Alta Cloete: Geur van vergifnis

Mariaan wag tot middagete  voor sy die sms stuur: Hoe lyk dinge vandag daar? Miss call as ek jou kan bel. Irriterend om die hele storie so uit te tik, maar sy wil nie misverstande hê nie. As Marius moet uitvind Katie voorsien haar gereeld van brokkies inligting oor sy lewe, is dié seker sonder werk en sý vir ewig in die buitenste duisternis. Of dalk verlekker hy hom so in die wete sy’s oor hom bekommerd, dat hy hul albei grootmoediglik vergewe.

Sy’t haar van Saterdag af gedaan bekommer oor die man. Of dalk is dit bloot haar gewete wat haar pla – sy is besig om ‘n arme hulpelose parapleeg in die steek te laat … Of dalk is sy nog banger hy mis haar glad nie. Sy kon skaars haar ore glo dat hy gister op die besige N1 na Lana toe gery het, blykbaar heel beskaaf gekuier het. Dalk is hy heimlik verlig om van haar, Mariaan, verlos te wees …

Mariaan stap uit op haar stoep, lang glas koeldrank in die hand. Sy’s baie meer lus vir ‘n koue bier, maar in werkstyd kan sy wragtig nie begin drink nie. Sy’s deeglik bewus dat haar rook- en drinkgewoontes veel te wense oorlaat. ‘n Mens moet in elk geval stompsinnig wees as jy nie Lana se bekommerde kyke opvang nie. Gelukkig weet sy van beter as om te preek.

Die missed call kom gou-gou. Katie sit gewoonlik  hierdie tyd met haar middagkos en die enkele sigaretjie wat sy haarself in werkstyd gun, op die patio, terwyl Marius met sy middagrussie besig is. Asof die man ooit enigiets doen behalwe rus … Dis juis sy probleem – hy’s verdomp verveeld. Dis tyd dat hy werk kry vir sy twee hande.

Moet sy dit waag om Lana se voorstel te volg? Gaan hy nie haar besigheid meer skade as goed aandoen nie?

“Jis, Katie, hoe lyk dinge daar?” Sy sak op die bank neer, lig haar voete op die oorkantste stoel, begin krap outomaties tussen Bruce se ore. “Is die man veilig in die kooi?”

“Nee, dinge is reg met my,” antwoord Katie gedemp, “maar die man is nie vandag homself nie … Wou ook glad nie kooi toe vanmiddag nie … Sit en foeter heeltyd voor die rekenaar. Was nogals vanoggend klaar op en gedress toe ek hier aankom.”

Mariaan se hart krimp van seerkry. Sit hy nou al helder oordag sy vreeslike goed en kyk op die internet? Is dit al wat oorgebly het van die dinamiese man  wat sy liefgekry het binne ‘n maand na Lana hom die eerste keer  na hulle woonstel toe gebring het? Hy’t haar gefassineer; sy het nog nooit tevore so ‘n indrukwekkende man ontmoet nie. Dodelik aantreklik met die spatsels grys in sy dik bos hare en die broeiende blik van ‘n diep denker.  Heeltemal buite haar liga.  Sy’t dit geweet, maar dit het niks gehelp nie. Sy was verlief en verlore. Is dit steeds. “Kon jy loer wat hy doen, Katie?” vra sy en voel soos ‘n fool. “Is dit …”

“Nee, nee, dis nie lelike goed nie … Lyk my hy het iets van die tuin in sy kop gekry … Iets gebrom van ‘n suurlemoenboom . ‘n Mens weet ook nie aldag hoe jy dit met die man het nie … As ek dit nie vir jou en Lana gedoen het nie, sou ek g’n sy nonsies opgevreet het nie.”

“Dankie, Katie,” sê sy nederig. “Ons waardeer dit. Ons is bekommerd …”

“Ja, ja, ek weet!” Sy kan haar voorstel hoe Katie met die sigaret beduie. “Solank julle net weet ek doen dit nie vir my gesondheid nie.” Mariaan glimlag. Katie was nog nooit een wat aan ‘n oormaat onderdanigheid gely het nie. Of aan doekies omdraai geglo het nie. Dié dat hulle twee so goed klaarkom.

