My hart se keuse – Ria Richards

My hart se keuse_voorblad_high res

Die man maak mý kop deurmekaar. Sy neem haar kans waar en trap hard op sy toon. Sy greep verslap en sy maak sy arm om haar los. Met die omdraaislag om van hom weg te kom, loop sy haar trompop in ’n ouerige man met ’n kamera vas. “Ekskuus, Meneer,” vra sy verskoning, maar die man het reeds tussen die dansende paartjies in verdwyn.

Vinnig stap sy voor Quintin uit na die tafel waar Anton en Heleen so pas gaan sit het.

“En nou, ou Quintin, dat jy so hinkepinke loop?” Anton kyk agterdogtig na Saskia.

“Ek kan nie sê jy het my nie gewaarsku teen haar twee linkervoete nie. Selfs skoene met staalpunte is nie bestand teen so ’n gewelddadige aanslag nie.”

Quintin vra Saskia nie weer om te dans nie. Hy bly sit en broei die meeste van die tyd by die tafel. Af en toe dans hy met Heleen. Gelukkig kry Saskia nie veel kans om alleen saam met hom te wees nie, want daar is oorgenoeg mans wat maar te gretig is om met haar te dans. Ewe gretig aanvaar sy elke aanbod wat sy kry.

Heelwat later voel sy ’n warm hand op haar skouer en kyk op. Vir ’n oomblik staar hulle mekaar net woordeloos aan.

“Sal ons weer probeer?”

“Ek dog jou tone is vergruis? Dié dat jy so sedig hier sit.”

“Ek sal oorleef, dankie.”

Sy stap gewillig in sy wagtende arms in. Sy gesig raak vreemd afgetrokke. Dis ’n stadige wals. Hy begin veerlig met haar dans, maar dis asof daar ’n tasbare afsydigheid tussen hulle kom lê het.

“Ek is jammer dat ek jou tone probeer vergruis het,” probeer sy ’n gemoedeliker atmosfeer skep. Toe hy nie daarop reageer nie, voel sy lus om skoor te soek. Hoekom, kan sy nie kleinkry nie. “Hoekom vra jy my om te dans as dit vir jou soveel moeite is? Dis nie asof dit jou hart is waarop ek getrap het nie.”

Sy voel aan die rukking van sy breë skouers en die verandering in sy asemhaling dat hy hom vererg het. Hy stuur haar ferm in die rigting van die buitedeur. Sy houding sê dat hy beslis geen teëstribbeling sal duld nie.

Die maan hang soos ’n groot geel bal in die lug. Sterretjies knipoog aan en af. Dit alles neem sy vlugtig in terwyl hy haar agter ’n sipresboom intrek waar die maan nietemin helder op hulle skyn.

“Heleen en Anton gaan wonder wat van ons geword het.” Sy byt haar bewende onderlip tussen haar tande vas.

“Hulle sal twee en twee bymekaartel. ’n Mooi vrou soos jy het ook mos ’n bietjie afleiding nodig.”

“Ek kom al twee jaar sonder ’n man klaar, dankie,” is al wat op die oomblik vir haar sin maak om te sê. Sy wil omdraai – weg van Quintin se magnetiese veld af.

Hy buk vorentoe en kyk diep en lank in haar oë. Sy trek haar asem skerp in toe sy hande haar haastig nader trek. Sy wag gespanne vir die soen, maar dit gebeur nie. Hy stoot haar hare met sy vingers weg van haar hals af. Vee met sy klam lippe liggies oor haar nek. Sy mond beweeg tot by haar kuiltjie.

Sy hou haar asem in. Buig haar kop agteroor. Nou gaan hy haar soen, pols dit deur haar. Haar hart gaan lê skoppend in haar bors. Sy blaas haar asem hortend uit.

Hy lig sy kop op. Sy kyk vas in die blougrys oë.

Die kleur van sy oë het haar aanvanklik laat dink aan uitgebrande houtskool. Maar sy het haar lelik misgis. Daardie kole is nog lank nie uitgebrand nie. Hulle is smeulend. Warm genoeg om ’n vuurtjie in die kern van haar vrouwees te laat opvlam. ’n Vuurtjie wat sy gedink het heeltemal uitgedoof is toe sy Neville – in hulle bed nogal – met ’n baie jong blondine betrap het.

’n Glimlag kruip traag om sy mondhoeke. Is dit spot wat sy in die blougrys oë lees?

“Erken dit nou maar, jy brand om uit te vind hoe dit sal voel as ek jou soen.”

“Is jy nie ’n bietjie voorbarig nie?” Sy maak geen aanstaltes om uit sy hipnotiese sfeer te beweeg nie.

“As jy my verkeerd bewys, los ek jou uit.”

Haar hart klop te vinnig. Angstig klou sy aan hom vas en haal ’n paar keer diep asem.

“Soen my net, jou aap! Kan jy nie sien . . .”

Saskia skrik vir die ongeduld in haar stem. Sy sluk hard om die onuitgesproke woorde in haar keel af te dwing. Vir die eerste keer in haar lewe neem sy die inisiatief. Haar hand gly agter sy kop in.

Hy staan gewillig ’n treetjie nader.

Met haar ander hand soek sy na syne. Lig sy hand op, stoot dit agter haar rug in.

Hy bly staan, afwagtend.

Sy hand bly rus liggies waar sy dit neergesit het. Dan neem haar lyf oor. Haar tong speel in sy nek. Haar tande knibbel liggies aan sy oor. Dorstig drink sy die geur van sy naskeermiddel in. Haar lippe proe aan sy wang, die kant van sy mond.

Sy lippe gaan met ’n kreun onder hare oop. Sy lyf verstaan presies wat hare van hom vra. Met elke streling oor haar beweeg haar heupe nader aan die hitte van sy warm liggaam. Sy is besig om stadig haar selfbeheersing te verloor, maar sy sal later weer die flenters bymekaarmaak.

Saskia voel hoe die vernedering die oorhand kry toe hy haar ru van hom af wegstoot en sy vingers driftig deur sy netjiese hare stoot. Selfbewus draai sy haar rug op hom. Hoe kon sy so impulsief optree? Wat moet die man nou van haar dink? Dat sy desperaat is om ’n man te soen? Dit nadat sy so pas gesê het sy kom al twee jaar sonder ’n man klaar.

Sy draai stadig om. “Quintin, ek is so jammer . . .”

Quintin is nie meer daar nie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s