Man met ’n missie uit ’n Man vir altyd

man vir altyd (2)

Mignon se kop ruk op. Liewe hemel, weet die man dan nie ’n mens vra nie sulke persoonlike vrae nie? En dit sommerso uit die bloute! Hier sit hulle ewe vredig, hy lees sy boek en sy sorg dat elke jota en titteltjie van haar werk perfek sal wees wanneer sy oor nege dae hier uitstap, en dan haak hy sommer met só ’n vraag af.

Maar hy sal nog die nuwe Mignon leer ken. Eerlikheid is maar een van die dinge wat sy op haar lysie geskryf het. En sy haal daardie lysie elke oggend en elke aand uit haar boonste laai in Francesca se huis; lees hom, bedink hom, droom oor hom.

Sy sal ’n selfstandige, gebalanseerde, gelukkige vrou word. Nee, nie koeklik nie. Inteendeel. Sy wil pret ook hê, baie daarvan, verkieslik saam met die man wat sy liefhet.

Daar is egter ’n klein probleempie – die algehele gebrek aan so ’n man. En die agterdog teenoor die manlike geslag wat Siebert finaal by haar ingeskerp het ná die deeglike grondslag wat haar pa gelê het.

Op die bank oorkant haar het Loekie orent gekom, sy Zane Grey weer in sy agtersak gesteek. “Ek sê . . .”

Mignon sien die groot horlosie bokant Loekie se kop. Nog ’n tydjie voor die ellendige klas begin. ’n Reguit vraag verdien seker ’n reguit antwoord. En die nuwe Mignon weet daar’s nooit ’n beter tyd as nou nie.

“Nee.”

Hy gaan staan in die middel van die vertrek, halfpad na haar toe. “Nie? En dit ná alles . . .”

“Wat het jou ma-hulle jou alles van my en Siebert vertel?”

Snaaks genoeg is hy nie gretig om haar dwaashede in detail voor haar uit te stal nie. “Minnie, dis verby, hoekom wil jy alles nou weer oprakel? Ek wil net weet of jy al oor hom is. Dis mos darem al ’n stuk of twee, nee, amper drie maande gelede se dinge.”

Die verleentheid spoel warm oor haar. Hy weet alles, hy weet dan selfs presies wanneer sy die grootste stommiteit van haar lewe gepleeg het.

“So jy is wragtig nog erg oor die man? En dit terwyl hy en jou ma …”

“Ek wil nie oor my ma praat nie.” Sy skakel die rekenaar af, draai na Loekie, wat nou teen die toonbank leun. Daar is geen spot op sy gesig of in sy oë nie, net . . . Wat? Sy weet nie. Omgee, dalk? Empatie?

Sy sal haar wat verbeel. Sy kan nie net omdat Henri en Francesca haar onder hulle vlerk geneem het nou sommer aanneem die hele wêreld het meteens in ’n roostuin verander nie.

“Dis gesond om oor goeters te praat, dit help jou daaroor kom. Ek’s net so goed soos die beste sielkundige.”

Die gedagte om haar ellendes vir ’n vreemdeling te sit en vertel, vervul haar eenvoudig met afgryse. Buitendien, wie sal betaal? Van haar ma wil sy niks hê nie, nooit weer nie.

Vir Henri-hulle sal sy sowaar nie toelaat om dit te doen nie, al weet sy hulle wil graag en hulle kan dit deeglik bekostig. Hulle is albei goeie sakemense, Henri met sy rekenaars en sy hondetelery en Francesca met haar kunsgalery. Dit gaan hel genoeg wees om haarself te onderhou met naweek- en vakansiewerk by hulle besighede en op skuld te swot. Maar sy sal dit doen, sy sal, sy sál.

“Ek weet dis gesond om te praat, maar ek kon dit nog nie regkry nie.”

“Jy bedoel jy’t niemand nog vertel nie?”

“Natuurlik moes ek vir Henri en Francesca vertel, die hooftrekke. Ek het hulle ’n yslike klomp ongerief en verleentheid aangedoen en hulle was vir my net eenvoudig goed en goed en goed.”

Soos altyd raak sy tranerig as sy dink hoe hulle haar in Durban gaan haal het, hoe Francesca haar in haar huis ingeneem het. Nooit in der ewigheid sal sy hulle kan terugbetaal nie. Eintlik behoort sy verniet vir hulle te werk, vir die res van haar lewe op haar knieë voor hulle te kruip. Maar dis nie wat hulle wil hê nie. Nee, al sal sy dit nooit verstaan nie, kan sy nie anders as om te glo Francesca en Henri wil haar werklik net gelukkig en op koers sien nie. Geen skelm gekonkel nie, geen verskuilde agendas by daardie twee nie, net doodgewone goedheid.

Loekie kom om die toonbank, kry sy sit langs haar rekenaar, bo-op haar papiere, en kyk na haar met ernstige oë tussen weelderige, donker wimpers. “Wil jy my vertel?”

Sy kyk op na hom met ’n gevoel êrens tussen vrees en blydskap, iets vreemds en verskrikliks en opwindends. Iets wat sy nie ken nie en wat sy bitter graag wil hê.

Nou beskikbaar by LAPA Uitgewers: http://bit.ly/2vsSapY

Advertisements

2 thoughts on “Man met ’n missie uit ’n Man vir altyd

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s