Helende liefde − Anna Penzhorn

Helende liefde_Anna Penzhorn

In die gastebadkamer in die huis gaan sy voor die wasbak staan, haar hande styf om die rand gevou. Sy is naar genoeg om op te gooi en druk haar gesig in ’n handdoekie. Jy oorreageer, Andrea, maar dit maak geen indruk nie. Toe die deur oopgaan, draai sy om, kyk met die handdoekie in haar hand na Babette.

“Voel jy sleg?” vra Babette. “Ek het gesien jy storm die huis in.”

“Wie is sy? Die koei onder die lapa met die lang rok en swart hare.” Sy haal rukkerig asem. Van wanneer af is sy so platvloers? Wie is hierdie mens in haar wat tale praat wat nog nooit deur haar kop gegaan het nie?

“My magtig, Andrea, dis tog vanselfsprekend dat Reynard sy suster en Ludwig vir sy verjaardag sal nooi. Ek het jou gesê Jessica is terug van Engeland af.”

“Wat het sy wat ek nie het nie?” Die woorde kom gesmoord toe sy die handdoekie weer voor haar gesig hou. Die naam wat sy uit Dewald wou kry, is Jessica. Maar haar regte naam is nie Rosa of Jessica nie, dis Jesebel.

“Sover ek weet, het Jessica niks aan jou gedoen nie.” Babette klink gelyktydig ergerlik en uit die veld ge-slaan.

“As jy om my man af te vry niks noem nie, is jy reg. Wat ek wil weet, is hoe sy dit reggekry het om van Dewald ’n hond te maak wat tewe uitruik?” Haar stem klink vreemd, haar woorde des te meer.

“Wat probeer jy my vertel?”

“Ek het Dewald en daardie vrou in die gimnasium betrap. Daar was nog bloed aan hulle hande ná die moord gepleeg is.”

“Ek het aangeneem Dewald en Jessica ken mekaar. Hoe goed of sleg weet ek nie.” Dit lyk of Babette ’n vuishou tussen haar oë gekry het.

“Het sy en Dewald ’n verhouding gehad voor sy Engeland toe is?”

“Nie waarvan ek geweet het nie. Ek is seker Reynard ook nie. En soos ek gesê het, Ludwig is ’n leerder in Dewald se skool.”

Sy vee haar gesig met die handdoekie af en sê soos ’n nagedagte: “Ek onthou nou. Haar seun is die blinkste sterretjie aan die hemelruim.”

“Ludwig is ’n paar maande ouer as Louw en in Engeland gebore. As sy met Ludwig se pa getrou het, weet niemand daarvan nie.”

“’n Buite-egtelike kind. Dit pas by die prentjie wat ek van haar het.” Sy het al met baie meisies te doen gekry wat ontydig swanger geraak het, maar geeneen veroordeel nie. Sy het hulle met deernis behandel. Maar dit was die ou Andrea.

“Almal dink aan Ludwig as die Engelsman se seun en nie ’n buite-egtelike kind nie.”

“Ten minste weet ek nou Dewald lieg nie oor die gholf nie.” Sy kam haar vingers deur haar hare wat in haar nek vasgesweet het. “Dit sou natuurlik ’n verleentheid vir hulle gewees het om saam gesien te word. En toe besluit hy om vir die naweek te verdwyn – die weg van die minste weerstand. Die bliksemse pateet.”

Helende liefde is nou beskikbaar by LAPA Uitgewers: http://bit.ly/2slBo7D

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s