PROE-STUKKIES

Op hierdie bladsy plaas ons vir ons lesers spesiale lusmakertjies uit Romanzas wat binnekort gaan verskyn. Geniet dit – en hou die winkelrakke dop!

‘N MEERMIN VIR XANDER deur Rykie Roux verskyn in Mei:

“O, want jy laat my aan ’n meermin dink, mooie Marina.”

Sy moet lag. “’n Meermin?”

“Jy is so betowerend soos ’n meermin, net so betowerend en net so gevaarlik. Dis daardie syerige, blonde hare en ongelooflike blou oë van jou. Selfs jou naam is reg vir die rol. Maar jy weet wat met die meermin gebeur het toe sy op die verkeerde prins verlief geraak het, né?” vra hy en die vyandigheid is weer voelbaar in die lug.

Tog kry sy die indruk dat hy met moeite sy hande van haar afhou en dat hy nie kan help om heeltyd na haar te kyk nie. Die gedagte laat haar asem jaag en haar hart tamboerspeel in haar borskas. En sy besef dat hy nie in haar hokkie vir jong dokters gaan inpas nie. Dat hy verduiwels in geen hokkie gaan inpas nie.

“Wat het met haar gebeur?” vra sy hees.

Hy steek sy hand uit en raak met die agterkant daarvan aan haar wang. Dis ’n terloopse aanraking, terloops en vlugtig, maar dit voel asof hy haar vel brandmerk as sy eiendom. Sy sit roerloos vasgevang in ’n web van bekoring wat sy glad nie verstaan nie. En dit lyk asof dit dieselfde vir hom is. Of is dit net haar verbeelding?

Dan frons hy en kyk doelbewus weg en dit voel of sy iets moois vir goed verloor het.

“O, sy wou alles vir hom te wees en het nooit agtergekom hy sien haar nie eens raak nie. En toe sy nie sy hart kon wen nie en hy op iemand verlief raak wat wel sy taal praat, het sy in ’n stukkie seeskuim verander,” sê hy ernstig.

* * *

“Eina!” roep sy ten spyte van al haar selfbeheersing weer uit.

En kyk dan verskrik hoe die bloed uit haar voet stroom.

“Deksels, dis ’n diep wond. Jy gaan steke nodig hê,” sê hy bruusk.

Sonder seremonie tel hy haar op en dra haar verder van die see af.

“Hei, wat dink jy doen jy?” roep sy verontwaardig, baie bewus daarvan dat sy arms net so sterk om haar is soos daardie aand in haar woonstel.

“Kry jou op ’n plek waar ek daai bloeding kan stop,” sê hy kortaf.

’n Paar treë verder sit hy haar weer neer. Toe knoop hy haastig sy hemp los en skeur dit met lang, sterk hale aan die onderkant in repe.

“Wat maak jy? Wat van jou hemp?” roep sy verskrik uit.

“Maak ’n verband. Ek loop nie gewoonlik met spaarverbande in my broeksak rond nie, weet jy!” sê hy sarkasties.

“Ek het gesê ek sal regkom. Dis nie nodig dat jy my help nie,” sê sy styf, maar tog baie bekommerd oor al die bloed wat uit haar voet stroom.

“En ek het gesê jy moet stilbly. Ek moet konsentreer,” sê hy weer kortaf.

Sy het seer en sy voel misrabel om te ontdek dat hy haar regtig nie naby hom wil hê nie en nou het sy nog haar voet ook gesny en sy is baie lus om net daar aan die grens te gaan, maar sy byt op haar tande en kyk liewer wat hy doen.

Behendig bind hy die repe wat hy uit sy hemp geskeur het om haar voet, styf genoeg dat die bloeding ophou, kom sy agter. Die pyn is ook sommer beter danksy die stywe verband.

“En nou hospitaal toe,” sê hy en trek wat oor is van sy verflenterde hemp weer aan sonder om dit vas te maak. Hy tel haar weer op en gee haar skoene vir haar aan.

“Ek sal kan loop,” protesteer sy. “Sit my dadelik neer!”

