Waar liefde lê – Elsa Winckler

Waar liefde lê is nou beskikbaar in die Hoe diep die liefde lê–omnibus. Nou te koop by LAPA Uitgewers:  http://bit.ly/2shGVg5

Hoe diep die liefde lê_Voorblad

“Ek is so vies, ek kan slange vang.” Lana druk haar selfoon met haar skouer teen haar oor vas terwyl sy soek na ’n pen in haar handsak sonder om haar iPad te laat val. Sy loer ergerlik op na die hyser se liggies. Hoe lank gaan die ding nog wees?

Dis besig in die groot hotel se portaal, en mense maal rond. Daar is ’n gestamp agter haar en sy klou haar handsak stywer vas. Netnou word dit nog gegryp ook. Die dag het sleg genoeg begin, sy sien nie kans vir nog ’n krisis nie. Sy is vaagweg daarvan bewus dat nog iemand langs haar kom staan om vir die hyser te wag.

“Jy behoort dankbaar te wees dat jou kollega siek is en dat die redakteur jou na hierdie geleentheid toe stuur, dis eintlik ’n kompliment vir jou, sus.” Haar broer klink haastig oor die foon, op pad iewers heen, soos altyd. Sy het nie eintlik tyd om nou te praat nie, maar vir haar broers maak sy altyd tyd.

Sy sug. “Ek weet, maar Nick, jy weet mos ek wil eerder ’n politieke verslaggewer wees, dit sluit beslis nie berigte oor groen aktiviste in wat bome loop en omhels nie.” Terselfdertyd kyk sy af na haar horlosie. Sy is al amper laat. Verlig sien sy dat die hysbak uiteindelik begin afbeweeg en sy staan nader aan die deure.

“Wel, dis beslis ’n verbetering op wat jy gedoen het. Skindernuus oor glansmense . . . regtig,” lag hy.

“Ek weet, ek weet, ek weet, maar ai.”

“Na wie se praatjie moet jy gaan luister?”

“Die een of ander ou wie se naam op ‘an’ eindig. Riaan, Tiaan, Ian, ek is nie seker nie.”

“Ian? Ian Coetzee?” hoor sy Nick se verbaasde stem.

“Ja, dit klink reg, weet jy iets van hom?”

Nick lag verbaas. “Weet ek iets van hom? Sussie, lees jy nie jou eie koerant nie? Jy is in vir ’n treat. Die ou is fenomenaal. Hy is ’n avonturier, soos Lewis Pugh wat saam met ysbere swem in die Noordpool en in ysige waters bo naby Everest, alles in ’n poging om mense bewus te maak van wat ons aan die aarde doen. Sover ek weet, het hy ook al in die Noordpool geswem, maar sy passie is Afrika en wat op ons vasteland gebeur.”

Lana kreun. “Asseblief. Ek moet dus gaan luister na ’n heeltemal besete groene wat in yswaters rondplons? En dit terwyl daar politieke stories is om te vertel, korrupsie om bloot te lê.”

Nick lag hard aan die ander kant. “Ons praat weer nadat jy na hom geluister het. En hy swem nie net nie, hy klim berge. Dis skynbaar eintlik sy ding. Ek dink Henry ken hom ook, jy moet hom ’n bietjie uitvra.”

“As ek ’n slag my ander ouboet sien, sal ek hom vra. Weet jy wanneer hy weer terug is in die land? Ek het lanklaas van hom gehoor.”

“Ja, sy toere hou hom maar besig. Hy is op die oomblik in Kenia. Hy beplan ’n nuwe toer soontoe. Ek dink ook hy het iets gesê van ’n nuwe kliënt wat hy teen Kilimandjaro gaan uitneem. Hy het gaan kyk na nuwe akkommodasie, want hy was nie meer tevrede met die verblyf wat hy gewoonlik gebruik nie. Maar ek dink tog hy is iewers hierdie week al terug.”

Lana sidder, soos altyd as sy hoor van mense wat berge uitklim. “Ek hoop ek kan hom sien voordat hy weer die boendoes ingaan.”

“Jy moet dalk ’n slag saamgaan,” begin Nick.

“Jy weet hoe ek oor berge voel,” sê sy stil.

“Ek weet. Maar iewers sal jy vir Pa moet vergewe omdat hy Everest uit is. En nooit teruggekom het nie. Ma het aanbeweeg, Lana. Dis tyd dat jy dit ook doen. Jy was altyd lief vir bergklim totdat …”

“Ek … Dis moeilik. Simonsberg. Dit was die laaste berg waarop ek was. Toe het hy nog gelewe.” Sy weet self nie hoe om haar vrees te verduidelik nie. Sy was mal oor bergklim, altyd ’n tree agter haar pa, altyd met haar voete in sy voetspore. En toe, op ’n dag, was hy nie meer daar nie. En sy kon nie weer teen ’n berg uitklim nie. Elke keer as sy net dink aan berge, is dit asof iemand haar keelpyp toedruk.

“Gaan saam met Henry se volgende toer. Kilimandjaro is dalk net wat jy nodig het,” terg hy.

Lana probeer lag. “Jy moet vir jou snaaks hou. Ek is in elk geval heeltemal te onfiks. Ek verkies deesdae my rusbank en ’n lekker boek, dankie.”

Nick lag. “Ek moet gaan. Ek is die naweek in die Kaap, gaan ek jou sien?”

Lana glimlag ten spyte van haar irritasie. “Natuurlik, skattebol, ek verlang na jou. Wanneer?” Die deure van die hyser gaan oop en sy stap vinnig maar versigtig in. Haar sandale het hoë, dun hakkies. Toe sy vanoggend aangetrek het, was koffiemaak die wildste ding wat sy sou doen. Tien minute nadat sy op kantoor gekom het, het sy eers hierdie opdrag gekry. Sy is aangetrek om ’n onderhoud met die nuutste popsensasie te doen, nie met ’n ou wat in die bosse rondhol nie.

“Ek weet nie, ek bel jou Saterdagoggend. Ons praat weer.”

“Oukei, Nick, lief vir jou.” Sy druk haar foon dood en steek haar hand uit om die derde vloer se knoppie te druk. ’n Groot hand beweeg bo-oor hare en druk die knoppie voordat sy kan.

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s