Moedswillige vreemdeling – Rika du Plessis

moedswillige vreemdeling_high res

“Naand, mense. Ek hoop nie ek pla nie, maar daar is iets wat ek met Christa moet bespreek,” dring Derek se stem tot Christa deur, en eers nou sien sy hom in die deuropening staan.

Almal groet hom, en terwyl Christa opstaan, wonder sy hoe lank hy al so stil daar staan.

“Verskoon my, asseblief, maar dit lyk darem of almal klaar geëet het. Dankie vir die saam eet, Brandon, sien jou weer,” groet Christa en stap saam met Derek stoep toe.

 

“Kan ons ’n entjie gaan stap? Wat ek met jou wil praat, is nie vir ander ore bedoel nie,” sê Derek ernstig toe hy en Christa die stoep bereik.

“Is reg so,” antwoord sy en begin solank die trappies een vir een afstap. Dis lank stil voor Derek eindelik begin praat.

“Die aanstelling wat jy vir my gemaak het, is ’n yslike fout, Christa. Jy het vir Marina, my eks, aangestel.”

“Jy kan my nie blameer nie. Hoe moes ek geweet het dis sy? Ek het nie eens haar naam geken nie. Vir my was sy ’n mevrou Crous, en sy het niks genoem dat sy jou ken nie. Hoe is dit dat jy nie gewonder het toe ek vir jou gesê het haar van is Crous nie? Ek het eers besef dis sy nadat ek jou met haar hoor praat het. Ja, dis reg, ek het ’n deel van jul gesprek by jou spreekkamer afgeluister omdat ek kon sien iets is verkeerd nadat ek julle aan mekaar bekendgestel het,” sê Christa effens op haar perdjie omdat sy stem beskuldigend klink.

“Dit is ’n algemene van, en ek het vir geen oomblik aan haar gedink nie. Wat my betref, was sy nog iewers anderkant die waters met die man. En ek beskuldig jou nie, ek sê net dit is ’n fout.”

“As dit vir jou so erg is, hoekom het jy nie vir haar gesê jy aanvaar nie haar aansoek nie?” vra sy uitdagend.

“Jy vergeet sy het ’n kontrak geteken. Ek het pas die meeste van my kapitaal in die oord se besigheid gestort en ’n nuwe praktyk oopgemaak. Om nou ’n saak van kontrakbreuk of soortgelyke dinge in die hof uit te spook, kan ek nie bekostig nie.”

“Eintlik jok jy nou so half en half vir my. Jy het teenoor haar erken jy het nog altyd vir haar moeilik nee gesê, en daarom laat jy haar aanbly,” kan Christa nie die ligte beskuldiging keer wat oor haar lippe rol nie.

“Ek ontken dit nie. Dit was altyd vir my moeilik om haar iets te weier. Ek het egter nou ’n voorwaarde gestel. As ek tevrede is met haar werk in die eerste drie maande, kan sy bly, so nie moet sy gaan. En ek het haar gesê ek is net haar werkgewer en sy my werknemer, niks meer nie. Marina is knap in wat sy doen. Ek het lank saam met haar by die hospitaal gewerk en het ondervinding daarvan.”

“Nou maar as jy klaar alles so vir jouself uitredeneer het, waarom wou jy dit met my bespreek?” vra sy, vies vir haarself vir die fyn geknaag van jaloesie wat aan haar hartsnare kom tokkel.

“Dis vir my belangrik om jou te laat verstaan presies hoe sake staan wat ons verhouding op die oomblik betref. Dis ’n suiwer werksverhouding, niks meer nie.”

“Ek vra weer hoekom? Jy lei jou eie lewe en ek het niks daaroor te sê of daarmee te doen nie. Vir my is jy my vennoot in die oord se besigheid, niks meer nie,” antwoord sy nou ietwat kortaf. Sy skrik toe hy meteens voor haar kom staan en sy hande op haar skouers plaas.

“Ek en jy weet albei dis nie al wat ons vir mekaar is nie, Christa. Jy kan baklei daarteen soos jy wil, maar ek weet jy staan nie heeltemal onverskillig teenoor my nie en ek ook nie teenoor jou nie,” sê hy hees.

Christa se hart gee ’n dubbelsprong. Nie seker oor wat hierdie woorde van hom beteken nie, rem sy om onder sy aanraking uit te kom, maar hy hou haar net stewiger vas.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s