#liefvirjou – Elsa Winckler

Onthou Romanza verjaar en jy kry van 2-9 Junie 50%afslag op alle Romanzas! Jy kan nou #liefvirjou en Jy is huis vir my teen die prys van een Romanza koop! Bederf jouself hier: https://www.lapa.co.za/Romanza

“Ja, ek hou van die ou styl, maar wou dit binne gerieflik hê. Die dak en elektrisiteit moes ook oorgedoen word. Ek het dit oorspronklik gekoop met die idee om dit reg te maak en weer in die mark te sit, maar ek bly baie lekker.”

“Dis ’n pragtige plek. Dis my droom om ook oor ’n paar jaar ’n huis te koop, maar eers klein treetjies. Ek kyk op die oomblik na woonstelle.”

“Op Hermanus?” vra hy en steek die vuur aan.

“Ja, ek het juis vanmiddag na ’n paar plekke gaan kyk.”

“Ek wil graag hoor daarvan, maar eers, wat skink ek vir jou? As ek reg onthou, drink jy witwyn in die oggend,” terg hy. “Ek het ’n shiraz van een van die kelders in die Hemel-en-aarde-vallei, maar as jy hulle droë rosé of witwyn verkies, ek het van alles.”

“Ek drink darem nie altyd wyn in die oggend nie, net as ek vlieg. En as ons steak eet, sal ek graag rooiwyn drink, dankie. Wat kan ek doen?”

“Kom sit by my terwyl ek slaai maak. Die vuur gaan ’n rukkie neem.”

“Jy maak slaai ook?” terg sy. “Ek is beïndruk.”

Die kombuis is modern ingerig en spog met ’n groot gasstoof. Vlekvryestaalkabinette en geverfde houtkaste wissel mekaar af. Op die groot werkoppervlak staan ’n slaaibak, borde en messegoed gereed.

Hy skink twee glase wyn en gee een vir haar. “My ma het haar seuns mooi geleer,” sê hy en beduie sy moet op een van die hoë stoele sit.

Hy haal slaaigoed uit die yskas. “Vertel my van die plekke wat jy gesien het.”

Sy beduie rond in die kombuis. “Almal baie oulik, maar ai, die kombuise. Ek hou van ’n mooi, praktiese kombuis, soos hierdie een. Jy het tog ’n plek vir ’n yskas, ’n wasmasjien en selfs ’n skottelgoedwasser nodig. En genoeg kaste. Wat is dit met bouers en min kombuiskaste? Ek het nog altyd gedink hulle behoort vrouens te kry om die kombuise te ontwerp.”

Terwyl sy praat, het Kobus begin tamaties en komkommer opkerf. Heel behendig. Sy verkyk haar aan sy groot hande. Hande wat sy al op haar lyf gevoel het, hande wat . . .

O, aarde. Sy maak haar oë vir ’n oomblik toe en skep asem.

“Het jy iets gesien wat jy na jou smaak sou kon verander?”

Dit neem haar ’n rukkie voor sy onthou waaroor hulle praat.

“Ja, daar is veral een.” Terwyl sy praat, staan sy op en stap weer tot by die groot skuifdeur wat oor die see kyk. “Dis nie baie groot nie, maar die uitsig het my hart gesteel. Dis heerlik naby aan die dorp, maar die eienaar moet eers besluit of hy wil verkoop.”

Dis stil agter haar en sy draai terug. Kobus is nog druk besig om slaai te maak. Die wit hemp pas styf om sy breë skouers en sy jeans vou netjies om ’n paar netjiese agterstewe. Sy kyk dak toe om asem te skep voor sy weer praat.

“Die ideaal sal natuurlik wees om iets te kry wat ek kan koop en waar dit moontlik is om die plek te huur totdat die koop deurgaan.” Sy gaan sit weer. “Maar ek moet aanvaar dit gaan nie so maklik wees nie. Ek is immers ’n De Villiers.”

Kobus kyk op, sy oë tergend. “En jy reken die vloek op jou familie beïnvloed ook die koop van ’n woonstel?”

Sy lag half moedeloos en gooi haar hand in die lug. “As jy dit so stel, klink dit belaglik, ek weet.”

Kobus is klaar en tel die bak op. “Dit klink belaglik want dit is belaglik. Kan jy vir ons die borde en messegoed saambring, asseblief? Dis so ’n mooi aand, ek het gedink ons eet sommer op die stoep.”

 

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s