy beplan om vis te vang.”

Dit lyk asof  hy hom moet inspan om die diep keep op sy voorkop met ‘n stram glimlag te vervang. “Die grootste vis wat ek nog gevang het, is ‘n baber.”

Visvang is nie een van die passies in sy lewe nie, dink sy en wen die hare wat onder die rekkie uitsteek om ‘n wysvinger op. Die trek op sy gesig word ‘n volwaardige glimlag toe Nonna ‘n bord met geroosterde brood, spek, eiers en gebraaide tamatie voor hom neersit.

Uit die onderste laai van ‘n kombuiskas haal sy die besoekersregister van die woonwapark uit. Daarna maak sy die botteltjies met skulpe op die toonbank en kunswerke teen die mure met ‘n verestoffer skrik.

Die sinapses in die serebrale oerwoud van dertien duisend miljoen selle in haar brein maak ‘n verbinding wat haar ietwat vreemd opval – gedagtes aan haar pa skuif  tussen haar en haar nuutste skepping teen die muur in.

Dat Nico die familie in Griekeland na die afsterwe van oupa Andreas se suster sal gaan ondersteun, het sy as vanselfsprekend aanvaar. En sy het geweet sonder hom sal dit maar broekskeur met Nonna in die padstalletjie gaan. Maar die aanbod om Nonna af en toe te help, is grotendeels uit ‘n skuldgevoel gebore. Die geldjie wat sy maak met die skilderye wat Nonna vir haar verkoop, is ‘n welkom meevallertjie. Aan die ander kant was dit ‘n skooljaar met min vry periodes en meer as een leerplan wat verander moes word – sy het die vakansie verdien.

Die vreemdeling hou haar skelm dop. Niks eienaardigs daaromtrent nie. Volgens Nonna is haar lang bene, dun middel en blonde hare die regte kombinasie om ‘n man se testosteroon vlak die hoogte te laat inskiet. Siaanblou oë, ‘n vol mond en om soos ‘n ballerina te beweeg, dra ook by om van ‘n man ‘n gevalle held te maak. Nie Nonna se presiese woorde nie, maar dit is waarop haar beskrywing van ‘n man se feilbaarheid neerkom.

Eers toe hy die leë koffie koppie wegstoot, sit sy die boek voor hom neer. Toe hy die besonderhede neerskryf, hou sy hom ongemerk dop en stapel terselfdertyd die breekgoed op ‘n skinkbord.  Hy maak die tjekboek wat hy uit die agtersak van sy broek haal, oop sonder om sy oë van haar af te neem.

“Ek betaal vir ‘n maand.”

Sy sluk haar verbasing. “Hier is nie veel op Mgowenibaai te doen nie. Dis eintlik net die eienaars van die paar vakansiehuise wat hierheen kom.”

“Ek het besigheid om af te handel. Ek weet nie hoe lank dit kan neem nie.” Weer hoor sy die onversetlikheid. Hy is een van daardie eiesinnige mansmense wat sy nog nooit kon uitstaan nie. Stef is heeltemal anders en dit is waarom sy so baie van hom hou.

Die ablusieblokke moet skoongemaak word, val dit haar by. Mag Visvat  honger genoeg wees om sy verskyning te maak. Asof dit ‘n gebed is wat onmiddellik verhoor word, staan die biltong van ‘n man in die deur. Vandag gaan hy nie met ‘n gebedel wegkom nie. As Jerome, alias Visvat, vanaand onder die prop van ‘n botteltjie Klipdrift wil kom, sal hy daarvoor moet werk.

In die kombuis luister sy hoe die Hummer met ‘n lae gebrul wegtrek. Die wete dat die man met sy donker oë en beperkte woordeskat nie langer in haar onmiddellike nabyheid is nie, is soos ‘n las wat van haar wegval.

“En wie’s die meneer?”

Visvat  se weetgierigheid laat die stoof en kaste weer in haar gesigsveld kom. Die vraag is nie belangrik genoeg om op ‘n antwoord te wag nie, want hy vervolg in sy kry-my-jammerstem: “Hoe lyk dit met ‘n ietsie om te eet? En dalk ‘n lekseltjie koffie? My maag dink my keel is gister al afgesny.”

Sy hoor hoe hy die reuk van die koffie opsnuif. “Jy weet waar ek die skoonmaakgoed in die motorhuis bêre. Die man gaan in die woonwapark bly, sorg jy dat die plek silwerskoon is. Daarna sal ek jou betaal en kan Nonna vir jou ‘n bord kos gee.”

Deur die kombuisvenster volg sy hom met haar oë waar hy op die voetpad na die huis koers. Hy is so maer sy broek word deur genade bo gehou. Wie is die meneer, sluip Visvat se vraag terug in haar kop.

 

 

 

2 thoughts on “Anna Penzhorn: Anderkant die morester

  1. Anna Penzhorn says:

    Beste Bets
    Baie dankie, ek is self op my held verlief. Jy weet natuurlik hy is nie net beduiweld nie, maar ‘n hele paar ander stoute dinge ook.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s