Die paartjiekoper – Ida Bester

Die paartjieknoper voorblad_high res

Dit is ’n redelik groot vertrek met ’n stellasie beligtingsapparate in die plafon soos wat ’n mens in die teater kry en ’n ry kameras op arms van verskillende hoogtes wat gerig is op twee groen geverfde mure wat ’n hoek van ongeveer 120 grade met mekaar vorm. Die groep, wat gewoonlik soveel te sê het, is nou sprakeloos. Annelle hoop stilweg hulle is nie te oorweldig deur die tegnologie om hartlik aan die aktiwiteit deel te neem nie.

Maar dit blyk gou dat sy nie daarvoor hoef te vrees nie. Christiaan, uitgevat in ’n T-hemp waarop daar ’n groot reënwolk pryk waaragter ’n glimlaggende songesig uitloer, stel almal op hul gemak. Hy stel heel eerste die twee kameramanne, wat hy aangedring het om self vir hulle werk te betaal, aan die groep bekend.

“Hier aan my linkerkant sien julle vir Sifiso. Martelie en Herman, as julle ’n beste kant het wat julle by voorkeur op film wil laat vaslê, praat met Willem daaroor.” Christiaan maak ’n gebaar in die rigting van die ander kameraman. Die groep skater oor die opmerking en die ys is gebreek.

Annelle verstom haar oor die insig agter hierdie opmerking teenoor twee van die aantreklikste groeplede. Christiaan het blykbaar opgemerk dat die twee mense se voorkoms vir hulle besonder belangrik is.

Daarna verduidelik Christiaan hoe die aand gaan verloop. “Ek wil voorstel ons werk sommer van die begin af in die groepe wat juffrou Steyn ingedeel het. Terwyl ek in die vertrek hier langsaan saam met die een groep ’n dinkskrum hou oor moontlike temas vir hul produksie en hoe om ’n storiebord te skryf, kan die ander groep met die kamerawerk vertroud raak.”

’n Paar dames giggel senuweeagtig.

“Niks om oor bekommerd te wees nie. Willem en Sifiso gaan elkeen van julle se beligting toets, want julle sal verbaas wees om te sien hoe dit van persoon tot persoon verskil. Verskillende veltipes absorbeer verskillende hoeveelhede lig.

“Dié van julle wat in fotografie belangstel, kan self van die skote behartig om julle met die toerusting vertroud te maak. Teen die einde van die projek sal dit goed wees as een of twee groeplede self ook van die kameras kan beman. Annelle, sal jy asseblief hier in die ateljee bly om te kyk dat alles ordelik verloop?”

Daar is soveel humor in Christiaan se stem dat Annelle nie verbaas is dat niemand oor hierdie opmerking aanstoot neem nie. Toe die eerste vyf kandidate die ateljee agter Christiaan aan verlaat, is dit vir haar asof iemand een van die buisligte teen die plafon afgeskakel het. Hy het nou maar eenmaal die gawe om die plek waar hy is op te helder.

Teen negeuur het albei groepe hulle dinkskrums uitgeput en hulle filmtoetse voltooi. Toe Annelle die eetgoed uitpak, drom almal gretig om die tafel saam. Sy is nog besig om glase vrugtesap te skink, toe Christiaan langs haar verskyn, ’n koekbordjie met peuselhappies in elke hand. “Jy is heeltyd net besig om ander te bedien. Kom, ontspan ’n bietjie,” nooi hy en hou ’n bordjie na haar uit.

Annelle neem dit gretig. Sy moes voor die ontmoeting by die agentskap ’n hele ent ry om die eetgoed by ’n spysenier se huis te gaan oplaai en het nooit by aandete uitgekom nie.

“Wat dink jy,” vra Christiaan nadat hulle by ’n tafel gaan sit het, die happies nog onaangeraak op sy bord, “sal ons hulle nog ’n rukkie laat groepwerk doen of is dit genoeg vir vanaand?”

Annelle dink hieroor na terwyl sy ’n hap vleispastei kou en insluk. “Ek dink die nuutheid van alles is nogal iets om te verwerk. Teen die tyd dat hulle klaar is met die verversings, sal dit seker byna tienuur wees. Kom ons roep halt voor hulle begin wens dit moet end kry.”

“Goeie idee. Dalk kan ek hulle net die garderobe wys, ingeval hulle van die beskikbare klere wil gebruik.”

“Sowaar? Het julle ’n garderobe vir weervoorspellers?” Annelle hoop nie die vraag klink neerhalend nie, want sy bedoel dit nie so nie. Sy sou gedink het die aankondigers dra maar net gewone, netjiese klere wanneer hulle voor die weerkaart staan.

“Jy sal verbaas wees om te sien hoe party jonges by die werk opdaag. Geskeurde jeans en oorhangende T-hemde is vir hulle kantoordrag. En glo dit of nie, maar hulle dink hulle kan daarmee in die ateljee optree wanneer hulle skielik een van die seniors se werk moet oorneem. Ons het mettertyd netjiese klere aangekoop en hou dit in voorraad, vir dames sowel as mans.”

“Nou maar goed, kom ons sluit die aand af met ’n besigtiging van die garderobe.”

Haar stemtoon het Christiaan blykbaar nie ontgaan nie. “Spot maar, ek dink jy gaan daar iets sien wat jy dolgraag sal wil aanpas.”

“Jy reken? Nou maak jy my regtig nuuskierig.”

Dis nie lank nie, of Annelle sien op ’n hanger ’n stel klere wat lyk asof ’n stilis dit uitgesoek het. By ’n netjiese swart langbroek hang ’n bloes met ’n sagte, geplooide halslyn. Die kort swart baad-

jie wat daarby hang, is die stuk wat eintlik haar aandag trek. Bokant die sakgleuwe wat dwars ingesit is, het dit ’n enkel ry diamantésteentjies wat net genoeg versiering is om dit interessant te maak.

“Wil jy dit aanpas?” praat ’n manstem agter haar. Christiaan.

Die paartjiekoper deur Ida Bester is nou beskikbaar by LAPA Uitgewers: https://www.lapa.co.za/Romanza

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s