Soois Bruwer se probleem − Rika Cloete

Wat was die inspirasie agter Doodsroeper?

Dit het alles begin met ’n klein dogtertjie. My susterskind, Karla, het ’n storie oor ’n bos sonder voëltjies, die Stilbos, opgemaak en dit vir my vertel. Die idee het my geslaan soos ’n voorhamerhou. En toe steel ek dit. ’n Bos sonder voëls smeek mos vir ’n vreemde karakter om daarin te woon, of hoe? Omdat ek boonop ’n obsessie met ware misdaad en misdaadfiksie het, het ek besluit om my eie Stilbos met die Doodsroeper, ’n lyk, verkragters en ’n moordenaar te populeer. En siedaar, Doodsroeper is gebore.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Doodsroeper is ’n historiese moordraaiselroman wat in die jaar 1861 afspeel. Omdat daar toentertyd nog nie forensiese wetenskappe en dinge soos vingerafdrukke, poligrawe en bloedtoetse was nie, was die grootste uitdaging vir ’n ondersoeker om ’n moord met sy gesonde verstand te probeer oplos. Dit het inderdaad die hoofkarakter, Soois Bruwer, se probleem geword. En toe sommer ook Rika Cloete s’n.

doodsroeperFacebook add

Doodsroeper is ’n treffende titel. Hoe het jy daaraan gekom?

Ek wou iets soos die Ierse banshee in die Stilbos laat dwaal en die naam Doodsroeper het net skielik uit die bloute by my opgekom. Ironies is dat uile ook in die volksmond as doodsroepers bekend staan. Met ’n bos sonder voëls kon hulle egter nie ’n rol in die storie speel nie.

Wat het jy gedoen ter voorbereiding om in Soois Bruwer se kop te klim?

Om te skryf, is vir my byna soos om ’n geslagslose skisofreen te wees. Daarom was dit nie moeilik, of selfs onnatuurlik, om in Soois se kop te klim nie. Mense wat my ken, weet elk geval te vertel dat my animus baie sterk is, dus het ’n manlike hoofkarakter my soos ’n handskoen gepas. In dieselfde asem moet ek noem dat ou Soois vroumense regtig baie beter verstaan as al die ander mans in die storie. En dit wil gedoen wees.

Die Stilbos is ’n baie belangrike plek in die verhaal. Watter plek was die inspirasie agter die bos?

Naby Kathu, in die Noord-Kaap, staan ’n onverwagte groen kameeldoringbos in die middel van die droë woestynlandskap. Weens ’n ondergrondse wateraar wat daar loop, word die bos voortdurend van water voorsien in teenstelling met ander plantegroei in die omgewing wat van die reënseisoen afhanklik is. Dit is vandag ’n nasionale erfenisterrein. So ’n sonderlinge oase is mos magies.

Hoe kies jy jou karakters se name?

Hulle kies hulle eie name en trap my uit as ek probeer inmeng.

 Watter drie woorde sal jou skryfproses beskryf?

Skryf, herkou, herskryf.

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Ek weet nie wie dit gesê het nie, maar die volgende spook altyd by my: “The worst thing you write is better than the best thing you didn’t write.” ’n Skrywer moet eenvoudig skryf.

Wat is die beste raad wat jy kan gee aan ’n voornemende skrywer?

Neem jou skryfwerk ernstig op, nie jouself nie.

 Wie is jou skryfrolmodelle?

Colin Dexter, Sir Arthur Conan Doyle en Sally Andrew.

Wat is noodsaaklik op jou lessenaar (behalwe jou rekenaar) om lekker te kan skryf?

Ek skryf nie altyd by my lessenaar nie, maar groen koeldrank, Smarties en my twee Yorkies in die omtrek is nie onderhandelbaar nie.

Wat is jou grootste skryffiemies?

Ek raak mal oor waar kommas in sinne moet kom en spandeer soms ’n halfuur om daarop te besluit. Dit moet rég wees, anders irriteer dit my. En dan, nes ek gerus is, kom die drukkersduiwel tussenin … Ek hou ook glad nie daarvan om te veel met tydsvorme en terugflitse te speel en die leser só te verwar dat hy of sy nie die storielyn behoorlik kan volg nie. Dinge moet afgerond wees en elke los draadjie moet opgetel word.

Aan watter skryfgewoonte (van jouself of ander skrywers) het jy ’n broertjie dood?

Soetsappigheid, langdradigheid, mooiskrywery en geforseerde, belaglike humor steek my dwars in die krop.

Doodsroeper is jou eerste spanningsroman, maar ’n digbundel en avontuurverhaal het ook al uit jou pen verskyn. Wat geniet jy van elke genre?

Die gedig se vermoë om baie met min woorde te sê, bly vir my ’n wonder. In die geval van ’n storie is die ruimte weer vir my lekker. Omdat my stories geheel hulle eie loop neem, kan die karakters in ’n groter ruimte vryelik ontwikkel. Ek kan eintlik net terugsit, kyk wat hulle doen en dit neerskryf.

Sal jy in een genre wil spesialiseer?

Ek is nou eers besig om my voete behoorlik te vind en op die oomblik is die wêreld van skryf veels te opwindend om my net aan een spesifieke genre te verbind. Daar is baie stories en hulle kan op baie verskillende maniere vertel word. Ek wil dus alle waters toets totdat ek die see gekry het waarin ek die graagste wil swem.

Wat is volgende vir jou in die pyplyn?

Ek is nog nie seker nie. Maar daar vloei ten minste water in die pyplyn en ek het die kraantjie darem ook al oopgedraai …

Kyk hier na Rika se onderhoud op Ontbytsake!

 

Advertisements

One thought on “Soois Bruwer se probleem − Rika Cloete

  1. amandacl says:

    Rika gesels werklik heerlik hier. Ek is gretig om die boek verder te lees, veral omdat dit sulke unieke uitdagings bied eie aan die tyd waarin dit afspeel. Geen maklike uitweg met forensiese toetse ens nie. Kan net interessant raak!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s