Hy gee ’n laggie en sy voel hoe warm is sy kaal borsvel hier teen haar wang. Die bekende woudreuk is steeds deel van hom. Sy moet veg teen die begeerte om stywer teen hom aan te vly en sy manlikheid op te slurp.

‘N MAN OP SIG deur Dina Botha het in Maart verskyn:

“Waar in die wêreld gaan ek ’n appro-man kry?”

“’n Wat, Magriet?”

“Tannie Bessie van Vindmekaar sou nou gesê het wat ek nodig het, is ’n man op appro. Ek betaal vir hom, maar het die opsie om hom binne drie maande terug te gee. Geen vrae, geen verduidelikings nie, met ’n geld-terug-waarborg.”

***

Magriet hoor vinnige voetstappe en sug. Die oomblik van vrede is verby. Sy draai met ’n glimlag om en verwag om Louis te sien, maar dis die vreemdeling wat met moord in sy oë reg op haar afkom. Daar is soveel onbeheerste woede op sy gesig dat sy momenteel verlam is. Naarstig probeer sy ’n tree terugstaan, maar hy gryp haar aan die boarms.

“Wat dink jy doen jy?” kry sy dit met kort, geskokte asemteugies uit. Sy probeer haar uit sy greep losruk, maar dis asof dit net die vuur in sy oë aanblaas. Haar bene wil onder haar meegee.

Hy ruk haar styf teen sy bors vas en sis in haar gesig: “Jou klein gek. Het jy gedink jy kan met so iets wegkom? My ma is miskien goedgelowig, maar ek sien dwarsdeur jou streke.”

“Wat … wat bedoel jy? Wie is jy en wie … is jou ma?” kry sy dit hees uit.

“Moenie jou dom hou nie, jou klein flerrie. Ek het gesien hoe julle afspreek om mekaar hier te kry. Ongelukkig sal jy nou maar met my moet klaarkom. Ek is ten minste nie ’n getroude man nie en kan jou meer gee as wat ’n ou man kan.”

“Jy is besete …”

Voor sy haar sin kan voltooi, sak sy kop en word haar lippe in ’n woedende soen vasgevang. Sy probeer spartel, maar sy groot hand dwing haar om haar kop stil te hou.

Het hierdie aantreklike man uit een of ander inrigting ontsnap? En wat soek hy hier? Is hy nie dalk by die verkeerde huis nie? Sal oom Louis en tant Margeret haar ooit hoor as sy skree?

Stadig maar seker word sy van ’n paar dingetjies bewus. Sy harde, wrede lippe is nou sag en sensueel teen hare. Sy naskeermiddel ruik vars en manlik. Sy bors is breed en sy arms sterk. Een of ander tyd moes hulle hulle ystergreep verloor het, want sy een hand vroetel in haar hare terwyl die ander een stadig teen haar ruggraat afgly, asof sy vingerpunte op ’n ontdekkingstog is en sy … het geen benul hoe haar arms om sy nek beland het nie.

Haar mond word met ’n draaibeweging van syne bevry. Iewers is daar ’n sagte, gesmoorde kreun vol onbekende passie, maar sy het geen benul of dit uit haar keel of uit syne kom nie.

Stadig, baie stadig, maak sy haar oë oop. Die boeke en skilderye kom terug in perspektief. Die mal maniak het nou

heeltemal sy greep om haar lyf verslap. Sy donker oë is eintlik ’n diep, onpeilbare blou, dink sy onsamehangend, en die verwarring daarin waarskynlik ’n weerspieëling van haar eie. Sy kan haar rukkerige asemhaling hoor, so stil is die kokon wat hulle om hulle gespin het.

Magriet gee ’n tree agtertoe en voor sy oor haar aksies dink, tref haar handpalm sy wang.

ROMANSE IN BESERINGSTYD deur Cecilia Nortje het in April verskyn:

In haar badkamer gaan staan sy voor die wasbak en blaas haar asem stadig uit. Sy kry die skok van haar lewe toe sy haarself in die spieël sien. Haar oë skitter en haar tepels punt eroties onder die dun katoenmateriaal van haar top. Dis die koel oggendlug, besluit sy verskrik en vou haar hande skuldig oor die rondings, maar in haar hart weet sy dis Rahul se blik wat haar lyf so laat reageer. Van daardie eerste oomblik toe sy plat op haar rug in die straat in sy oë gekyk het, het hy dinge aan haar gedoen. Dinge waarvan sy tot dusver net in storieboeke gelees het. Begeerte, dis wat dit genoem word, erken sy met gloeiende wange aan haarself. Suiwer seksuele energie.

