“Ek is ’n ongeneeslike romantikus” – Magdaleen Walters

Marie britz

Het jy romanses gelees voor jy hulle self begin skryf het?

Ek was in standerd vier, nou graad ses, toe my ouers my toegelaat het om my eerste romanse te lees. Dit was ’n Mills en Boon-boek geskryf deur Lucy Walker. Van daar af het ek hierdie boeke verslind. Dit was vir my die beste gebeurtenis sedert Enid Blyton. Ek is later universiteit toe om BA-Tale te studeer en in die biblioteek het ek rakke vol romanses ontdek, boeke wat nie in ons klein Vrystaatse dorpsbiblioteek was nie. Ek was soos ’n kind in ’n gratis lekkergoedwinkel en moes myself gereeld dwing om die lekkernye neer te sit ter wille van my literatuurstudies. Ek is as’t ware op liefdesverhale grootgemaak.

Was daar ’n spesifieke romanse wat jou genoop het om self jou hand daaraan te waag?

Ek kan met oortuiging sê dat die eerste romanse wat ek gelees het, die begeerte om self te skryf in my wakker gemaak het. Ek was ongelukkig net vir baie jare onder die indruk dat ek nog baie moet leer en moet lees voor ek dit moet waag. Ek het waarskynlik kosbare tyd verspeel omdat ek nie in myself geglo het nie.

Lank en gelukkig is jou eerste Romanza in twee jaar. Wat is jou grootste uitdaging wanneer jy ’n romanse skryf?

Eerlik gesproke speel tyd ’n groot rol in my skryfwerk. Ek is deur ’n tydperk waar ek twee werke tegelykertyd probeer doen het en my skryfwerk het sleg in die stof gebyt.

Lank en gelukkig_voorblad_high res

Lank en gelukkig is beskikbaar by LAPA Uitgewers! 

Soos watter bekende lyk Gideon?

My helde kom gewoonlik uit my kop en nie van ’n foto af nie. Maar as ek mooi dink moet ek toegee dat hy dalk na Chris Hemsworth kan lyk.

Wie of wat was die inspirasie vir Gideon?

Ek het met iemand uit ons Spesiale Taakmag-eenheid gesels en ’n groot bewondering gekry vir die werk wat hierdie mense doen. Dit het my onder die indruk gebring van die tipe karakter van hierdie mense en die feitlik onmoontlike eise wat soms aan hul gestel word. Hul werk stil-stil en baie van ons weet nie eens van hierdie helde in ons midde nie. Almal praat van die Navy Seals van Amerika, maar ons het dieselfde kaliber mense met dieselfde vlak van opleiding in ons eie land.

Watter een eienskap moet ’n held het om hom aantreklik vir jou te maak?

As ek ’n eienskap moet uitsonder, sal dit integriteit wees.

Watter boek/e is op die oomblik op jou bedkassie?

Ek is besig met Christina Caboni se The Secret Ways of Perfume, ’n geskenk van my sus. En ‘n paar boeke uit Pamela Claire se I-team reeks, wat ek nou vir die tweede keer lees; Unlawful Contact, Breaking Point en Hard Evidence. (My dogter het my aan hierdie reeks bekendgestel.) Onder in die bedkassie wag ’n stapel van Lapa-boeke hul beurt af. Die meeste is Chanette Paul s’n. Een is Wilna Adriaanse s’n. As ek net sal ophou om die lekker boeke oor en oor te lees, sal daar nie so baie nuwes lê en ophoop nie. Soos Simon Green se Blue moon rising. As ’n kind het ek Ruiter in die nag seker ’n honderd keer gelees. En as volwassene ontdek ek Braam en die engel, ek lees dit elke paar jaar.

Sommige skrywers begin met karakters, ander met ʼn storie (plot). Ek het selfs al iemand hoor sê hy begin met die ruimte waarin ʼn storie afspeel. Watter deel van ʼn storie ontkiem eerste in jou kop?

Ek begin by ’n karakter en ’n situasie. Dis ’n half onwillekeurige gedagte wat ontstaan en as ek bietjie nader daarna kyk, ontdek ek ’n storie.

Hoeveel beplanning en navorsing doen jy voordat jy begin skryf?

Vir die Kaapse verhaal wat ek jare gelede geskryf het, het ek weke se navorsing gedoen en ’n hele dik hardebandboek vol geskryf met al die inligting wat ek bymekaar gemaak het. Vir sommige stories are my eie ervaring genoeg om die verhaal op te bou. Vir ander moet ek kennis insamel. So het ek ’n twee-dag kursus in aromaterapie gaan doen voor een van my stories. ’n Ander keer het ek vir lesse in belly dancing gegaan – iets wat my korrekte moeder so ernstig geskok het dat ek skoon verleë was. Partykeer beplan ek bladsye vol voor ek skryf, partykeer beplan ek niks. Elke storie het sy eie manier van loop.

belly-dancing

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Cecilia Britz het my in my beginjare gehelp om my voete te vind. Sy het my vertel dat dit in orde is om uit die hart te skryf, dat jou gevoelens en emosies jou mag lei. Ek dink dit was die wysste leiding wat ek ooit gekry het.

Waarom romanse-genre? Is dit een van jou gunsteling genres?

As ek skryf, is dit ’n liefdesverhaal. Maak nie saak wat ek oorspronklik bedoel het dit moet wees nie. Ek dink nie ek sal ooit ’n verhaal sonder liefde kan skryf nie, al probeer ek ook. Ek is ’n ongeneeslike romantikus. Ek glo in liefde as die essensie van die lewe. Ek sou baie graag ook spanningsverhale vol skop en skiet wou skryf, soos ons al hoe meer in Afrikaans sien, maar ek het nie die nodige kennis van skop en skiet nie. Van die liefde, ja. Daaroor kan ek skryf. Want ek ken dit en ek glo daarin. Ek het as tiener dikwels gewonder hoe Adam en Eva se ontmoeting verloop het, hoe sy gevoel het toe sy op die geurige, klam paradysgrond haar oë oopmaak met die geroep van die paradysvoëls in haar ore en hierdie stomgeslaande bebaarde gesig hier voor haar sien. Ek het al dikwels gewonder hoe hul leer-ken-mekaar verloop het, hoe hul uitgevind het hul is anders as die ander een, hoe hy moes beïndruk en sy moes volg… En daar het dit begin, hierdie ding tussen man en vrou.

As jy nie ’n skrywer was nie, sou jy … wees?

Daar is baie goed wat ek sou wou doen, maar skryf sou ek skryf. Ek sou graag tegnologies superskerp en uitstekend opgelei wou wees in sake van ekonomiese belang en dan sou ek daardie kennis gebruik het om briljante spanningsverhale te skryf, internasionale speurverhale wat mense sou stomslaan met die fyn uitgewerkte plot. (Ons mag almal ons drome hê.) Soos dinge nou staan, bedryf ek die rekenaar met my kinders se hulp.

Jy het tans terug gekom van ’n skryfsessie in die Bosveld. Wat kan jy ons vertel van jou volgende boek?

Vir die eerste keer in my lewe het ek koers gekry op my eie en net gaan sit en skryf. Wat ’n voorreg! Dit was ’n geskenk van my man. My volgende boek kom diep uit my hart.  My heldin is nie die tipiese beeldskone, volmaakte vrou nie. Ek weet hoe sy  voel en ek voel saam met haar. Ek weet daar is nog baie ander vroue wat ook weet hoe sy voel en dalk skyn daar ’n spul sonskyn tot in hul harte wanneer hulle die verhaal lees.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s