Ridder van die branders − Rika du Plessis

ridder van die branders_voorblad_high res

“Jy het sowaar vonkelwyn gebring? Dit sal lekker wees en dit soos ’n regte viering laat voel,” antwoord sy verras.

Hy lag sag en skink vir hulle. Sy glasie blink in die lig van die maan toe hy dit teen hare klink.

“Op jou sukses en ons vriendskap,” sê hy.

“En op jou wat my so baie gehelp het, al het ons in die begin maar goed koppe gestamp,” antwoord sy en neem ’n slukkie.

’n Rukkie sit hulle so stil totdat hy die stilte verbreek.

“Daar is nog al die jare vir my ’n bekoring in die blink skynsel van die maan op die see se golwe, en die skuimrand wat dit op die sand kom uitrol, en vanaand is dit vir my die mooiste wat ek dit nog ooit gesien het. Dalk is dit omdat ek dit met jou kan deel, kan sien jy waardeer dit ook.”

“Beslis, die maanlig doen nie slegs wonders aan die mens se siel nie, maar verander alles in ’n sprokieswêreld waarin ’n mens soms kan verdwaal,” antwoord sy en draai haar kop in sy rigting.

Hy sit vir haar en kyk, en omdat die maan op haar gesig skyn, weet sy hy kan dit duidelik sien, maar syne is vir haar ’n dowwer kol omdat die maan agter hom is. Dis ineens of die res van die wêreld buite hierdie magiese omgewing en oomblikke nie vir haar bestaan nie. Hy neem haar glasie versigtig uit haar hand en sit dit saam met syne op die plat rots neer. Sy kop kom nader aan haar en Dineke se hart struikel in sy skielike onstuimige klop. Toe sy lippe warm oor hare sluit en sy hande sag om haar wange skulp, is sy verlore in die samesmelting van alles om haar. Haar hande kruip teen sy bors op, en die een vou agter om sy nek. Onder haar ander hand klop sy hart sterk en ongewoon vinnig.

Hy los haar gesig, en vou sy arms om haar lyf om haar nader aan hom te trek. Beheer oor haar liggaam se behoeftes het sy al met die warmte van sy lippe op hare verloor. Toe sy tong hare soos ’n vlinderslag aanraak, bruis daar ’n heerlikheid deur haar wat haar liggies na asem laat snak, en sy leun stywer teen hom aan, soen hom terug met ’n drif wat syne op hierdie oomblik ewenaar.

Albei van hulle ruk soos hulle skrik toe die skerp, klaende gemiaau van ’n kat skielik kort agter hulle opklink, gevolg deur ’n sissende blaasgeluid en nog ’n miaau.

Die hede kom stadig terug in Dineke se gedagtes, en sy druk sag teen sy bors om van hom af weg te skuif. Hy laat haar amper traag los, maar probeer haar nie keer nie. Stil tel hy hulle glasies op en oorhandig weer hare sonder om ’n woord te sê. Haar hart tamboer steeds in haar borskas, en sy neem sommer ’n groot sluk wat die glasie ledig. Hy doen dieselfde met syne en plaas dit saam met hare terug op die rots.

Hulle het tog besluit hulle is net vriende; wat het dan nou net hier gebeur?

“Ek is honger, en jy?” vra hy met ’n heserige toon in sy stem, en sy besef hy is dalk nou net so verward as sy.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s