Dans met ’n maangodin – Rosita Oberholster

Dans met 'n maangodin_voorblad_high res

Kata knik tevrede. Sy bekyk die tert van alle kante. “Perfek. Nie eens die suurlemoenterte in Poppie se Winkel kom naby hierdie een nie. Waar het jy so geleer bak? Jou ma was seker ’n voorslag.”

Lilly glimlag. “Dankie, Kata. Dis ’n lang storie, en ek sal jou eendag vertel. Nou moet jy eers vir my ’n bordjie en ’n koekvurkie aangee sodat hierdie stukkende geute kan regkom. Hulle werk op my senuwees.”

Kata giggel. “Matt gaan sowaar sy groot mond berou.” Sy haal ’n fyn bordjie met ’n blou blommotief uit ’n kas, en ’n ewe fyn koekvurkie. “Gaan maak sy mond stil, Lilly, en kom vertel vir my wat hy sê.”

 

Lilly haal diep asem en klop aan Matt se voordeur. Die deur swaai byna onmiddellik oop. Hy glimlag breed. “Dit was vinnig.”

Sy trek haar skouers liggies op. “As ’n mens weet wat jy doen, is lemon meringue kinderspeletjies,” antwoord sy vermakerig. Sy hou die bordjie na hom uit.

Hy neem dit by haar en staan terug. “Dankie, dit lyk heerlik. Kom binne.”

Sy tree huiwerig oor die drumpel. Haar plan was nie om te kuier nie, maar dit sal seker ongeskik wees om sommer net weer te loop. “Dankie.”

“Jy ken die pad na die kombuis,” herinner hy haar aan haar verleentheid van ’n paar dae terug.

’n Lastige blos dreig om oor haar hals te stoot.

“Ek onthou, ja.” Sy stap voor hom uit en probeer om nie te lyk asof sy ’n laaistok ingesluk het nie.

“Sit gerus,” beduie hy na een van die stoele by die enorme kombuistafel. “Koffie?”

“Dis sal lekker wees, dankie.” Sy skrik toe die woorde uit is. Dit gaan beteken sy moet vir ten minste ’n halfuur ’n sinvolle gesprek met hom probeer voer, en sy weet nie hoe sy dit gaan regkry nie. Nie terwyl elke vesel in haar liggaam al weer aan die knetter en kraak is nie. Wat is dit met goedgeboude mans dat hulle so lief is vir verslete jeans en haelwit T-hemde? Weet hulle wat dit aan die teenoorgestelde geslag doen, of is dit iets wat op instink gebaseer is?

Hy werskaf by die Aga en sit ’n koppie stomende moerkoffie voor haar neer. ’n Melkbeker en suikerpot kry ook hul plek langs die koppie. “Hoe vind jy dit hier op Gatsfontein, mooi Lilly?” Hy gaan sit oorkant haar en trek die bordjie met die lemon meringue tot voor hom.

Sy wens hy wil haar nie so noem nie. Dit roer iets diep binne haar waarvoor sy nie ’n naam het nie. En dit moenie, want sy weet hy is sommer net aspris.

Sy trek haar skouers liggies op. “Ek weet nie. Ek is nog hopeloos te kort hier. Maar wat die omgewing en my blyplek betref, kan ek nie kla nie. Ek dink ek gaan ’n plattelander in murg en been word.”

Hy bring ’n happie van die tert na sy mond en sy wag in spanning op sy reaksie. ’n Beweging by die venster trek haar aandag en Lilly se oë rek soos pierings. Haar asem slaan in haar keel vas en dreig om die bloedtoevoer na haar brein af te sny. Wat de hel gaan met Kata aan? Sy spring op en af voor die venster terwyl sy haar kop woes heen en weer skud. Haar oë en mond is wyd oopgesper en haar arms swaai soos windmeule. Sy beduie om die beurt na Matt en die tert en dit lyk asof sy wil huil.

Dit voel vir Lilly asof haar hart wil gaan staan. Iets is fout. Iewers is ’n groot fout en dit het met die tert te doen. Sy kyk na Matt en wens sy kon flou word. Of sommer in ’n koma gaan, sodat sy hierdie vernedering gespaar kan bly.

Sy gesig is vertrek en dit lyk asof hy in asemnood verkeer. “Verskoon my,” mompel hy agter sy hand, verby die stuk tert in sy kies en spring op. Hy storm by die kombuis uit, vermoedelik reguit badkamer toe.

Lilly spring ook op. Vlae paniek golf oor haar. Maak haar warm en koud om die beurt. Wat kan fout wees met die tert? Sy bekyk dit van naby. Te bang om te proe. Dit lyk tog reg. Skougehalte soos altyd. Sy druk haar hande weerskante van haar gesig, teen haar brandende wange. Hierdie verleentheid gaan sy nooit oorleef nie. Moet sy nie maar die tert gryp en hardloop vir haar lewe nie?

Matt kug agter haar en sy swaai om. Hy bekyk haar deur vernoude ooglede. “Probeer jy my miskien vergiftig?”

“Nee,” kom die woordjie skor oor haar lippe. “Ek weet nie wat verkeerd geloop het nie. Ek het dit al so baie gemaak.” Sy maak liggies keel skoon. “Ek is jammer,” bied sy lamlendig verskoning aan.

“Jy het die weddenskap verloor. Maar nou is ek te bang om my prys op te eis. Jy kan duidelik nie kook om jou lewe te red nie.” Hy kom staan reg voor haar. Weer hopeloos te naby. “Ek moes liewer vir iets soos ’n soen gewed het. Maar as jy gaan soen soos jy kosmaak . . .” laat hy sy sin onvoltooid tussen hulle hang.

“In jou drome, Matt Carstens,” vererg Lilly haar. Dis erg genoeg dat sy hierdie nederlaag moet deurmaak, hy hoef nie nog die spot ook met haar te dryf nie.

“Jy weet dat die pad na ’n man se hart deur sy maag loop, nè?” Sy oë is donker en broeiend en haar hartklop versnel gevaarlik.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s