Kortasem skud sy die gedagtes af. Sy sal moet kophou en onthou met wie sy te doen het. Dit was maklik om haar daardie dag met die amperse tref-en-trap ongeluk te laat betower deur die aantreklike, sorgsame man, maar nou weet sy van beter.

Twintig minute later stap sy die kombuis vir ontbyt binne. Rahul sit reeds met ‘n stomende koppie koffie voor hom vir haar en wag. Sy vat die beker wat Saartjie na haar toe uithou in die verbystap.

“Dankie, Sara-Malat. Jy moet asseblief vandag al die beddens in die kamers oortrek, ons kry vanaand gaste.”

Sy trek ‘n stoel oorkant Rahul uit en gaan sit. “Daar kom vandag ‘n televisiespan plaas toe,” lig sy hom terloops in.

Sy wenkbroue lig verbaas. “’n Televisiespan? Om wat te kom maak?”

Uit die hoek van haar oog sien Liz hoe Saartjie met stil hande in die skottelgoedwater ook op haar antwoord wag.

“Hulle kom ‘n onderhoud met my doen.” Sy hou haar stem so ongeërg as moontlik, maar haar mond is skielik kurkdroog onder sy deurdringende blik. “Ek gaan aan die televisiereeks Landbouer Soek Liefde deelneem.”

Eers is daar ‘n verbaasde stilte, dan sit Rahul met ‘n smalende grinnik om sy mond terug. “Hoekom is ek nie verbaas nie?”

Liz sit haar koffiebeker stadig neer. “Wat bedoel jy?”

“Maar net dat jy elke vooropgestelde idee wat ek van jou gehad het, vervul. Vaal plaasjapie wat stad toe hol om ‘n man te vang en die mense wat vir jou omgee sonder ‘n tweede gedagte wegsmyt. Net om terug te jaag toe jy skielik besef jy kan munt slaan uit die plaas. Is jy desperaat vir aandag, of wat?”

Die belediging is so in die kol, dit ontbloot haar onderdrukte vrees om te sterf en haar diepgewortelde behoefte aan liefde so wreed, dat dit vir ‘n oomblik voel of haar wind uitgeslaan is. Toe word sy so kwaad dat dit voel of daar rooi sterre voor haar oë ontplof.

“Ja, ek is desperaat, Rahul Bekker,” sê sy afgemete. “Presies hóé desperaat, sal jy nooit weet nie.”

OP VOORWAARDE deur Linelle Venter het in Maart verskyn:

“Ek ken jou tipe. Julle pak ’n uitdaging aan asof dit ’n speelding is en wanneer dit te moeilik word of onaangenaam raak, saboteer julle die projek of gooi die handdoek in en verwoes almal se harde werk.” Die harde uitdrukking in die boer se oë stuur ’n rilling by Lisa se ruggraat af en net voor sy hom kan vra wie sy suigstokkie gesteel het toe hy klein was, gaan hy voort. “Ek sal nie toelaat dat jy dit aan hierdie plaas doen nie.”

Haar binneste kook van irritasie vir hierdie grotman wat haar met sy donker stem, fronse en afkeurende kyke probeer intimideer. Sy sit ’n geoefende, neutrale glimlag op haar gesig, maar kan nie die vuur in haar oë blus nie. “Wees baie versigtig om ’n stadsdame met ontwerperssandale te onderskat, meneer Russouw. Menige het al daardie fout begaan en was spyt daaroor.”

Uit die hoek van haar oog sien sy ’n beweging op die grasperk, maar steur haar nie veel daaraan nie. “Ten spyte van jou indrukke is ek nie ’n porseleinpoppie wat vir alles gril n … argh!” Haar stadsjapie-gil word gevolg deur ’n vreemde dansstappie soos sy probeer wegkom van die nat gevoel op haar voet, maar dit volg haar met ’n gesnork. “Aggenee! Het jy nog nie iemand anders gekry om te terroriseer nie?”

