Bernadine en die babawagter – Arien Lubbe

Bernadine en die babawagter voorblad_high res

“Jy is belaglik, Bernadine Wolmarans,” raas sy hardop met haarself waar sy in haar motor sit wat in haar oprit geparkeer is. Haar aankope op die sitplek langs haar treiter haar. ’n Bos blomme, biltong en ’n verskeidenheid sjokolades lê en loer vir haar. Eerstens weet sy nie eens van watter sjokolade hy hou nie. Eintlik weet sy nie of hy enigsins van sjokolade hou nie, en toe koop sy maar die biltong. Om vir ’n man blomme te koop voel simpel. Nou sit sy in haar motor en wonder of sy dit vir hom moet gee of nie.

Wel, besluit sy, as hy ’n vrou se werk kan doen, kan hy seker so ’n tipe geskenk ook waardeer. Sy druk twee sjokolades en die biltong in die geskenksak wat sy gekoop het en sit die res in haar handsak. Met die blomme in haar arms haal sy ’n slag diep asem en stap doelgerig die huis binne.

Ben en Michael se stemme kom vanuit die gang en sy stap verbaas soontoe. Sy het eintlik verwag om die twee weer in die tuin aan te tref, maar dit is seker te nat ná die dag se reën. Die twee manne sit plat op die vloer, elkeen met ’n pen in die hand, en besig om op die mure te teken. Dit neem al haar selfbeheersing om Michael nie met die blomme oor die kop te moker nie. Het die man dan nou heeltemal die kluts kwytgeraak?

“Goeiemiddag,” groet sy met stywe lippe.

“Mamma,” glimlag Ben bly en kom gee haar ’n drukkie wat sy liefdevol beantwoord. “Ons teken,” kondig hy tevrede aan.

“O, dit kan Mamma sien,” antwoord sy en boor vir Michael met haar oë. “’n Woord, asseblief,” gebied sy en stap kombuis toe sonder om te kyk of hy haar volg.

In die kombuis moet sy ’n paar keer diep asemhaal om haar humeur in toom te hou, maar dit help nie veel nie. Sy het met goeie voornemens huis toe gekom om verskoning te vra en nou is sy weer soos ’n bul wat rooi gesien het.

“Dankie vir die boodskap,” sê Michael droog toe hy in die kombuis kom.

“En is dit nou ’n manier om my te straf vir my tirade van vanoggend?” vra sy bitsig.

“Waarvan praat jy tog?” vra Michael, duidelik moedeloos.

“Die geteken op die mure, wat anders?” vra sy en gooi haar arms wanhopig in die lug. Om dom te speel gaan hom nie uit hierdie een help nie.

“Dis spesiale penne waarvan die ink afwas. Dis spesiaal gemaak hiervoor,” praat Michael kwaai en staan op om ’n boksie van die toonbank af te tel. “Kyk,” sê hy en druk dit onder haar neus.

“Ek is nie ’n idioot nie, Michael,” antwoord sy sonder om na die verpakking te kyk. “Ek weet wat dit is en waarvoor dit gemaak is. Maar dink ’n bietjie mooi vir jouself, jy leer vir Ben dat dit reg is om op mure te teken. Hy ken nie die verskil tussen ’n afwasbare of permanente pen nie. Oor ’n week kry hy enige pen in die hande en dan kan ek hom nie dissiplineer as hy dwarsdeur die huis daarmee op mure teken nie.”

“Dis seker ook nou nie nodig om so tekere te gaan nie. Ek sal hom die verskil leer,” antwoord Michael geïrriteerd. “Ek sal self die koste dek om die mure oor te verf indien dit ooit sou gebeur.”

“Dis gaan nie oor geld of ongerief nie, dit gaan oor Ben wat moet leer wat reg en verkeerd is.”

“Jy onderdruk sy kreatiwiteit, Bernadine. Kinders moet leer om buite die lyne te leef en te dink,” redeneer hy.

“My heiden, Michael. Ek sê nie my kind mag nie ’n pen in sy hand vashou of mag net die kleur blou gebruik nie. Selfs in die kreatiefste wêrelde is daar riglyne. Om nie op ’n huis se mure te teken nie, is een van die basiese riglyne vir ’n driejarige kind. Plak groot papiere teen die muur en leer hom om op die papier te teken. Moenie woorde in my mond lê en sê ek beperk sy kreatiwiteit nie, maar Ben moet leer dat alles in die lewe riglyne en grense het. Selfs kreatiwiteit,” eindig sy tam. Sy is al so moeg baklei. Baklei vir oorlewing, baklei met Michael, baklei met haarself. “Asseblief, ek wil nie heeltyd baklei nie en ek weet jou bedoelings is goed.”

“Goed, ek sal in die toekoms meer bedag op sulke dinge wees,” antwoord hy.

“Dankie,” sê sy.

“Ek het regtig nie gedink jy sal omgee nie,” verduidelik hy boetvaardig.

“Dis oukei, Michael,” verseker sy hom met ’n flou glimlag. “En jy is reg, ek het seker ook nie nodig om elke keer ’n bohaai oor alles op te skop nie.”

Met ’n sug tel sy die blomme en pakkie op en stoot dit oor die toonbank na hom.

“Hierdie is vir jou om jammer te sê vir my uitbarsting vanoggend.” Sy grawe in haar handsak en haal nog ’n sjokolade uit. “En hierdie een is om jammer te sê vir my vars uitbarsting. Ek weet nie of dit gepas is nie en my tydsberekening is seker heeltemal onvanpas aangesien ons so pas ’n meningsverskil gehad het,” sê sy verleë en voel skielik soos ’n onbeholpe tiener.

“My eerste blomme,” spot hy, maar Bernadine kan sien dat hy net so verleë is soos sy.

“Kom ons hoop dis jou laaste,” spot sy saam om die atmosfeer te suiwer.

“Dankie, en ek aanvaar jou verskoning,” antwoord hy plegtig met ’n lawwe buiging in haar rigting.

“Jy is verspot,” lag sy saggies. “Gaan sit jou blomme in ’n pot, dan maak ek ’n slag kos. Ek dink dis nodig dat ons die rolle so ’n bietjie moet ruil.”

“Beteken dit dat ek met ’n bier voor die televisie mag sit?” vra hy ondeund.

“Dit hang af of jy ’n hemp gaan dra of nie.”

“Net in ’n onderbroek,” lag hy bulderend en stap uit.

 Bernadine en die babawagter beskikbaar by LAPA Uitgewers: http://bit.ly/2u3WV8Y

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s