Pierewaaier op haar erf – Madelein Stoltz

Pierewaaier op haar erf_voorblad_high res

Ben lê op die naat van sy rug, sy een arm bokant sy kop gegooi en die ander een hang van die bed af. Sy oë is toe. Perdita beskou sy skraal gesig vir ’n oomblik. Haar oë talm op sy stoppelbaard. Dit is onregverdig dat die man nie eens hoef te skeer nie en steeds te aantreklik lyk vir haar gemoedsrus. Hy lyk rustig, slaap seker diep. Sy sou ook seker nog half bewusteloos gelyk het as sy so gefuif het. Sy gee ’n tree vorentoe en pluk aan sy beddegoed.

“Die plek lyk soos ’n varkhok!”

Dit neem ’n rukkie voordat die lang gestalte onder die bruin duvet roer. Sy sien hoe Ben een oog lui oopmaak. Sy skedel voel seker te klein vanoggend. Goed so. Mag hy ook deur ’n hoofpyn geteister word. Sy ander oog flikker oop. Hy lyk eers verbaas, maar dis nie lank nie toe gly sy blik tydsaam oor haar lyf. Sy voel iets kriewel binne-in haar, want sy weet nie wat hy dink nie. Hy ontklee haar dalk met sy oë, vir al wat sy weet. Sy voel hoe haar asem min raak, sien die oomblik toe hy die buustelyfie in haar hand opmerk.

“Dié stukkie kant het in my swembad gedryf,” sê sy ná ’n diep asemteug, vies vir die uitwerking wat hy op haar het. Sy swaai die buustelyfie met een vinger aan ’n dun bandjie rond. ’n Bietjie water drup op die teëlvloer, maar sy steur haar nie daaraan nie. “Verduidelik hoe dit daar beland het!”

Sy weet sommer haar oë blits nou. Sy het nie verniet haar ouma Perdita se humeur saam met die koperrooi hare geërf nie. “Iets jou tong afgebyt?” Perdita gooi die buustelyfie deur die lug. Dit land langs Ben se kop op die kussing. Hy sit vinnig regop. Die duvet gly teen sy bolyf af, lok haar blik na sy kaal skouers, mooi gespierde bo-arms en die donker haartjies op sy bors.

“Bly tog net stil. Ek is nie lus vir jou gekyf nie, Pandora,” kreun hy. “Buitendien is dit nie jóú swembad nie. Dit is ons swembad. Moet jy nou my rus versteur die één Saterdag wat ek van plan was om laat te slaap?”

Sy woorde vuur haar woede aan. Herinner haar hoekom sy haar in die man se slaapkamer be- vind. Laat haar humeur behoorlik vlamvat.

“Perdita! Is jy nog so dronk dat jy nie eens my naam kan onthou nie? Die swembad is in my gedeelte van die erf.” Sy verskuif haar hande na haar heupe voordat sy dalk haar maniere vergeet en hom met sy skoene wat half onder die bed uitsteek, aanrand.

Ben gooi die duvet sonder waarskuwing eenkant toe. Hy spring op en Perdita sien eers net sy plat maag. ’n Sespak spiere rimpel onder sy vel. Dan die feit dat hy net in ’n noupassende swart bokserbroekie geslaap het. Sy moet seker dankbaar wees daaroor. Sy dink nie sy sal so vroeg in die oggend ’n naakte buurman kan hanteer nie, al lyk sy lyf ook soos Dawid se standbeeld. Haar mond gaan verontwaardig oop toe hy haar skouers aanraak en haar sagkens tot reg voor die venster stoot. Sy deins terug vir die onverwagte skerp lig toe hy die gordyn ooptrek.

Ben maak keelskoon agter haar. “Sien jy enige muur wat die erf verdeel, Pandora?” hoor sy kort daarna sy stem bokant by haar oor. Hy praat sag, maar iets in sy stemtoon waarsku haar om op haar hoede te wees.

“Perdita! Nee, maar dis aan my kant. Jy het die dubbelmotorhuis gekry. Het ek daaroor gestry met jou? Nee, ek gebruik die klein afdak.” Sy kan nie konsentreer op haar woorde nie. Daarvoor staan die mansmens heeltemal te naby aan haar. Haar lyf bewe effens teen sy bors en sy besef hoe klein sy teen hom is. Hy kan seker met gemak bo-oor haar kop kyk. Sy is intens bewus van sy hande wat nog haar skouers vashou. Die hitte van sy hande brand deur haar satynbloes. Sy kan hom saggies agter haar hoor asemhaal. Haar tong word ’n nuttelose instrument in haar mond en haar bene voel lam.

Hy swaai haar meteens om en gee ’n tree terug. Perdita wil hom vir ’n boelie uitkryt, maar die woorde wil net nie oor haar lippe kom nie. Hy het haar tog nie seergemaak nie. Haar brein soek na iets om te sê. “Vir wat trek jy nie uit nie? Jy weet ek wil jou nie hier hê nie,” sê sy en beweeg buite reikafstand sodat sy tussen hom en die deur is. Sy is meteens bang hy raak weer aan haar en ontketen nog lyflike reaksies waaroor sy nie beheer het nie. Buitendien moet sy eers oor die skok kom van wat so pas met haar gebeur het.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s