Die vlakvarkie steur hom glad nie aan haar gekla nie en hou aan om haar sandaalband met sy nat snoet te ondersoek. Lisa gril so dat haar maag teen haar ruggraat trek en sy hard moet sluk om haar oggendkoffie in te hou, maar dis die benoude smeekklank in haar stem wat haar die meeste afsit. “Kry asseblief hierdie ding weg van my af.”

“Hoekom? Hy hou van jou.” Die sarkastiese lag in die grotman se stem is genoeg om alle grille en benoudheid te onderdruk en dit vat meer wilskrag as wat sy gewoonlik nodig het, maar sy ontspan haar maag en kyk vanuit die hoogte na die lelike gediertetjie by haar voete.

“Wel, dan sal ek hom net maniere moet leer. En ook die waarde van ontwerperssandale.” En ek sal vir jou wys dat ek enige iets kan hanteer wat te doen het met ’n plaas. Sy besluit daar en dan dat sy haarself nou genoeg teen die boer verdedig het en met soveel vroulikheid as wat ’n dame met ’n babavlakvarkie om haar voete kan, begin sy wegstap van die chauvinis, maar stop na ’n paar tree. Sy draai om en kyk Ben uit die hoogte aan. “Net om seker te maak jy verstaan baie mooi, meneer Russouw. Ek sál hier bly en aan oom Charles se voorwaardes voldoen.”

Sonder om hom kans te gee vir ’n reaksie draai sy om en stap doelgerig na die lodge met Jasie al om haar voete, maar het skaars ’n paar meter gevorder toe die verblêrste boer se stem agter haar praat. “Wees dan môreoggend sesuur in die stalle. Ons ry patrollie.”

VIR GELD OF LIEFDE deur Arien Lubbe het in April verskyn:

Moeisaam dwing sy haar oë oop, knipper hulle ‘n paar maal om gewoond te raak aan die sonlig deur die gordyne wat die kamer in ‘n sagte blou gloed baai.

Blou?

Dadelik is sy wawyd wakker en kyk verskrik om haar rond.

Sy’s nie in haar woonstel nie! Waar is sy?

Sy spring regop, maar moet vervaard na haar kop gryp toe die hoofpyn haar vol tussen die oë tref. Sy kreun en kyk af, net om ‘n klein gilletjie te gee en onder die beddegoed terug te spring. Sy het net haar onderklere aan! O, genade!

Wat het sy gedoen? Waar is sy? Hoekom kan sy nie onthou nie?

Daar’s ‘n ligte klop aan die deur voor dit saggies oopgaan en ‘n ouerige vrou met ‘n skinkbord voor haar kom staan.

Die paniek wil-wil haar keel toetrek. Wie is die vrou? Is sy ontvoer?

Die vrou lyk gaaf en vriendelik, maar sy ken haar van geen kant af nie. Sy kom sit die skinkbord langs haar neer. Anza is nog steeds te verward om ‘n woord uit te kry, maar sy merk met dankbaarheid die hoofpynpille op die skinkbord langs ‘n glas lemoensap.

“Môre, juffrou, my naam is Martha. Roep tog asseblief as juffrou ietsie nodig het. Meneer Liam sal nou weer terug wees.”

Liam! Sy’s in Liam se huis! Verligting spoel deur haar.

Sy’s veilig. Maar die volgende oomblik verbleek sy weer. Sy is in sy bed, in haar onderklere! Sy kry ‘n verwese “môre”

en “dankie” gemompel, sit die pynpille in haar mond en sluk dit af. Sy’s nog besig om die laaste sap te drink toe Liam in die deur staan.

“Hoe voel Rooikappie vanoggend?”

Gepynig kyk sy na hom. Wat vir ‘n vraag is dit nou? Hy kan mos sien sy lyk soos iets wat ‘n vampier in die nag beetgehad het. En hy was die vampier. Haar hare moet seker soos Daisy de Melker s’n lyk en sy sal haar gunsteling-Jimmy Choo’s verwed dat daar maskarastrepe oor haar gesig lê. Sy maak haar mond oop om hom in te vlieg, maar ‘n gekwaakte “Wat?” is al wat sy uitkry. Hy glimlag en kom sit ongenooi op die bed se voetenent.

