Hysbak, visbak of glaskas – Felicia Snyman

Twee van my pragtige vriende het onlangs ‘n baba ryker geword. En, o, hoe wens ek ek kan hierdie blog aan hom wy, maar ongelukkig betower hy ons nog as ’n slapende skoonheid. Met hierdie baba in my gedagtes, is ek en my suster hospitaal toe om te gaan kuier. Ons stap ewe galant by die hospitaal in met een doel voor oë en spring in die hysbak. In hierdie twee-by-twee-boks stop ons opgewondenheid vir byna ’n minute. ’n Hysbak is die aardigste en ongemaklikste plek suid (en noord) van die ewenaar. Hier staan jy teen ’n wildvreemdeling en kan nêrens heengaan nie. Dit is ’n baie vreemde konsep en ek glo elke mens op aarde het ’n ongemaklike hysbak-storie.

Op universiteit het ek in die hysbak het letterlik tussen twee vloere gaan staan. Ek dog ek sterf net daar of krul in ’n bondeltjie op en word deur die krake ingesluk. Gelukkig vas daar ’n ander student saam met my en het ek byna in sy onverwagse arms gespring as beskerming. Daar het ek na twintig minute besef ’n hysbak is een van die mensdom se swakste uitvindings.

By die hof is dit ’n heeltemal ander balspel. Elke mens wat al ooit daar was, sal weet die walglike vuil trappe is ’n baie beter opsie. Kom ek beskryf die hysbak-scenario: jy druk die knoppie, die deur gaan oop, honderd mense spring in, bondel, druk jou in die hoek vas. Jy is moontlik onder iemand se arm vasgedruk en spartel vir lug, asem, vryheid. Dan begin die hysbak skree. Oorvol. Daar staan almal soos ’n trop skape en kyk vir mekaar. Moontlik ’n stilswyende debat oor wie die vettie is wat die maksimum gewig oorskry. Na ’n paar minute klim iemand uiteindelik uit sodat die hybak op sy roete kan vertrek en op elke liewe vloer kan stop. Want dit is mos teveel moeite om een stel trappe te klim …

Kan ek net vra hoekom moet hysbakke spieëls inhê? Nou sien jy daar is ’n voëlnessie agter in jou hare, jou uitrusting is toe nou nie so spoggerig soos jy gedink het nie en maak nie saak waar jy kyk nie jy maak in elke spieël oogkontak met die vreemde pankoppie aan die oorkant.

Glashysbakke is die ergste. Op papier is dit ’n pragtige konsep, dit het die mooiste uitsig en lyk so weelderig. Maar daar is altyd meer as tien verdiepings en die gevoel van bewegingsiekte en angs dreun in jou ore wanneer jy met ’n spoed grond toe val. Moet ook nie vergeet dat meeste van hulle letterlik so groot is soos ’n posseël nie. EN…almal kan jou van oral af bekyk. Persoonlike spasie is ’n absolute mite. Basies kom dit daarop neer dat ’n hysbak nie die plek is waar jy romantiese drome koester nie.

Wel… miskien moet ek hierdie hysbak-situasie verander in ’n sprokiesverhaal deur ’n held daarin te plaas.

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s