Die mense langsaan − Elsa Hamersma

mense langsaan

Christine

Daar is ’n harde geklop aan die voordeur en dit is so ’n ongewone geluid dat Christine skrik. Frikkie is nêrens te sien nie en sy gaan maak oop.

“Môre.” Dis Anton.

’n Warmte spoel deur haar. “Môre.”

“Ek het net kom hoor of jy en oom Frik nie lus het om vanmiddag by my te kom eet nie. Ek braai sommer buite.”

“Ek sal moet hoor, maar dit klink lekker.” Deesdae kan sy nie daarop reken dat Frikkie op ’n Saterdagmiddag by die huis sal wees nie. “Wat kan ek saambring?” vra sy.

“Niks. Die vleis het ek klaar gekoop. En daar is bier in die yskas, ek moet net seker maak daar is genoeg vir oom Frik.”

“Jy hoef jou nie oor die bier te bekommer nie,” sê sy. “Frikkie is op ’n dieet.”

“Sê wie?” vra Frikkie skielik agter haar. Sy kan behoorlik voel hoe vererg hy is en sy het dadelik berou oor die glips.

“Is dit reg met Oom?” vra Anton asof hy niks agtergekom het nie.

“Ja,” brom Frikkie.

“Wat kan ek bring? Kan ek nie ’n bak slaai maak nie?”

“My dogter kom ook. Sy kan sommer die slaai maak, en iets soets vir ná die tyd. Nou dan sien ons mekaar so teen twaalfuur.”

Toe die deur agter hom toegaan, draai Frikkie na haar toe. “Moenie bekommer nie. Frikkie is op ’n dieet. En kan ek slaai maak?” koggel hy haar in ’n hoë stemmetjie. “Praat ons darem nie te mooi en vriendelik met ons buurman nie?”

“Dit is vriendelik van hom om ons te nooi,” antwoord sy versigtig.

“Dit is. Vir so ’n armgat.”

Sy dogter is nie so aantreklik soos haar pa nie, is Christine se eerste gedagte toe Anton Sonja aan hulle voorstel. Sy het ook donker hare, maar sy het dit blond gekleur en die wortels groei reeds uit. Die blonde hare laat haar hard lyk, veral in kombinasie met haar skerperige neus en donker oë. Sy is maer, met groot borste en lang bene wat die meeste mans aantreklik sal vind. Van haar een skouer na die ander is ’n slang getatoeëer. Christine kyk daarna en ril. Dis sou haar nie aangetrek het as sy ’n man was nie. Ook nie die spul ringetjies in haar oorskulp en die knoppie in haar ken en een wenkbrou nie. Frikkie ignoreer Sonja kennelik, maar vra om die huis te sien. Soos ’n sersant-majoor wat sy troepe inspekteer, stap hy agter Anton aan deur die huis. Christine stap agterna, want sy is ook nuuskierig. Maar daar is feitlik niks te siene nie. Die huis is karig gemeubileer en die paar meubelstukke en die gordyne lyk asof hy dit by een van die welsynsplekke gekry het.

Anton lyk glad nie skaam oor die armoedigheid van die huis nie. “Hier gaan nie veel aan nie,” verduidelik hy en beduie met sy arm in die rondte. “Al die goeie meubels het my vrou gevat toe ons jare gelede geskei is. Ek is destyds in elk geval omtrent dadelik oorsee. Toe ek ná baie jare terugkom, het ek sommer in gemeubileerde plekke gaan bly. Wat julle hier sien, is net my persoonlike goed en die paar stukkies meubels wat ek by die hospicewinkel gaan koop het. Net die noodsaaklike.” Hy lag.. “Ek sien dit nou deur julle oë en weet dit lyk nie goed nie, maar die verbasende ding is dat dit lekker is om so lig deur die lewe te reis.

“Hoe meer materiële besittings mens het, goed wat geld kos en waarvoor jy jammer is, hoe meer stres jy daaroor. Hier is niks waarvoor ek jammer is nie. As iemand hier inbreek, is daar nie veel om te steel nie. Soos ek nou voel, belê ek dalk nooit weer in meubels en matte nie, maar ploeter net so ligvoets aan. Boonop is dit ’n bonus om met so min goed te trek.”

“Veral as jy self jou goed trek,” sê Frikkie vermakerig. “Waar werk jy?” vra hy pront terwyl hulle terugstap na die vuur toe.

Dis tipies Frikkie. Anton is toegegooi onder al die inligting oor sy motor en motorfiets, maar tot op hede het hy nog nie eens gevra waar Anton werk nie.

“Ek het my eie firma en ons doen skuldinvordering- en berading.”

Frikkie frons asof hy daaroor nadink. “Hoeveel onse is daar in jou pond?”

“Nie te veel nie. Op hierdie stadium het ek ’n paar mense wat die telefone behartig en nog twee ander opgeleide kêrels wat my help. Maar daar is potensiaal. Die Suid-Afrikaners is vrot van die skuld.”

“Papsie is baie slim,” sê Sonja van die kant af. “Hy het baie grade. Hy weet alles van beleggings en hoe om geld te laat groei.”

Hy glimlag verdraagsaam. “Moenie Sonja te letterlik opneem nie. Sy is my grootste bewonderaar.”

“Waar bly jy?” vra Christine vir Sonja toe die mans oor rugby begin praat. Sy onthou te laat dat Anton haar reeds gesê het.

“Ek het ’n tuinwoonstel hier in Durbanville.”

“Dis nie ver van hier af nie, nè?”

“Nee.”

“En waar werk jy?”

Sy glimlag. “Ek werk nie. Papsie het gesê ek kan studeer so lank soos ek kans sien. Dié jaar het ek met honneurs in bemarking begin.”

“Waar studeer jy? By Stellenbosch?”

“Nee. Unisa. Ek hou daarvan om op my eie te werk. Studente is oor die algemeen onvolwasse. Ek is drie en twintig en baie van die voltydse studente by die residensiële universiteite skaars twintig. Dit maak ’n verskil.”

“Watter vakke neem jy?”

“So bietjie rek en so bietjie sielkunde. Volgende jaar is dit weer ander vakke.”

“En wat wil jy doen wanneer jy klaar is? Het jy al iets in gedagte?”

Sy frons en lyk half vererg. “Ek sal sien, maar dalk gaan werk ek by Papsie.” Sy vroetel ongemaklik met haar hande, asof sy nie van die vraag gehou het nie.

Ten spyte van die armoedige binnekant van die huis en Anton se ou bakkie, moet hy goeie geld verdien as hy kans sien om haar onbepaald te onderhou, dink Christine. En Sonja se karretjie wat in die oprit staan, is een van die klein, duur Fiats. Dit moet hom ’n plaas se geld kos om al dié dinge vir sy dogter te gee en dit terwyl sy nie oorhaastig lyk om self uit te spring en te begin werk nie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s