“Jy het my gisteraand vertel dat dit jou bynaam op skool was omdat jy rooi hare het.” Sy vee oor haar oë en trek haar hande deur haar hare. Wat het sy tog alles gisteraand gedoen en gesê? Sy vertel vir niemand van die Rooikappie-bynaam nie. Mense dink altyd daarna hulle mag jou nou maar so noem omdat jy hulle met die inligting vertrou het.

“O? Van gisteraand gepraat, ek …”

“Daar het niks onbetaamliks gebeur nie, jy kan ontspan.”

Aan die duiweltjies in sy oë kan sy sien dat hy hierdie situasie terdeë geniet.

“Definieer onbetaamlik.”

“Daar het niks gebeur waarvoor jy nie toestemming gegee het nie.”

Haar wange begin die kleur van haar hare aanneem en sy trek die lakens hoër teen haar ken op.

LIEFDESPALET (‘n tweeluik) deur Dirna Ackermann het in Maart verskyn:

1. Onwaarskynlike Minnaar.

Bianca hap die laaste brokkie roomyshorinkie, lek ’n vingerpunt af en stry teen die impuls om soos in haar dogtertjiedae, haar taai hand te hou sodat Henk dit met sy sakdoek moet afvee.

Die servetjie verkrummel onder haar eie skoonmaakpoging en sy vroetel verniet vir ’n snesie, glimlag verleë oor haar skouer. “Help.”

Met sy een arm steeds om haar, maak Henk haar hand met groot sorg skoon, kompleet asof dit ’n noodsaaklike lewenstaak is en Bianca verstil in afwagting. Haar mond was altyd die laaste stap in hierdie klein ritueel.

Teleurstelling rimpel deur haar toe die sakdoek in sy baadjiesak verdwyn, maar dan draai Henk haar om in die kring van sy arms, lig haar gesig en stadig, proe-proe, eet hy die roomys van haar mond af.

“Dit smaak lekker,” fluister hy teen haar lippe. “Ek weet net nie of dit jy of die roomys is nie. Ek sal weer moet proe.” Sy mond druk dieper, en dan soen hy haar met soveel drif dat die aarde onder haar voete wegval. Haar arms vou om sy lyf om te keer dat sy saamval.

Ná ’n soete ewigheid vat hy haar hand en woordeloos, sweef sy saam. Hulle moet vir ‘n loeiende ambulans wag en opeens kloof die snydende klank dwarsdeur Bianca se beneweling, forseer haar ru terug na die werklikheid.

Is dit dan waaragtig moontlik dat ’n vrou so onnosel kan wees?

2. Onvervulde Passie.

“Ek is jou geen verduideliking verskuldig nie, Coe Stern, maar aangesien jy blykbaar blind is…” Ansa vat-vat aan die toiings. “Ek het my hare gesny.”

Hy knik stadig. “Is dít wat ’n mens dit noem? Ek dog dis ‘kerf jou hare af met ’n stomp mes om jou landlord te spite’.”

Hierdie man se vermoë om so sonder toestemming haar maskers af te ruk en haar met haarself te konfronteer, is besig om die lewe uit haar uit te ontstig. Sy plooi haar gesig in reine onskuld. “Nou waarom sou ek so iets wil doen?”

Die glimlag wat sy ferm mond skeef pluk, is die soort waarvoor ’n meisie met enige gesonde oordeel holderstebolder behoort te vlug. Haar hart land in haar maag en kom soek toe permanente lêplek in haar keel.

Voor sy mooi besef wat hy beoog, vroetel sy hande deur die gestroopte saailand op haar kop terwyl sy blik hare hou. “Ek weet nie, liefie, sê jy my?” Een wysvinger kom rus liefkosend in haar kuiltjie waar sy weet die geratel van haar hart sigbaar is. “Of miskien is dit beter dat ek en jy dinge liefs nie te diep probeer analiseer nie.”

