Liefde vra nie hoe oud jy is – of hoeveel jy weeg nie – Kristel Loots

Katalaya van Foxtrot van die liefde, sy met die vreemde naam en die moeilike ma, weier om ouvrourokke en aptekerskoene te dra. Sy kleur haar hare silwerwit, dra funky klere en hardloop vir die naderende ouderdom weg in ’n paar ‘killer heels’. Maar sy ís sestig en dis ’n skok vir die sisteem.

Om veertig te word, is gewoonlik ’n waterskeiding in ’n vrou se lewe. Vyftig is nóg erger en sestig is amper ondenkbaar. Dit gebeur mos net met ander mense, nooit-ooit met jou nie.

Skielik verwag mense van jou om jou kuis en ordentlik te gedra as jy dit teen daardie tyd nog nie doen nie. Jy is nou ’n senior burger wat hoofsaaklik beige klere dra en net op high days and holidays ’n smeerseltjie lipstiffie op jou dun lippies toegelaat word. Jy is in heeltemal ’n ander liga, amper deel van ’n ander spesie. ’n Pensionaris wat halfprys betaal om te gaan fliek en op sekere dae verniet koffie by die Wimpy kry. Mens sou nou dink enigiemand sal bly wees oor so ’n meevallertjie. Maar dis nie so eenvoudig nie. Vra vir Katalaya hoe sý oor hierdie aalmoesie voel. Jy spaar miskien geld, maar jy doen jou selfbeeld oneindige skade aan.

In elke sestigjarige vrou, sommer vlak onder haar vel, leef dieselfde sestienjarige meisie wat die eerste keer blinkoog geraak het toe die liefde haar beetkry. Ag, jy onthou so goed. Van ’n tyd toe julle moes skelm dans, omdat dit sonde was. Van die garage-paarties waar jy geleer het om te French kiss. ’n Fyn kuns om te bemeester sodat jy en jou mede-soener nie koppe stamp nie. Jy het dalk nie geweet presies hoe werk die blomme en bye nie, maar jy het toe al die krag van liefde leer ken.

En jy verlang weer daarna.

Dis ook hierdie sestienjarige inner-child in jou wat jou van jou eerste liefde laat onthou. Wat jou laat wonder wat van hom geword het, of hy gelukkig getroud is. Of hy nie dalk elke dag van sy lewe spyt is dat hy jou deur sy vingers laat glip het nie. Jy onthou hoe hy gelyk het op sy 50cc-motorfiets en hoe sy gespierde lyf gevoel het toe jy vir lewe en dood aan hom geklou het toe julle deur die dorp se strate hoes-hoes en proes-proes gepoer-poer het.

Jy weet voor jou siel daardie tyd is vir altyd verby, dat geen 50cc-motorfiets in elk geval meer jou gewig kan dra nie en dat niemand jou ooit weer gaan vra om saam te ry nie. Later weet jy self nie meer of jy op die man of op die masjien verlief was nie. Jy weet ook as die natuur sy wrede gang gegaan het, is die jongman wat jy in jou gedagtes vertroetel teen die tyd heel moontlik bles met ’n boepens soos so baie van sy tydgenote. Maar as jy in die nag lê en rondrol, alleen in jou dubbelbed, jaag jy ook nie die herinneringe van lank gelede noodwendig weg nie. Jy vertroetel dit en jy wens jy kan een keer in jou lewe wees so verlief wees, een keer in jou lewe weer met jou vingerpunte aan die wolke raak. Ook Katalaya het bittersoet herinneringe met haar saamgedra van ’n tyd toe haar geskokte ma, wat haar tog so graag op die regte pad wou lei, haar ’n sheila genoem het.

Niemand is ooit immuun teen die liefde as dit skielik iewers uitslaan en jou ook tref nie.

’n Mens kan verstaan dat ’n vrou van enige ouderdom na ’n sabbatsjaar of twee, of tien dalk weer ’n man in die huis wil hê. Om getroud te wees dra tog ’n mate van status, so saam met al die pyn en lyding wat ’n ouman met ’n blikbroek jou kan aandoen. Jy is helaas ook nooit gevrywaar teen seerkry nie.

Dis Kupido se skuld dat dinge nie altyd uitwerk soos dit moet nie. Moedswillige ou mannetjie daai. Hy met sy vet lyfie en sy dodelik pyle wat hy afvuur sonder om mooi te mik. Die ou moes lankal sy oë laat toets het, want sowaar soms tref hy ’n teiken wat jy beslis nie self sou kies nie. Maak nou nie saak wat Freud gesê het oor sielsgenote wat mekaar vind nie, paartjies wat op die oog af nie nommerpas lyk nie, raak juis aangetrokke tot mekaar.

Die enigste troos is dat daardie aardige gevoel op jou maag wanneer die liefde van jou lewe aan jou raak, nie eens in die herfsjare aan slegte spysvertering toegeskryf kan word nie. Kanselleer die doktersafspraak, bêre die medisynebottels. Dis ’n spul fladderende skoenlappers wat in jou maag losgelaat is, ’n baie bekende en onmiskenbare simptoom van die liefde.

Daar ís ook die sogenaamde cougars wat, ewe dapper, of dom, vir hulle katelknapies nadersleep om die verlange te besweer. Dis natuurlik ’n moerse kompliment as jy, met of sonder botoks, dit kan regkry. Maar as dit meer lus as liefde is, bestaan die gevaar dat die knapie ’n moederkompleks het en iets by jou soek wat jy nie wil gee nie. Jy’t klaar kinders grootgemaak, baie dankie, menige vloermoer verduur, sakgeld gegee, wasgoed gewas. En net daar herrys ’n tannie wat nie twak van kabouters vat nie.

Die oggendstond het nie aldag goud in die mond. Dis dan dat die liefde saam met die katelknaap alte maklik by die deur uit verdwyn. Of dat jy hom, saam met die hond, by die agterdeur uitsit.

Dis dalk veiliger as Kupido so mik dat beide man en vrou in die pille en brille-stadium is, hoewel nie noodwendig met een voet in die graf nie. Julle kan selfs pille vergelyk en uitruil as die geselskap te vervelig raak.

Daar is natuurlik ook die Liz Taylors van die samelewing wat van trou ’n stokperdjie maak. Wanneer die seerkry en die woede of selfs die hartseer oor ’n lewensmaat wat jy aan die dood – of aan ’n blondine – moes afstaan, begin taan, tik die verlange jou alte maklik weer op die skouer. Dis gewoonlik die klein, alledaagse dinge waarna mens verlang. Simpele rituele soos om vir ’n man kos te kook – en te sien hoe lekker hy daaraan eet. Selfs al bestaan die moontlikheid dat hy vol fiemies kan wees en jou bobotie vergelyk met die wat sy oorle’ vrou gemaak het en selfs haar resep met jou deel. Hy’s seker daarvan sy maak dit nog gereeld daar bo in die hemel en selfs die engele lek hul lippe af. Die liefdespel bly ’n dobbelspel, wat jou bloeddruk ten hemele kan opjaag.

Maar die moontlikheid is natuurlik ook altyd daar dat jy die boerpot kan slaan. Want die liefde is nie kieskeurig nie en die liefde aanvaar nie verskonings nie. En die liefde vra nie hoe oud jy is – óf hoeveel jy weeg nie.

Geniet Kristel se Foxtrot van die liefde: http://bit.ly/2pVPAD6

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s