“Hier staan ‘n yslike bak vol suurlemoene, wetie waar hy aan die goed gekom het nie. En vanmôre drink ons glads lemon tea. Wetie watse gier is dit nou nie, hy’t tot iets gebrom van lemon meringue … Hy moet net nie kom staan en dink Katie Carolissen gaat nou op haar oudag begin terte bak nie.”

Lana het ‘n suurlemoenboom in haar erf. Lana het een of ander snaar aangeraak in Marius.

Liewe Vader, behoede my, bid sy sonder dat sy dit regtig besef. Vir jare het sy teruggestaan vir haar vriendin, maar hierdie keer gaan sy dit wragtig nie weer doen nie. As Lana nou nog nie haar les met Marius geleer het nie, is daar die Here weet geen salf aan die vrou te smeer nie.

Sy pluk ‘n bier uit die yskas, drink lank en diep. “Ek’s nou daar – klim solank!” roep sy na haar werkers wat klaar is met hul middaguur. En onderskep Lukas se afkeurende kyk na die blikkie bier in haar hand. Vererg druk sy dit terug in die yskas. Sal maar vanaand kom verder drink – dan’s die ding in elk geval flat.

Wrewelrig gryp sy haar selfoon, skakel Lana se nommer. Nevermaaind werkstyd, sy moet weet wat sy moet weet.

“Lana, het jy en Marius gister opgemaak?” vra sy bars toe Lana antwoord.

“En waar val jy nou uit, Mariaan?”

“Klink my die man is heel betotteld vanmôre, neuk met suurlemoenbome en lemon meringue tert …
Lana is duidelik dik van die lag: “My liewe mens, ek het hom ‘n paar suurlemoene gegee … Hy’t gehou van die bakvol wat op my tuintafel gestaan het … Jy weet, die reuk as ‘n mens die blaartjies so vryf …”

“Ek wil weet of julle opgemaak het, Lana.” Sy weet sy’s onbeskof, maar dit keer haar nie. Dis hoe Lana haar ken. “Het die man weer sy spell oor jou …”

“Weet jy, ek het al baie onnosel dinge in my lewe gedoen.” Lana is nou kwaad, self ‘n ongehoorde verskynsel. Hierdie verdomde nuwe lewe van haar is ook party ente te veel vir vlees en bloed … “Maar so dom is ek nie.”

“Nou wat het dan aangegaan?”

“Presies wat ek jou vanoggend gesê het, Mariaan. Ons het gepraat. Hy het gesê hy’s jammer oor alles, en ek het dit aanvaar. So eenvoudig soos dit.”

“Is jy seker?” Sy voel by die minuut meer van ‘n gek, maar daar sal later genoeg tyd wees om haar te skaam.

“Ek het vir Wilhelm lief, Mariaan.  Ek gaan met hom trou, die meeste van my goed is al in ons nuwe huis … Kry dit in jou klapperdop, asseblief!”

“Oukei. Sorry.” Sy druk die rooi telefoontjie summier, loop badkamer toe om haar tande te gaan borsel. Verdomde bier smaak bitter in haar mond. Wat sal haar kliënte sê as sy in die middel van die dag met ‘n drankasem by die werk rondhang?

“Lukas, jy’s nie my pa nie,” val sy aan toe hulle in die bakkie klim. “Dis my saak …”

“Ek het niks gesê nie.” Lukas het dieselfde siekte as Katie – kliphardegat as hy die slag lus is. Oor goed wat niks met hom te make het nie.

“Enige mens kon sien …” Sy trek verwoed weg, so vinnig soos die dierbare ou dieselbakkie dit nou ook kan doen.

“Is jou gewete,” brom Lukas, “is oor jy weet jy’s verkeerd.”

2 thoughts on “Alta Cloete: Geur van vergifnis

  1. Suzie Combrinck says:

    Dankie vir ‘n baie mooi liefdesverhaal. Ek sien uit na Vivien en die kopdokter se verhaal en dan nog die drie verhale van die ses jongmense, ek hoop net elkeen se verhaal is ‘n volledige boek, dan is dit nog drie boeke en elkeen is vir my uniek. Ek maak gewoonlik my eie voorspelling en wanneer ek die boek lees, kyk ek in hoeverre ek reg voorspel het. Maak nie saak onder watter naam jy skryf nie of in watter genre nie, jy mag maar.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s