Ansa staar gehipnotiseer na sy mond terwyl hy die woorde vorm, lek oor haar eie droë lippe en sien hoe sy oë die beweging volg.

“Jy sien, liefie, ek het so ’n spesmaas dat die wêreld dan ’n bietjie warm kan raak,” fluister hy hees. Die vinger trek haar onderlip se buitelyn na en maak dan plek vir sy mond.

En suutjies, baie suutjies, ontvlam ’n wegholbosbrand in Ansa.

HAAR ANDER HELFTE deur Annetjie van Tonder het in Maart verskyn:

Hy hou voor haar stil, klim van die bromponie af en druk haar teen sy bors. Haar arms sluit vanself om sy nek. Die bekendheid van sy lyf, sy liggaamsgeur, sy arms om haar, oorweldig haar so dat sy haar trane nie kan keer nie. Dis seker die laaste keer dat sy so by hom sal kan staan.

Hy lig haar ken met sy vinger, soen haar op haar nat wange en toe op haar mond. Sy maak haar los uit sy omhelsing en proe die sout van haar trane op haar lippe.

Hy trek haar weer teen hom en streel haar rug tot sy begin ontspan. “Ek het so baie om te vertel,” streel sy stem oor haar en sy krimp innerlik ineen. Anna Maria? Alles voel sommer net deurmekaar. Hier staan sy in sy arms en so pas het hy haar gesoen. Waar pas Anna Maria in? Meer nog, waar pas sý in?

“Spring agterop, dat jy kan voel hoe ry hierdie blikperdjie,” onderbreek hy haar gedagtes, “daar’s baie waaroor ons twee moet gesels.” Sy donker oë brand in hare.

Gedweë klim sy agter hom op, vas teen sy regop rug. Sy sug sag. Alberto del Piero, ek sal jou altyd liefhê, al moet ek jou ook laat gaan.

. . . . . .

Hy tel haar op en lê haar sag op die koningsgrootte bed neer. “Ek wil eers net na jou kyk,” sê hy teer en sy oë gly koesterend oor haar. “Ek gaan nie haastig wees nie, ons het al die tyd in die wêreld.” Hy kyk diep in haar oë. “Jy is pragtig, my lief en baie begeerlik.” Veerlig beweeg sy vingers stadig en strelend oor haar lyf tot sy later bewend na hom lê en kyk. En toe drink hy uit sy eie fontein en sy eet van die appels uit sy boord en hulle raak een.

GENOEG IS GENOEG  deur  Madelie Human het in April verskyn:

Daar is ‘n kort stilte terwyl sy toekyk hoe hy sy hare droogvryf. “Hugo, ek …” Sy swyg radeloos, vroetel met die rok se soom. Hoe gaan sy vir hom vertel dat sy geen geld het om hom terug te betaal nie?

Hy loer onder sy handdoek uit na haar, sy oë alsiende. “Moenie bekommer nie. Ons sal ‘n plan maak.”

“Watse plan?”

Eers antwoord hy nie en die onbeantwoorde vraag huiwer ‘n hele paar tellings in die lug rondom hulle terwyl hy steeds sy hare met die handdoek vryf, praat dan ongeërg. “Ek het plan B reeds in werking gestel vroeg vanoggend.”

“Wat?”

Hy kam sy vingers deur sy hare en laat die handdoek om sy nek hang. “Ek sal jou sê sodra ek weet of dit gaan werk. Moenie jou mooi koppie daaroor breek nie.”

Sy vererg haar skoon onbekeerd vir sy meerderwaardige houding.“Wat? Sal jy met jou meerdere, manlike intelligensie ‘n slim plan beraam, terwyl die vrou wat so dom soos grond is soos ‘n versiering op die stoep sit en mooi lyk?”

Sy diep lag bons oor die swembad se water en weergalm oor die werf. “Vir iemand met swak enkels spring jy darem baie vinnig op jou perdjie, Blondie.”

Sy snak na asem. Die vermetele mansmens. “Blondie? As ek my sonde nie ontsien nie …”

“Sal jy wat …? My gryp en my karnuffel?” Hy vryf sy rug energiek met die handdoek en spot nou openlik heerlik met haar.

