Towerliefde – Serena Steyn

Onthou Romanza verjaar en jy kry van 2-9 Junie 50%afslag op alle Romanzas! Jy kan nou Towerliefde en Eilandvuur teen die prys van een Romanza koop! Bederf jouself hier: https://www.lapa.co.za/Romanza

Die geblaf hou aan en Amalie kom regop en reik na die krukke. Dirk se bakkie staan voor die hek. Agterop is panele met sifdraad. Sy hink verbaas nader. “Werk jy Saterdae ook?”

“Middag.” Hy leun op die bakkie se deur en glimlag vir haar. Sy oë gly oor haar bene. “Ons is Saterdae tot vieruur oop. Die hoenderhokke het vanoggend gekom, toe laai ek joune. Kenna gaan nog ’n ruk by haar pasiënt besig wees; sy het gesê jy is tuis.” Sy blik skuif na die krukke toe. “Ek sien jy volg darem my raad. Dis goed.”

Amalie rem haar kort hempie selfbewus oor haar stywe broek en leun op die kruk. As sy geweet het Wolf blaf vir hom, het sy gou ander klere gaan aantrek. Hoekom is die mansmens tog so onhebbelik aantreklik? Sy mooi mond vertrek in ’n glimlag terwyl hy haar dophou. Hy weet baie goed hoe ongemaklik sy voel. Miskien moet sy tog maar verskoning maak en iets anders gaan aantrek.

“Ek moes vroeër Mpaka toe ry.” Dirk beduie na die agterkant van die bakkie. “Toe bring ek sommer die hoenders saam. Daar was darem genoeg plek om alles te laai.”

“My hoenders!” Amalie vergeet haar ongemak en druk die hek oop. Agterop die bakkie staar agt swart- en-wit koekoeke terug na haar uit die klein drahok. “Ek sien jy het sommer kos ook gebring. Dankie.” Sy leun op die bakkie se kant en verlustig haar in die mooi pluimvee terwyl hulle gesellige hoendergeluide maak. Wolf hardloop soos ’n mal ding om haar rond en spring teen die bak op.

“Af, Wolf!” raas sy en kyk na Dirk wat hulle glimlaggend dophou. “Hulle is in ’n baie goeie kondisie. Ek sien daar is ’n haan by.”

“Gedag jy sal van kuikentjies hou.”

“Beslis! Ek het nie eers sover gedink nie. Wolf!”

Sy lig die hond weer weg van die bakkie af en lag op na Dirk toe. “Hoe op aarde gaan ons die hoenders tuismaak met hierdie onmoontlike hond? Sy belangstelling lyk vir my meer kulinêr.”

Dirk lag saam en klim terug in die bakkie. “Kenna het gesê ons moet hom aan die kant van die huis toemaak en die hoenders in die agterste kamp aflaai. Daarna kan hy eers uitkom.”

Hy ry tot in die agterplaas en Amalie lok Wolf met hondekoekies langs die huis in.

“Daar’s hy!” Sy druk die hek toe en skud haar hande tevrede af. Toe stap sy nader om Dirk te help aflaai.

“Stadig met die enkel,” keer hy toe sy wil help met die panele van die hok. “Gaan kyk jy eerder waar jy dit wil hê.”

“Ek weet al waar die hok moet staan.” Amalie trek haar krukke nader. “Ek sal dit vir jou gaan merk.” In haar opgewondenheid vergeet sy dat Dirk haar knieë lam maak en dat sy dit ten doel stel om aantreklike mans te vermy. Sy gesels so gemaklik met hom as met Kenna, gee gereedskap aan toe hy die hok aanmekaarsit en skrop later al pratende ’n groot bak uit om as waterbak te gebruik. Toe die laaste hoender in die hok is, laat sy Wolf uitkom. Hy nael na die kamp toe en blaf vir die hoenders.

“My gewete het my begin pla,” beken sy teenoor Dirk toe sy langs hom gaan staan en leun met haar elmboë op die draad.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s