VIER MAGIESE WOORDE – Ria Richards

Vier magiese woorde

“Eintlik was dit Sebastian . . .”

“Ek hoor my naam; word daar miskien van my geskinder?” Sebastian loer om die veiligheidshek. Sy oë gly waarderend oor Zayleandré, van haar blinkgladde hare tot by haar donkerpienk, nommer-vyf-hoëhakskoentjies wat net-net onder die broeksome uitloer. Hy lek ondeund oor sy lippe en rek sy oë groot. “H’m . . . lekker!”

Verpestelike mansmens! Tog vloei ’n heerlike warmte deur haar. Is dit dalk presies die reaksie waarop sy heimlik die hele tyd gehoop het?

“Is julle dames reg om te ry?” vra hy eintlik meer vir Zayleandré as vir sy tante.

Sy tel haar naweektas van die vloer af op, maar kyk in ’n heel ander rigting toe hy die tas op die stoeptrappie by haar vat. Sy loop vinnig agter tannie Babsie aan terwyl hy met haar tas om die hoek verdwyn na waar sy motor geparkeer staan. Nou wonder sy skielik of dit wys was om haar te laat ompraat dat hulle met een motor ry.

Die volgende paar minute gaan dit dol. Dit lyk amper of omtrent die helfte van tannie Babsie se huisinhoud op haar agterstoep staan om gelaai te word.

“Genade, tannie Babs, julle kom net vir ’n naweek kuier, nie vir maande nie. En ons ry met ’n motor, nie ’n bus nie. Hoe op dees aarde dink Tannie moet ek al hierdie goed in die bagasiebak kry?” laat Sebastian mismoedig van hom hoor.

“Hou op mor, boetie. Dis als goed wat nodig is, anders sal ek dit mos nie saamvat nie. Spring aan die werk, ons wil nie middernag op Bella-Donna aankom nie. Die naweek is kort en ek wil darem nog voor slapenstyd vir my ousus hallo sê.”

“Watse plek?” Zayleandré se oë rek groot. “Waar op aarde is dit?”

“As jy saam met my ry, is dit so ’n rapsie meer as ’n uur van hier af. Dis net buite Warmbad, of Bela-Bela, soos wat die dorp deesdae genoem word,” lig Sebastian haar vaagweg in.

Hoe kon sy so naïef wees? Sy het sommer aangeneem dat Sebastian hier naby iewers bly omdat hy so tydig en ontydig hier uitslaan.

“Toe, ou seunie, hoe gouer jy begin laai, hoe gouer kom ons hier weg,” dring tannie Babsie se gebiedende stem weer tot Zayleandré deur.

 

Dis egter al net voor nege toe hulle uiteindelik – na ’n gesukkel om ’n pap band omgeruil te kry – die helderverligte ingangshek van Bella-Donna bereik. Die hekwag groet ywerig, wissel ’n paar woorde met Sebastian en maak die swaar ysterhekke flink oop sodat hulle kan deurry.

Zayleandré se mond hang letterlik oop. “Dis ’n vakansieoord!”

“So? Het jy enige besware om die naweek as my genooide gas by ’n vakansieoord te ontspan?”

Die realiteit van die oomblik tref haar met ’n harde slag. “Hoekom het jy nie voor die tyd vir my gesê jy is van plan om my hierheen te bring nie? Ek het glad nie die regte klere saamgebring nie.” Sy dink aan die prim en propper jufrou-die-ontwerpsterpakkies met bypassende bykomstighede om elke uitrusting perfek af te rond in haar tas iewers onder tannie Babsie se bagasie ingepers. Net die beste, het sy gereken, sou goed genoeg wees om hierdie naweek ’n goeie indruk op die Verster-familie te maak. Watse indruk sy hoegenaamd wou probeer skep, sal die man in die maan seker alleen weet.

Sebastian leun so in die ry oor na haar kant toe en fluister: “Want jy het nie voor die tyd gevra waar ek bly nie. Solank as wat jy die regte pajamas saamgebring het, is die saak reg. Jy weet mos van watter ek praat? Ek het juis my ou swart PT-broekie by tannie Babs se huis gelos. By my plek het ek dit mos nie nodig nie.”

Sy kyk rooi van skaamte by die venster uit. Behalwe vir die ligstraal wat die motorligte in die grondpad gooi, is dit stikdonker buite. Toe sy dit waag om verontwaardig na Sebastian te kyk, kan sy die genoegdoening op sy gesig duidelik lees in die dowwe liggies wat uit die paneelbord skyn. Sy kyk vinnig agtertoe. Dis heel duidelik dat tannie Babsie se radars die seine van Sebastian se dubbelsinnige insinuasie onderskep het, maar sy kyk ewe vroom met ’n skynheilige gesiggie reg voor haar uit. Zayleandré kén mos nou al haar gesigsuitdrukking wanneer iets haar amuseer.

Sy vergeet byna om asem te haal. Sê nou hy bly in ’n karavaan en sy word die hele naweek saam met hom ingehok? Dit nogal saam met sy hele familie! Waar gaan almal slaap? ’n Ander gedagte gee haar wilde hartkloppings. Dalk word van haar verwag om ’n tent met hom deel. Of erger, sy slaapsak. Plaas dat sy eerder die lang flennienagrok ingepak het wat ouma Neeltjie eenkeer vir haar geleen het toe dit so koud was op die plaas, in stede van haar fynste, vroulike nagklere.

Nou beskikbaar op die RomanzaApp!

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s