Sy haal diep asem, tel tot by tien en weer terug. Hy’s natuurlik een van die mans wat blondine grappies loop en vertel en dink dis vreeslik snaaks. “Jy geniet die oorhand wat jy oor my het terdeë en ek kan absoluut niks daaromtrent doen nie, maar jy moenie dink jy kan met my mors nie, Hugo Nell.”

Hy lag saggies, staan op en kom buk oor haar met sy hande weerskante op die rolstoel se leunings. “Mors is nou nie juis wat ek in gedagte het vir jou nie, glo my, juffrou Brink, maar ek sal nog dink hoe jy jou skuld aan my gaan terugbetaal.”

Sprakeloos staar Ansu in sy intense bruin oë omring met die klam, swart wimpers. Sy gesig kom al nader na hare toe. Sy hou haar asem op, lek onwillekeurig oor haar onderlip en sien hoe die beweging sy blik onmiddellik daarheen trek. Lank staan hy so. Daar is ‘n asemlose stilte tussen hulle. Gaan hy, of gaan hy haar nie soen nie? Haar lippe prikkel behoorlik in afwagting.

16 thoughts on “PROE-STUKKIES

  1. Alma Carstens says:

    Ek kan ook nie wag nie, maar dit sal seker ‘n eeu vat voor die boeke by my uitkom. Lyk my mos ons pos kom met ‘n donkiekar van SA af hiernatoe! Veral as ek haastig is om dit te kry.

  2. Anzel says:

    As ʼn toekomstige jong skrywer by Lapa, kan ek nogal baie by julle leer. Ek het reeds my eerste manuskrip ingestuur vir oorweging, wag nou om van Lapa te hoor.
    Ek beskou myself as ʼn amper-verslaafde aan die ROMANZA reeks. Ek lees dit, proe dit, leef dit. Nou skryf ek dit ook. Hopelik verskyn my eerste proe-stukkie eersdaags op hierdie blog…

    • Madelie Human says:

      Anzel, jy is vreeslik welkom hier op die blog. Loer gerus ook op jou gunsteling skrywers se eie bladsye in en vertel hulle wat jy van hulle boeke dink. Hoop jou skryfwerk is suksesvol!

      • Anzel says:

        Dankie Arien en Madelie. Ek het dit nogal nodig. As n baie jong skrywer vat dit nogal moed om n manuskrip in te stuur. Ek is 22 en wil al my hele lewe lank skryf. Ek het soveel stories wat ek in my kop ronddra en wil dit net vertel. Nou wag ek maar. Hopelik is my eerste manuskrip die begin van groot dinge. Ek was al by n paar kursusse en glo, al het ek nog baie om te leer, dat dinge nou vir my gaan begin gebeur.

        Ek sal julle laat weet sodra ek iets hoor :-)…

        • Alma Carstens says:

          Sterkte Anzel, ons almal ken daardie gevoel van wag … wag … wag … Ons hou styf duimvas dat jy binnekort met jou eerste boek in jou hande kan spog. Dis absoluut wonderlik om te hoor daar is sulke jong mense soos jy wat liefdesverhale skryf.

  3. anngert says:

    Ek stem saam, Arien. Sien uit daarna om jou boek te lees. Dirna, jou boek lyk liplek-lekker. Linelle, joune ook. Dit lyk my ek gaan baie geld uitgee op boeke.

  4. Rykie Roux says:

    Baie geluk, al julle Maartskrywers, dit lees heerlik en julle boeke lyk boonop te pragtig in die nuwe Romansenuus, wat ek gister in die pos gekry het!

  5. Marietjie Welgens says:

    Julle het my nou skoon jaloers. Daarom gaan ek vir die volgende drie weke verlof vat om my manuskrip klaar te maak. Ek wil ook iets op die Proe-stukkies hê.
    Tot oor drie weke dan … totsiens en mooi bly!

  6. Madelie Human says:

    Dankie, julle!

    Annetjie, verbeel ek my, of het die klere gewaai? Njammies!

    Dirna, ek gaan hom vir my bestel.

    Arien, ek sien uit na April se boekpakkie!

    Linelle, is jy seker jy is Engelssprekend?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s