Liefde in die Karoo – Rika du Plessis

Liefde in die Karoo_high res

“Wie sal dit nou wees? Ek verwag niemand nie,” sê Karin fronsend en stap tot aan die bopunt van die stoeptrappies. Haar frons verdiep toe sy Stephan se spoggerige motor voor die huis sien stilhou. Wat kom soek hy hier?

Sy blonde kop verskyn bokant die motor toe hy uitklim, die deur toemaak en met ’n wye lag aangestap kom.

“Hallo, Karin, mensig ek het na jou verlang,” sê hy toe hy by hulle kom, slaan sy arms om haar en soen haar stewig op die lippe.

Vir ’n oomblik staan Karin versteen van skok deur sy optrede, toe beur sy weg.

“Naand, Stephan. Dis Jaco Meyer, en Jaco, dit is Stephan Jooste,” sê sy ietwat ontsteld.

“Bly te kenne, Stephan. Oom Gert het my so ietwat aangaande jou vertel, glo ’n bekende kunstenaar,” groet Jaco. “En as ek dit nie mis het nie, het julle op ’n stadium met mekaar uitgegaan,” vervolg hy vraend.

“Dis reg, ja, Jaco. Ek is juis hier omdat ek nie langer sonder haar wil leef nie. Ek het jou kom haal, Karin. Of as jy wil hê ek moet hier bly, sê net so, en ek maak ’n plan,” praat Stephan asof niks verkeerd is nie.

“Wat het dan nou geword van die feit dat jy nie bereid is om saam met my op ’n afgeleë, bankrotplaas te kom krepeer nie, en dat jy skaam sal wees om jou vriende hierheen te nooi?” vra sy sarkasties en steur haar nie aan Jaco se sagte proeslag agter haar nie.

“Ja, skaam jou, Karintjie, jy het my doelbewus nie reggehelp nie. Dis ’n lieflike plek wat jy hier het. Maar al was dit nie so nie, maak dit nie meer saak nie. Jy is wat nou belangrik in my lewe is, maak nie saak waar ons gaan bly nie. Kan ons sommer gou trou?” vra hy hartstogtelik en neem haar hande in albei syne.

Karin trek haar hande vinnig weg en staan twee tree agtertoe, vas teen Jaco se borskas. Sy arms glip om haar lyf om hulle albei staande te hou. ’n Wilde impuls ploeg deur haar, en sy vou haar hande om syne wat voor haar maag in mekaar gevleg is toe sy direk in Stephan se oë kyk.

“Soos jy kan sien, Stephan, is ek nie alleen nie, en ook nie meer vir jou beskikbaar nie,” sê sy vinnig en druk Jaco se hande sag. Hy woel sy gesig in haar nek en lag baie sag toe hy die drukkie beantwoord. Dit kriewel in haar nek waar hy haar nou moedswillig saggies soen.

“Jy kan nie ernstig wees nie, Karin! Hoe kon jy so gou ’n ander man in jou lewe toelaat, en hom boonop aanmoedig om so klouerig aan jou te wees?” vra Stephan openlik geskok en ontevrede.

“Kry dit in jou kop, Stephan, daar was nooit ’n verhouding tussen ons nie. Ons was bloot vriende wat mekaar soms iewers heen vergesel het.”

“Jy geniet dit om my so te verpletter, nè?” vra hy dramaties, en ’n giggel wil oor haar lippe bars, maar sy hou haar in.

“Nee, Stephan, ek praat net die waarheid. Ek dink jy moet nou liewer gaan.”

“Stuur jy my dié tyd van die aand al die pad terug? Ek is moeg bestuur, het aaneen gery om by jou te kom. Kan ek nie ten minste oornag nie? ’n Bord kos, ’n bad en bed kry nie?”

“Daar is oulike gastehuise in die dorp wat sommer hier naby is,” antwoord sy.

Stephan skud sy kop in ongeloof.

“Ek kan nie glo jy is so hard en gewetenloos nie. As jy bang is om alleen met my in die huis te wees, vra gerus jou huishulp om in te slaap,” sê Stephan nou kras.

“Ek is nie bang vir jou nie. Bowendien, ek slaap nie alleen in die huis nie, Jaco slaap ook hier. Goed, jy kan eet, bad en ’n kamer kry vir die nag, maar môreoggend ná ontbyt moet jy gaan.”

“Hoe lank ken jy die man? En hy slááp by jou? Jy wou nooit eens hê ek moet by jou oorslaap nie. Genugtig, Karin, wat het in jou gevaar?” vra Stephan.

Jy kry nou 50% afslag op alle Romanzas tot 9 Junie: https://www.lapa.co.za/Romanza

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s