Alles is perfek – Dina Botha

Alles is perfek voorblad_high res

Sondagoggend moet laatslaapoggend vir die Krynauws wees want sy is eerste in die eetkamer. Sy kry vir haarself van die kos in die elektriese warmbakke en dra haar bord op die terras uit. Van die vorige dag se reën is daar nou geen spoor nie. Die lug ruik egter vars en sy neem ’n paar diep asemteue voordat sy by ’n tafeltjie op die terras langs die swembad wil gaan sit. Toe trek iemand in die swembad haar aandag. Nuuskierig loop sy nader net om ’n mansfiguur onder die water te sien. ’n Paar meter verder breek sy kop deur die oppervlak en sy trek haar asem om ander redes in. Simon bereik die ander kant van die swembad, draai om en swem in haar rigting. Sy oorweeg dit om haar ontbyt elders te gaan eet, maar dis te laat. Hy het haar reeds gesien. Hy lig sy hand in ’n groet.

Simon vee sy hare behoorlik uit sy oë, en nat is dit nog langer. Die reguit hare laat hom vreemd lyk, maar nie ’n titseltjie minder aantreklik nie. Hy lig hom uit die water en tel sy handdoek op. Hy droog hom af en met sy oë op haar gerig, loop hy nader terwyl hy sy hare droogvryf.

“Môre, Emma, lekker geslaap?”

Waterstrepies vorm op sy bolyf wat hy pas afgedroog het en toe hy voor haar staan, is sy bolyf met hoendervleis oortrek. Emma sluk swaar en onthou dat hy haar ’n vraag gevra het.

“Baie lekker, dankie.”

Sy manlike tepeltjies is kliphard van die koue en sy wonder of hy daarvan bewus is. Sy borskas beweeg net liggies op en hy hyg nie juis na asem nie. Dit beteken dat hy waarskynlik fiks is. Haar oë bly op sy bors vasgenael waar hy ’n paar borshare drooggevryf het. Haartjies wat nou soos goue draadjies op sy goedgevormde bolyf blink.

“Pasop, jou kos gly van jou bord af,” waarsku hy dringend.

Emma was nie bewus dat haar hele wese in stomheid voor hom staan nie en haar wange word warm. Sy herstel dadelik haar bord na sy oorspronklike horisontale posisie. Sy spartel om haar gedagtes net weer normaal te kry.

“Ek neem aan Lente het ook lekker geslaap. Ek het haar nie een keer hoor huil nie.”

Simon se wenkbroue wip in die lug. Hy is beslis nie bewus van die feit dat sy snags vir Lente kan hoor huil nie, dink Emma. Ook nie dat sy lê en luister tot alles langsaan weer rustig raak nie. Hy weet nie dat sy agterkom hoe Lente se stem verander het nie. Van ’n pasgebore baba se skril geskree het dit in ’n veel sterker stemmetjie ontwikkel.

“Ek is jammer, ek was nie bewus daarvan nie. Moet ek Martie vra om eerder vir jou ’n ander kamer reg te maak?”

“Nee, dis nie nodig nie. Lente se wakker word in die nag pla my glad nie. Het jy vanoggend al geëet?” herinner sy hom aan ontbyt.

“Nee, maar ek wil eers gaan aantrek. As jy hier buite staan, neem ek aan die res slaap nog?”

“Ek het niemand raakgeloop nie.”

Simon kyk na die bord in haar hande. “Jou kos is koud. Hoekom sit jy dit nie iewers neer en wag vir my in die eetkamer nie? Ten minste het ons dan geselskap.”

“Nou goed, dis buitendien ’n bietjie koel buite.”

Simon draai die handdoek om sy heupe en sy nat swembroek, en Emma kyk hoe hy vinnig wegloop. Van agter lyk sy lyf net so aantreklik soos van voor. Hoekom sy ’n diep sug gee voordat sy eetkamer toe loop, weet sy nie. Dalk is dit omdat sy haar vir haar simpel irrasionele gedagtes vervies het. Sy wat nooit in kêrels belanggestel het nie, wat met die eerste man getrou het wat haar uitgevra het, tree soos ’n hormoonbelaaide tienermeisie op. Haar hart bons en haar speeksel droog op net omdat sy teen ’n kaal borskas vasgekyk het. Dis nie of die man wat soos ’n engel lyk, haar ooit interessant of mooi gaan vind nie. Mans wat so mooi is soos hy, kyk na ander mooi mense.

Emma wag langs die tafel vir Simon en toe hy minute later oorkant haar sit, is sy hare droog en ruik hy vars. Sy bruin T-hemp weerkaats in sy oë en sy is weer daarvan oortuig dat daar geen naam vir sy spesifieke kleur irisse is nie.

“Jy het genoem jy hou nie veel van sport nie, maar wat van swem?”

“As jy wil weet of ek darem kan swem, is die antwoord ja. Hoekom vra jy?”

“Kom swem soggens saam met my terwyl die somerweer nog hou.”

“Ek het nie swemklere hier nie. Ek sal moet ry en gaan koop.”

“Dan doen ons dit. Sommer ná ontbyt.”

Emma kan nie onthou dat sy hom by haar stelling ingesluit het nie, maar roer net haar skouers. “Goed, ons kan dit maar doen.”

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s