Gunstelinge weer terug!

HARTEWENS − Madelie Human

Hartewens voorblad_high res

Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van Madelie Human se vorige Romanzas:

Onwelkome geskenk:

Marile Cronjé se buitengewone verjaardaggeskenk is alles wat sy nié wou gehad het nie, want van haar oupa se gekonkel het sy net mooi genoeg gehad. Boonop moet sy die lewe se donker kant leer ken met die oog op ’n erflating wat sy nog minder wil hê.

Kan sy die aantreklike, enigmatiese Werner vertrou? Is hy nie net nóg een van die vele wat agter haar geld aan is nie? Sy kry die antwoord klinkklaar in oupa Jopie se brief, maar besef kort voor lank dat haar vooroordele haar insig verdof het.

Eers toe sy werklik na haar hart luister, kan sy haar regmatige verjaardaggeskenk – én geluk – opeis.

Handomkeer:

Om uit Johannesburg se agterstrate te kom en jou pad oop te veg tot jy een van dié wynmakers in Suid-Afrika is, sit nie in enige meisie se klere nie. Maar dit is wat Bea regkry.

Dit is egter nie ’n baie goeie begin as mens jou nuwe werkgewer op straat byloop en so te sê aanrand nie. Maar dit was tog net ’n misverstand. Gaan hy nou vir altyd so stuurs wees en haar met so min dinge vertrou?

Maar haar baas is toe nie so befoeterd nie en die man word gaandeweg belangriker as haar afkoms. Hy verander in ’n handomkeer. Wel, tot hy haar in ’n verdagte situasie betrap …

 Le Fleur se hartebreker:

Vir hierdie man moet sy ligloop, dit weet Janneli sommer in die eerste week wat sy as Le Fleur se gastehuisbestuurder begin werk. Sy reputasie as dié hartebreker in die Franschhoekvallei het hom immers vooruitgeloop. En hy weet dit nie, maar hierdie wynplaas is glad nie vir haar onbekende terrein nie.

Baie gou blyk dit dat sy nie verniet op haar hoede was nie. Trouens, hy gaan met haar ’n weddenskap aan dat sy voor die oestyd verby is, nog een van die vrouegesigte in sy berugte album sal wees!

Janneli aanvaar dit. En geen meisie gaan ’n weddenskap aan as sy nie ’n taamlik goeie kans staan om te wen nie.

HUIS VAN DIE WIND − Sophia Kapp       

Huis van die wind

Lank staan Juan-Carlos na die slapende kind en afkyk, dan krul sy hande vasberade om die bababedjie se reling en hy trek sy asem diep in. Hy sal hierdie ding wen. Hy sál! Hierdie onkeerbare, onsinnige bruising wat elke keer in hom opstoot wanneer hy die vroumens sien, gaan hy uitroei, wortel en tak.

Sy is heeltemal buite sy bereik, verdomp! Kyk net hoe het sy vandag gelyk – die ene klas en styl en duur elegansie, met daardie somerblou oë en die vel so glad en wit soos albaster. ’n Regte, egte English rose, kompleet met erfgrond en ’n geslagsregister wat sy stellig kan terugtrek tot by Hendrik die Seevaarder. Wie is hy? Isabella D’Oliveira se weggooikind wat tussen kratte tamaties en streepsakke mieliemeel grootgeword het.

En sy’s boonop ’n ander man se vrou.

Al wat moet gebeur, is dat sy onnosel hart moet aanvaar wat sy kop lankal weet: dat Rosalie Harrington-Jones net so pragtig en koud en onbereikbaar is as die bliksemse Aandster en dat sy is waar sy veronderstel is om te wees: aan die sy van ’n Engelsman met ‘n lang bolip en ‘n Jaguar. Laat hy wat Juan-Carlos is liewer sy emosionele energie reserveer vir die gesin wat wel aan hom toevertrou is.”

Die afgrond tussen hulle is so onoorbrugbaar soos die Drakensberge se donkerblou klowe: sy is Boere-adel, een van die stoere Jordaans; hy is die Portugese kafeebaas se seun. Haar loopbaan het haar buiteland toe geneem, sy hart lê hier in Afrika. Daar is Henriëtte Jordaan se onversetlike vooroordeel teenoor KwaMoyeni se mense; die sjef, Thandi, wat na haar kyk met haat en afkeer in haar donker oë; en die klein seuntjie, Danny, wat teen Juan-Carlos se bors aanleun en duidelik die man se hart in sy klein handjie hou.

Toe Rosalie egter teen wil en dank vir Juan-Carlos D’Oliveira op KwaMoyeni moet gaan werk, kom sy stelselmatig tot die besef dat dít wat die gemeenskap – en veral Henriëtte Jordaan – al die jare heen oor hom loop en skinder het, nie die volle waarheid is nie. Dis ’n fyn siel wat in daardie groot lyf woon, iemand met oneindige begrip en deernis vir mense, iemand wat haar weerstand dag na dag wegkalwe en haar weerloos voor die omvang van haar eie liefde laat.

Maar dis eers toe sy die donker, wrede geheim ontdek wat op KwaMoyeni gehuisves word, dat sy besef: daar is ’n prys om te betaal, en sy is eintlik daarheen gebring om die rekening te vereffen.

Gaan al die verskille, die misverstand, die manipulasie en die bagasie van die verlede hulle uitmekaar dryf, of kan liefde, vergifnis en aanvaarding die heling bring wat hulle al twee so nodig het?

One thought on “Gunstelinge weer terug!

Leave a comment