Ek het lanklaas so stadig gelees, so herkou, so gehuil – Monique Swanepoel

Ek het lanklaas in my lewe ’n boek geniet soos Ver in die wêreld Kittie deur Santie van der Merwe.

Ek het lanklaas so stadig gelees, so herkou, so gehuil.

Dit is duidelik: Santie skryf nie om te beïndruk nie. Sy probeer jou nie omkoop met haar algemene kennis, of intrek met komplekse storielyne nie, nee. Sy skryf eenvoudig, met eerbied, ’n storie. Met soveel deernis dat my hart nou nog vol van Kittie en haar mense is.

Katherine van Engeland is wêrelde verwyderd van Kittie van Kareespruit. In Engeland swaai sy Starling Hall se septer; in Kareespruit was sy kaalvoet Kittie wat nooit haar ma se liefde geken het nie. Dekades later en nou is sy terug. Omstandighede het ’n nare komplot teen haar bewimpel en hier bevind sy haar, terug in haar ma se huis op Kareespruit. Maar dinge het verander: haar ma het ’n beroerte gehad en is totaal van Kittie afhanklik. En selfs vir Kittie is dit onmoontlik om jou rug op jou ma te keer …

“Ma kon my darem ’n bietjie vertel het. Vir my ten minste gesê het ek lyk soos sy.”

Sy vat die ongeraamde foto by haar ma, beskou dit. “Ek het haar naam en ek lyk soos sy. Weet Ma ek was oortuig daarvan ek is in die hospitaal omgeruil? Omdat ek so anders lyk? Julle is so lank, so fris, so blond. Maar ek lyk soos sy.”

Gertruida draai haar kop weg van Kittie af, maak haar oë toe.

“Ek het gedink Ma is nie lief vir my nie omdat ek nie Ma se kind is nie.” Kittie gee nou nie om wat sy verder sê nie. Al die jare se eenkant wees borrel in haar op. “Weet Ma, toe ek ’n tiener was, het ek ’n teorie gehad. Ek het vir myself uitgewerk ek is Pa s’n. Dat ek ’n ander vrou s’n is. Dat ek aan hom behoort want hy was lief vir my. Ek het gedroom oor my ‘regte’ ma. Dat sy my nie wou opgee nie maar moes. Dat sy en Pa mekaar liefgehad het maar Pa was te lief vir Mariaan en Tom om hulle op te gee. Ma, kyk na my.”

Gertruida knyp net haar oë stywer toe, sit haar goeie arm oor haar gesig.

Die tema van herstel is iets wat herhaaldelik opduik: Katherine wat Starlin Hall tot ‘n meesterstuk herstel, haar ma se herstel, die herstelwerk aan die huis en, uiteindelik, die herstel aan ‘n brose, verbrokkelde verhouding.

Santie skryf so mooi, so sag, so vol deernis dat jy daarvan kan huil. Sy het oorspronklike metafore en vergelykings wat jou laat lekkerkry as jy dit raaklees. Maar dit oordonder nooit die verhaal nie, haar skryfstyl bly eenvoudig.

Santie het dit reggekry om uit ’n minimalistiese, doodgewone storie, ’n aangrypende verhaal te weef. Ek kan dit nie genoeg aanbeveel nie!

 

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s