Liefde vir ’n vlinder – Didi Potgieter

Liefde vir 'n Vlinder_high res

Emma vee die laaste druppel van die rand van die bord af. Sy twyfel of die steak presies soos Giovanni s’n gaan proe, maar sy voel nietemin uiters tevrede met haar poging wat nou netjies in die borde lê. Kosmaak was nog altyd iets wat sy saam met haar ma gedoen het vir pret en nuwe ervarings, dit was nooit noodsaaklik nie, nooit belangrik nie. Die afgelope paar dae moes sy ter wille van oorlewing anders na haar stokperdjie kyk. Vanaand se ete is egter op ’n heel ander vlak belangrik. Nie ter wille van oorlewing nie, maar omdat sy Pieter Joubert wil bederf en dalk in ’n mate wil beïndruk.

Sy het ’n behoefte daaraan om hom te wys dat hy nie sy geld mors om haar in diens te neem nie. Sy wil ook dankie te sê. Nie net vir die feit dat hy Hero en Belle gered en beskerm het nie, maar vir wat hy vir die hele mensdom nou al op Ukuvusa doen en nog gaan doen.

En vir die feit dat sy die afgelope paar dae net Emma kon wees.

Sy vee sommer nog ’n keer die rand van die bord af, al is daar nie regtig meer iets nie, en asem uit. Hemel, sy is op haar senuwees! Vir die heel eerste keer in haar lewe is daar nou geen alternatief as haar resep flop of die kos nie na wense is nie. Geen kamerdiens wat vinnig die sjef se keuse vir die dag kan bring of ’n restaurant waar sy haar lag vir haarself met wyn kan afsluk nie.

Nee, sy het één kans. En sy hoop dit is genoeg, want nog nooit was ’n steak so belangrik nie. Toe sy hom hoor aankom, kan sy amper gil van pure spanning, maar haar stem bly gelukkig in haar keel sit toe sy Pieter sien. In die deur staan hy soos hy op die foto’s in die vergete boks lyk. Sy gesig is skoon geskeer en sy kan duidelik die mond sien wat perfek vir haar glimlag. Emma kan nie anders as om te wonder hoe enigiemand so ’n glimlag vir so lank onder ’n bos hare kan wegsteek nie.

“Jy het geskeer!”

Hy vryf selfbewus oor sy wang. “Dit raak nou ’n bietjie warm met die boskaas.”

“Dit lyk goed.”

“Dankie. Dit ook.” Sy verwysing na die kos op die bord bring Emma terug na die hede.

“Sal jy vir ons elkeen ’n glas wyn skink; ons sal moet eet voor die kos koud is.”

Sy hou sy bewegings dop toe hy die glase uit die kas haal. Die T-hemp span styf om sy armspiere en weer wil nie haar hart of haar longe funksioneer nie. Daarom tel sy die twee borde op en stap eetkamer toe.

Sy het wyn nodig. Of nee, dalk is wyn glad nie ’n goeie idee nie – sy wil hopeloos te graag weet hoe sy spiere onder haar hand sal voel.

Emma dwing haarself om egalig asem te haal. Sy is laf. Gelukkig is sy Emma Parker, en Emma Parker kon nog altyd haar gevoelens wegbêre. Hoe sy dit al die jare reggekry het, weet sy nie meer nie. Sy het daarin geslaag deur op besigheid te fokus, herinner sy haarself terwyl sy die twee borde op die tafel neersit. Vanaand sal haar gesprek moet fokus op Ukuvusa en die planne wat sy reeds gemaak het, anders is sy in groot moeilikheid.

 

Die vrou aan die oorkant van die tafel lyk vir Pieter amper net so lekker soos die kos, indien nie lekkerder nie, en sy is ooglopend totaal onbewus daarvan. Dit is eintlik ’n baie goeie ding dat Emma van Wyk nie weet hoe mooi sy regtig is nie, anders is hy seker sy sou nou as model gewerk het en nie vir hom as huishoudster nie.

Pieter fokus weer op die bord kos voor hom.

Hy weet nie meer wat om te doen om nie aangeraak te wees deur haar skoonheid nie. Maak nie saak wat hy homself probeer wysmaak nie, elke keer as hy haar sien, slaan sy sy asem weg en jeuk sy hande om aan haar te raak.

Hy vat versigtig ’n sluk van die rooiwyn in die glas voor hom en die vloeistof proe vreemd op sy tong. Tog is dit nie so sleg soos hy gedink het dit gaan wees nie, inteendeel, dit is asof die wyn sy mond wakker maak, sodat hy die steak beter kan proe. Hy vat nog ’n sluk en Emma volg sy voorbeeld.

“Ek het vandag ’n bietjie op die internet rondgesoek. Daar is ’n maatskappy in Potchefstroom wat werksklere met logo’s op teen baie bekostigbare pryse maak,” sê sy.

“Ons het werksklere.”

“Ek weet, maar dink jy nie klere met Ukuvusa se logo op sal beter wees nie?”

Pieter trek sy skouers op. “Ek dink dis geldmors.”

“Jy maak ’n fout.” Sy vat nog ’n sluk van haar wyn asof sy eers haar gedagtes wil orden. Hy kan sien hoe word die ander sy van Emma van Wyk wakker. “Onthou, jy moet dink aan die groter prentjie. Mense, veral beleggers, se koppe werk net anders. Hulle belê in ’n handelsnaam waarmee hulle vertroud kan raak.”

“En ’n prentjie op my hemp gaan dit vir hulle doen?”

“J’y sien ’n prentjie op jou hemp, hulle sien Ukuvusa. Hulle sien jy is trots genoeg om jou projek op jou werkers se klere te adverteer. Op die internet, Facebook en op jou bors. Elke keer as hulle die prentjie sien, sien hulle alles waarvoor jou projek staan.

Hero, ander renosters wat in die toekoms hier gaan bly en, in die geval van ’n plek soos Ukuvusa, ’n saak waarvoor hulle kan staan.” Pieter kyk woordeloos hoe sy haar steak sny, en luister dan verder. “Dink net, jy kan so ’n hemp of pet vir ’n belegger as ’n aandenking gee. Jy kan dit in die toekoms aan besoekers te koop aanbied en daaruit ’n wins maak. Jy kan ook die logo op ander produkte sit. Oorsese beleggers hou van sulke goed.”

Pieter kan net sy kop skud. Ja-nee, ’n dom blondine is sy beslis nie. En alhoewel hy steeds nie ’n idee het hoe iemand soos sy op sy voorstoep beland het nie, dank hy sy sterre daarvoor.

Liefde vir ’n vlinder is nou beskikbaar by LAPA Uitgewers: http://bit.ly/2srt4qe

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s