Romanse in rock – ontstaan en agtergrond – Marilé/Alta Cloete

In mens se vyftigs begin verlies geleidelik, amper ongemerk, deel van jou lewe word. Ouer familielede – en selfs jongeres – val weg. ’n Vriendskap of twee het nie die toets van die tyd weerstaan nie. Die kwaaltjies word meer en allerhande dingetjies aan die lyf begin onkeerbaar afwaarts neig. Kinders kry vlerke en vlieg deesdae dikwels na ver plekke. Verliese wat mens se lewensvreugde alte maklik kan steel.

Twee wonderlike dinge het egter in dié tyd in my lewe gebeur en baie gedoen om die gevoel van verlies te balanseer. Die eerste vreugde was om te begin publiseer. My eerste romanse – Dans met my – het verskyn toe ek een en vyftig was en my eerste liefdesroman – Geur van genade – ’n paar jaar later. Die vreugde en pyn van ’n boek se geboorte word dikwels met die vreugde en pyn van kindergeboorte vergelyk en ek dink nie dis ver van die waarheid af nie. In albei gevalle vergeet mens vinnig die pyn en die vreugde is durend en omvattend.

Die tweede wonderlike ding was my ontdekking van Bruce Springsteen. (As jy nie weet wie dit is nie, volg bostaande skakel en word verryk! 🙂 ) Sy musiek én hoe hy sy lewe leef het vir my op tallose maniere ’n inspirasie geword. Die erns, toewyding, passie, energie – plus altyd die regte tikkie ironie en selfspot – waarmee hy dinge aanpak, hou vir enige kreatiewe persoon menige lesse in. Hy word later vanjaar 68 en hy toon geen teken van afskaal nie. Sy shows (nee, dis nie konserte nie!) duur steeds enigiets tussen drie en ’n half tot vier uur, hy eksperimenteer steeds met nuwe klanke en hy gee homself vryelik aan sy fans. Hieruit spreek dit vanself dat die bywoning van soveel as moontlik live shows die absolute ideaal van elke ware fan is. En glo my, daar is derduisende van ons wêreldwyd. Met my sewe shows in drie verskillende lande is ek ’n blote beginner. Daar is regtig baie, baie mense wat letterlik al honderde van sy shows bygewoon het. Elkeen verskil van die vorige en elkeen is intens, passievol, oorweldigend (en uitputtend!). Niemand kom onaangeraak uit so ’n ondervinding nie.

Dit spreek vanself dat Springsteen se werk en lewe ook geleidelik deel van my skryfwerk sou word. Stil-stil het dit ’n speletjie geword om ietsie van hom in elke boek in te werk, sommer net vir my eie plesier, sonder dat die leser (of die uitgewer!) enigsins bewus is daarvan. Die mees onlangse voorbeeld hiervan is die hond en die kat in my roman Net ’n mens wat sy vrou en haar vriendin se name dra (Patti en Soozie). In my romanses het Bruce al stewig sy kleim afgesteek. In Liedjie vir jou ontmoet die heldin ’n Springsteen lookalike wat ernstig voel oor oorspronklike musiek, terwyl sy ’n suksesvolle kommersiële sangeres is. In Sy mooiste woorde ontmoet die heldin ’n behoorlike Springsteen-kloon (kompleet met sy saksofoonspeler geskoei op die lees van Bruce se beroemde saksofoonspeler, Clarence Clemons) wat ontgogel is deur wêreldroem en die oorgang maak na ernstiger, minder kommersiële Afrikaanse musiek.

Toe ek dus in 2016 die (vir my) skrikwekkende onderneming aanpak om alleen Noorweë toe te vlieg om Springsteen in Trondheim saam met my kinders te gaan kyk, was dit eintlik logies dat dit ’n storie moes word. Beth is (soos ek) ’n groot aanhanger van sy musiek, is (soos ek) bang vir alleen vlieg en het al (soos ek) die nare ervaring van ’n paniekaanval of twee gehad. Omdat sy (soos ek) glo dit bring groot vervulling om jou vrese in die oë te kyk en dwarsdeur hulle te gaan, pak sy wel die onderneming aan. En nou kom die grootste lekkerte van ’n romanseskrywer se taak aan die beurt: om vir hierdie besondere meisie die regte teenpool te skep in die vorm van ’n aantreklike, goeie man met ’n paar eienskappe wat tot aanvanklike konflik en latere begrip tussen hulle kan lei. Dus: Ontmoet vir Etienne, die mooie Wiskunde-proffie met ’n  liefde vir klassieke musiek en ietwat van ’n vooroordeel teenoor rock-musikante. Plaas die twee op dieselfde vliegtuig Noorweë toe, gee vir Beth ’n (ligte) paniekaanval aan boord, laat beland hulle (nie deur blote toeval nie) in woonstelblokke langs mekaar in Trondheim, gooi Beth se vriendin Christeline met haar eie plannetjies by, en jy het ’n heerlike storie.

Die mooie Noorweë is natuurlik ook nie meer nuut in my werk nie, aangesien albei ons seuns (plus ons skoondogter en hulle troetelkonyn!) nou daar woon. Trondheim is ’n plek wat diep in my hart gekruip het en elke keer as ek ’n karakter die Nidaros-katedraal die eerste keer laat aanskou, ervaar ek daardie vreugde weer van vooraf.

Ek kan maar net hoop dat Beth en Etienne se storie jou dieselfde mate van plesier sal verskaf as wat die skryf daarvan my gegee het. En as jy boonop ‘n bietjie voete gestamp het op ’n lekker Springsteen-liedjie, is ek meer as tevrede. (Vir hierdie doel beveel ek veral Dancing in the dark, Badlands en Promised Land aan!)

Alle foto’s verskaf deur Alta Cloete. Kuier gerus saam met Alta op haar Facebook-groep: Kom ons lees weer Afrikaans: https://www.facebook.com/groups/46583772414/?ref=br_rs

Advertisements

2 thoughts on “Romanse in rock – ontstaan en agtergrond – Marilé/Alta Cloete

  1. amandacl says:

    Dankie vir die foto’s – dit is lekker om te sien waarvan mens lees. Ek het Romanse in rock baie geniet, en hoewel ek nog nooit ‘n konsert bygewoon het nie, is Dancing in the dark een van my grootste gunstelinge

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s