Romanse in rock – Marilé Cloete

Romanse in Rock_high res

Gou-gou kom sy egter agter sy het eintlik ’n fout gemaak deur nie self te spring vir die venstersitplek nie. Want nou is dit nie meer ’n nagvlug nie, nee, dis helder dag en gou-gou is Skandinawië onder hulle te sien. Met haar beperkte visie deur Etienne se venstertjie kan sy net genoeg sien om haar te bekoor en te frustreer. Sy sien wit wolke met brokkies blou lug, sy sien groen berge met sneeukappies op. En tussen dit alles is daar baie water, ’n oorvloed daarvan. Damme of mere, sy ken nie juis die verskil nie. Glansend blou waar ’n strepie son dit tref, grys en ontoeganklik waar dit in skadu gehul is. Toe hulle oor Trondheim begin sak, kan sy die fjord herken, grys en gedug, oud soos die berge, uniek soos hierdie landstreek.

“Dis mooi, nè? Maar jy is dit seker lankal gewoond?” kan sy nie help om te vra nie.

Hy kyk skaars op van die bladsye vol formules waarmee hy al weer doenig is. “Ja, ek het reeds ’n paar keer kom kuier. En mooi was nog nooit lelik nie.”

“En die winter? Was jy al in die winter hier?” Beth voel onverklaarbaar spraaksaam, dis sowaar of sy nie die man wil laat wegkom nie. En wegkom kan hy nou met ’n geruste hart; hy het sy deel gedoen. In Trondheim moet sy net die pers Flybussen vat, dié staan glo voor die lughawe se uitgang. Volgens Christeline kan ’n mens nie die ding mis nie, al wil jy ook. En in die middedorp kyk jy uit vir die halte wat Chrissie haar laat neerskryf het en klim eenvoudig dan oor op bus 8 en ry tot by die winkelsentrum naby haar woonstel. Of is dit dalk bus 18? Hoekom twyfel sy dan nou? Meteens laat die benoudheid haar hart weer op loop sit. Dit kos konsentreer om aan ander dinge te dink.

Sy hoop die skone Essie bly heeltemal in die teenoorgestelde rigting. Hopelik kom laai sy vir Etienne op en voer hom na die ander kant van die dorp en Beth hoef hom nooit weer te sien nie. Sy het nie ’n behoefte om die meisie te ontmoet nie. Dalk is dié glad nie in haar noppies dat haar kêrel met ’n vreemde vrou moes saamvlieg nie. Maar dan sou sy tog nie vir Christeline met haar simpel plan ondersteun het nie. Dalk steek daar waarheid in Christeline se skimpe dat dit nie goed gaan tussen Essie en Etienne nie, dat dit miskien die laaste kuier kan wees. Wel, daarmee het Beth vrede. Al moet sy redelik hard werk om dié vrede te kry.

Hy kyk darem op van sy papiere af, maar dis ’n gesteurde opkyk. “Die winter is absoluut lieflik, jy moet beslis dan ook kom. Hoewel ek twyfel of jou geliefde Springsteen in die winter hier sal kom rondkarring. Sit dan seker voor sy kaggel en draai nog ’n paar liedjies uit om mee geld te maak.”

Onmiddellik is sy smoorkwaad. Aan Bruce moet niemand vat nie. Veral nie as sy moeg en gespanne is nie. Dan verlaat die wag voor haar mond alte maklik sy staanplek. “Dis nie prakties om in die Europese winter te toer nie. En hy draai g’n massas liedjies uit nie, dis meer dikwels die popsangers se werkswyse. Hy skryf stadig en oorwoë en raak ernstige temas aan, en wat hy sê, maak volkome sin.”

Hy steek kastig sy hande beskermend voor hom uit. “Toemaar, toemaar, hold you horses. Ek is seker dis harde werk om ’n paar kitaarakkoorde aanmekaar te slaan en dan vier of vyf sinnetjies daarop in te pas.”

“Ek gaan nie verder met jou praat nie. Jy is oningelig en veroordelend. Ek hou nie daarvan nie. Nie wat Bruce Springsteen of enigiemand anders betref nie.”

“Pas my.” En daar is sy aandag weer volkome by sy papiere. Beth wil amper die arme Essie jammer kry. Hierdie man is met sy werk getroud, hy is nie goeie huweliksmateriaal nie. Sy wat Beth is, is doodtevrede met haar lewe, dankie. Sy gaan nou dadelik van hom vergeet. En dan sommer vir altyd en ewig ook. Hy het mos nou sy doel gedien.

Foto’s verskaf deur Alta Cloete!

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s