Ontembare bruid − Dina Botha

Ontembare bruid

“Ons trou vandag en vertrek saam na Bruidevallei vir ons sogenaamde wittebrood. Oor ’n paar dae keer ek terug na die Santa Maria en neem my vrag slawe verder. Wanneer ek oor ’n paar maande weer in die Kaap is . . . nou ja, dan maak ons die huwelik amptelik. Dit sal jou meer as genoeg tyd gee om aan die gedagte gewoond te raak.”

Dis nie regtig wat sy wil hoor nie, maar ten minste gaan sy tyd wen.

“Goed, dit klink aanvaarbaar. Hopelik is my ouers voor daardie tyd terug in die Kaap.” Sy kyk weer by die venster uit en skielik is sy haastig om alles agter die rug te kry. Hoe gouer Miguel uit die Kaap is hoe beter vir haar. “Ons kan maar ry. My tante is seker al rasend van bekommernis,” gee sy met grasie in.

Toe die koets voor haar tante se huis stilhou, kom ’n bleek Magrieta dadelik uit. “Dank Vader, hartjie! Ek het gedink jy kom nooit huis toe nie.” Sy steek haar hande na Jacqueline uit en vou haar in haar arms toe. Dan begin sy raas. “Toe-toe! Jou bad wag en jy sal moet gou maak, anders gaan jy beslis laat wees.”

Jacqueline kyk om. Die genoegdoening wat sy op Miguel se gesig lees, irriteer haar skielik. Hy dink miskien hy het hierdie ronde gewen, maar dis nie hoe sy dit insien nie. Sy is nog ver van oorgee af, en daar is nog lank nie ’n wenner in hierdie stryd nie. Sy trek haar skouers terug en in haar groen oë is daar onmiskenbaar ’n uitdaging. “Ek hoop . . . nee, ek is seker jy gaan hierdie dag nog berou, Miguel Cortés.” Dan gooi sy haar hare terug oor haar skouer en stap kop omhoog weg.

Miguel onthou van die trommel wat nog by sy voete staan. “Wat van die rok?”

Haar oë is onleesbaar toe sy hom antwoord. “Ek aanvaar my moeder se rok, maar nee, ek gaan nie vandag daarin trou nie. Ek sal wel iets anders kry om te dra.”

Om in daardie pragtige rok met iemand te trou wat sy nie liefhet nie, sal soos grafskending wees. Sy ken Angelique en sy weet wat haar bedoeling met die rok was – dat sy dit moet aantrek vir die man wat sy liefhet. Sy weet net nie of haar moeder gedink het sy sal sommer net so op die groot, onaantreklike Miguel verlief raak nie.

Die blote gedagte laat haar keel toetrek. Sy sal daardie rok vir die regte man in haar kas bêre. Sy twyfel nie een oomblik daaraan dat sy hom wel nog gaan ontmoet nie. Die voorval met Miguel is net ’n tussenspel, buitengewone omstandighede buite haar beheer. As daar meer tyd was, sou sy beslis aan ’n manier gedink het om dit vry te spring. Laat Miguel Cortés maar dink sy is gewillig. Voor hy weer sy voete in die Kaap sit, het sy die katastrofe uitgepluis.

Miguel kyk die trotse meisie agterna. Toe sy by die deur instap, lag hy saggies. “Jou mak houding flous my glad nie, Jacqueline de Péronne. Ek weet jy gaan in die maande wat kom baie hard aan ’n ander plan werk om van my weg te kom. Maar ek gee nie om nie. Eendag gaan jy nog daardie trourok uit jou eie vrye wil aantrek, en net omdat jy my vrou wíl wees. Dis ’n belofte.”

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s