Vinkel en Koljander-vroue: Van vreemdelinge tot vriende

Vita du Preez se Vinkel en Koljander-vroue is volledig. Jy kan nou Donna, Kato, ruby en McKenna se stories geniet. Kan nie meer onthou waarom die ander drie gaan nie? Ons vertel jou hier!

v en k webblad30

SOLITAIRE 

Donna, ’n befaamde juweelontwerper, se lewe slaan ’n gevaarlike koers in ná ’n ruwe ontnugtering in haar huwelik en ’n vernederende egskeiding. Wanneer sy die allerlaagste punt bereik, besef Donna sy is op ’n pad van selfvernietiging.

Solitaire (Hoëres)

Sy aanvaar ’n opdrag om ’n replika van ’n antieke juweelstuk te maak. Dit neem haar na Minnaarshof, ’n spogplaas in die Riebeekvallei. Hier kruis haar pad met Toit Minnaar s’n. Die soort man wat ’n vrou kan laat glo alle mans is nie noodwendig uitbuiters nie.

 

Maar Toit is reeds kniediep in die vrousoekproses. In ’n poging om weer sy lewe op koers te kry ná sy vrou se dood ’n jaar tevore maak hy gereed om drie aspirantbruide op Minnaarshof te ontvang vir ’n werklikheidsreeks op televisie.  Kato, Ruby en McKenna is drie supervroue wat geen man met gesonde verstand sal wil wegstuur nie.

Daarom verstaan Donna nie hoekom sy en Toit mekaar nie kan vermy nie. Haar hoofprioriteit moet nou wees om weer haar loopbaan op dreef te kry en terug te kry wat ’n man by haar gesteel het.

WOESTYNROOS 

Haar pa is ’n man van Duitse deeglikheid – maar verhard en ’n onverbiddelike heerser oor sy vrou en kinders. Daarom het Kato besluit die romantiek van ’n huwelik sal nie vir haar werk nie, nie eens ’n huwelik met haar beste vriend Stef nie.

Woestynroos Cover Final High Res

Wat Stef wel kan doen, is om haar hartsbegeerte te help vervul: ’n kind. En waarom nie? ’n Kind is ook sy groot droom en ook hy het besluit ’n huwelik met ’n vrou wat van hom afhanklik raak, is nie vir hom nie.

 

Vir Stef, ’n man wat weet hoe om van vroue te kry wat hy wil hê en dan sorgeloos sy lewe voort te sit, werk dit perfek. Ook vir Kato, ’n beroepsvrou wat nog nooit weerloos gevoel het nie.

Waarmee hulle nie rekening gehou het nie, is die oeroue instink wat by ouers ontwaak: om te beskerm en beskerm te word. Voeg daarby ’n buite-egtelike verbintenis waarvan al twee nou eers uitvind … Maar dis te laat om hulle ooreenkoms verbeurd te verklaar.

DROOMLAND

Ruby se pynlikste begeerte is om te weet wie haar pa was – of is. Nóg haar loopbaan as loopplankmodel, nóg haar gesogte modereeks kan vergoed vir hierdie leegheid in haar lewe. Of dit die oorsaak van haar slaaplopery is, weet sy nie maar toe haar ma sterf, neem sy hierdie geheim saam met haar graf toe.

Droomland

Ná haar ma se begrafnis vlam die hoop egter onverwags op. Sy moet die welmenende raad van die dorp se gehate ou sedeprediker verduur en haar ma se prokureur oorhandig ’n juwelekissie met ’n sleutel aan haar. En toe ’n jeugkennis weer sy verskyning maak, weet Ruby hierdie man bedreig haar goed bewaarde hart. Dit is ook hy wat haar oortuig om elke leidraad wat sy nou gekry het op te volg en nie nee vir ’n antwoord te neem nie.

Maar elke paadjie waarop sy haar begeef, lei na ’n doodloopstraat. Monsters wat mens uit die verlede gaan haal, moes dalk gebly het waar hulle was – die hede is al wat jy eintlik het en jy moet daarmee woeker.

WILDE KLAWER

In die bloedige stryd wat die Ierse Republikeinse Leër gevoer het, is gesinne en selfs familiegroepe uitmekaar geskeur. McKenna Wilde kom uit so ’n familie, hoewel dit haar nie raak op die skilderagtige Riebeek-Kasteel in Suid-Afrika waar sy saam met haar ma en ouma woon nie.

Wilde klawer_Vita du Preez

Tot ’n venynige brief haar noodsaak om in haar verlede te grawe en haar geestelike gawe om die onsienlike te sien weer in werking tree – hoewel hierdie “gawe” nie iets is wat McKenna sou kies nie.

In Noord-Ierland word dit gaandeweg vir McKenna duidelik hoe en hoekom haar pad hierheen geloop het en sy die tante moes ontmoet wat sy geglo het nie meer leef nie. Hier ontmoet sy ook die Suid-Afrikaner wat uit verbittering en verlorenheid die geweld van sy land vir Ierland verruil het. Hoekom die hangertjie in McKenna se besit so ’n beroering in haar veroorsaak wanneer sy naby hierdie man is, weet sy nie vir seker nie. En of hy ooit weer die risiko sal loop om ’n vrou en kind in sy lewe toe te laat is iets wat die toekoms maar moet leer …

Oor die skrywer …

Vita du preez

Vita du Preez se eerste romanse As sterre blom het in 1996 verskyn terwyl sy voltyds as argivaris by die WNNR gewerk het. Daarna het verskeie titels uit haar pen die lig gesien. Skuiling van die hart is ’n persoonlike gunsteling van haar, en is ’n historiese roman wat tydens die Boereoor¬log afspeel. ’n Man vir Mia was ’n finalis vir die LAPA-liefdesverhaaltoekenning in 2005/2006.

Nadat sy in 2002 Kaap toe verhuis het, het sy vryskutvertaalwerk begin doen, wat later ’n heeltydse werk geword het. Sy het meer as sestig Mills & Boon en Harlequin Intrigue-titels vertaal. Ná tien jaar in die bedryf het sy besluit genoeg is oorgenoeg en weer voltyds op haar skryfwerk begin fokus. Sy was lus vir ’n nuwe uitdaging en het besluit om ’n ander genre – liefdesromans – aan te pak. Waar die son omdraai, haar eerste liefdesroman, het in 2014 verskyn. Tans skryf sy aan ’n reeks oor vier vroue waarvan die eerste twee Solitaire en Woestynroos reeds verskyn het.

Vir meer inlingting oor Vita: http://bit.ly/2donfmp

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s