Lank en gelukkig − Magdaleen Walters

Lank en gelukkig_voorblad_high res

“Sal ek gou vir ons iets gaan kry om te eet?” vra Henco toe hy met ’n droë hemp van Gideon aan uit die kamer kom.

Gideon het ook ander klere aangetrek, ’n denim en ’n T-hemp en ’n paar tekkies, maar hy lyk nog steeds na ’n geregsdienaar. Die materiaal van die T-hemp span oor sy boarms en borskasspiere. ’n Regte kragman, dink sy. Van die soort wat gewigte moet optel om hul sterk genoeg te maak om hul ego’s te dra. Hy sit seker elke Saterdag voor die televisie en skree op mense wat baie beter kan rugby speel as hy. Waarskynlik neem hy nog deel aan Nieu-Seeland se haka ook. Tot by die tong-uitsteekdeel. Sy ril.

“Thanks, man. Dit sal waardeer word,” sê Gideon in antwoord op Henco se voorstel. Hy kyk na haar. “Ek het gewonder of jy my nie wil kom handgee nie. Hier’s nog van jou goed in my kamer.”

Sý kamer.

Sy stap agter hom aan, net om in sy kamerdeur trompop in een van haar skilderye vas te loop.

“Sorrie,” kom die diep stem. “Waar kan ek hierdie vir jou sit?”

“Seker maar daar iewers in my kamer. Dis mos waarheen alles gedra word. Of daar plek daarvoor is of nie.”

Gideon stryk aan, by haar verby na haar kamer toe.

“Hier is plek,” laat hoor hy ná ’n rukkie voor hy weer by haar verbykom.

Sy stap om te gaan kyk. Haar klein skilderytjie van die ballerina hang nou aan haar kamerjapon se haak agter die deur en die groot prent wat Gideon ingedra het, hang nou in die ballerina se plek, sodat net die helfte daarvan agter die spieëlkas uitsteek.

Sy staan nog daar, toe kom Gideon in met haar porseleinpop in sy hande. Sy het nogal gewonder waar dit is terwyl sy gepak het.

Hul oë ontmoet. Syne is ernstig. Boetvaardig.

“Sorrie,” sê hy. “Ek het nie die pop gesien nie. Dit het op die vloer gelê en toe trap ek daarop.”

Hy hou Betsie versigtig vas asof sy ’n rugbesering het. In sy groot palm lê die fyn porseleingesig in drie stukke. Die een oog kyk dak toe en die ander een loer tussen Gideon se vingers deur vir haar.

En net daar bars sy in trane uit.

“Dis oor jy hier inbars,” huil sy. “Dis oor jy nie omgee nie. Dis oor jy groot en sterk is en dink jy kan doen net wat jy wil!”

“Nee,” sê hy asof hy probeer redelik wees, asof hy met ’n kind redeneer. “Kom ons hou by die feite. Dit het gebeur omdat die pop half onder die bed op die vloer gelê het. Ek het hom nie gesien nie.”

Sy vat haar hande voor haar gesig weg en staar na hom.

“Háár,” vervies sy haar. “Dis mos nie ’n ‘hom’ nie. Sy’t ’n rok aan.”

“En ek bars nie hier in nie,” gaan hy op dieselfde trant voort. “Ek probeer mooi intrek dat jou goed niks oorkom nie. En ek kán doen wat ek wil, want dis my woonstel.”

Hy kyk af na Betsie se flentergesig. “Dis buitendien ’n baie ou pop. Ek is seker daar is baie van hulle in die winkels wat baie mooier is.”

Dit was die laaste strooi.

“My pá het haar vir my gegee!”

Met die woord “pa” stamp sy haar voet. Sy gee ’n tree vorentoe, druk haar hande teen sy massiewe borskas en begin stoot. Deur toe! wil sy hom nog toesnou. Uit met jou! Maar sy versit hom nie soveel as ’n sentimeter nie. Hy leun by haar verby en sit Betsie op haar bed neer en stap toe by die deur uit.

Advertisements

2 thoughts on “Lank en gelukkig − Magdaleen Walters

  1. Bets Smith says:

    Hier kom ‘n ding, lyk dit my. ‘n Interessante ding. Ek kyk uit die die boek in ons winkels 🙂 .

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s