Onmoontlike mansmens – Elize Davies

onmoontlike mansmens_high res

Hugo se oë blink van pret. “Het ek jou nie gisteraand gesê nie?” vra hy onskuldig. “Ek het klaar een gekry.” Hy leun vorentoe, neem haar beker uit haar hand en sit dit langs haar neer. “Sy is baie mooi én baie wulps. En sy soen regtig verskriklik lekker.” Sy gesig kom nader. Karien kyk met groot, verskrikte oë na hom. Toe spring sy vinnig op en retireer tot buite bereik van sy lang arms.

“Hugo, hou op om verspot te wees.”

Hy lag hardop. Dan versober hy. “Ek wil baie graag weet wat jou antwoord is, Karien. Sê my maar, dan kan ons ons laaste dag hier by die see geniet.”

Karien se hart klop in haar keel. Vir ’n oomblik staar sy na Hugo. Sy haal diep asem.

“Ek sal met jou trou, Hugo. Op die voorwaardes wat jy genoem het.”

Blydskap en verligting flits oor sy gesig voordat die gewone masker van koele selfversekerdheid weer in plek glip.

“Ek is bly.”

“Maar daar is nog ’n voorwaarde,” voeg sy vinnig by. “Ons gaan nie . . . ek gaan nie . . . Ons gaan nie ’n kamer deel nie.” Sy lig haar ken uitdagend.

Sy oë vernou. “Hoekom nie?” vra hy moedswillig. “Ons doen dit nou, en dit is nie só sleg nie, is dit? Jy snork darem nie te hard nie, ek sal daarmee kan saamleef.”

Hitte spoel oor haar gesig. “Jy weet wat ek bedoel, Hugo. Ek slaap nie saam met iemand vir wie ek nie omgee nie.”

“O, maar jy gee om, Karien. Jy gee om vir jou oupa, en jou vriendin, en jou baas, en vir al die ander Kleinspruiters.”

Sy kyk magteloos na hom en trek haar skouers op. Hugo is verleë, en sy sal haar nie laat afpers nie. “Selfs nie ter wille van hulle nie.”

“Dink jy regtig ’n losbol soos ek kan twee jaar lank sonder seks klaarkom?” tart hy.

Sy vererg haar tot in haar siel. “Wel, jammer vir jou. As jy nie meer kan uithou nie, moet jy maar daardie stokinsek-modelvriendin van jou kontak,” sê sy bitsig.

Sy oë begin glinster. “Jaloers, juffrou Veearts?”

“Nee!”

Hy lag meteens, staan op en trek Karien aan die hand tot sy voor hom staan. “Sy ís ’n stokinsek, nè? Haar skouerknoppe is so benerig dat sy hulle as aanvalswapen kan gebruik.” Sy stem word sagter, dieper. “Jy het gelukkig nie daardie probleem nie.” Sy hande gly teen haar arms op en vou warm om haar skouers terwyl sy oë stadig, liefkosend oor haar hals gly. “Jy is sag en mooi gerond. Dink jy regtig ons sal die huwelik op ’n sakegrondslag kan hou, Blouoog? Jy en ek, alleen in mekaar se geselskap, nag vir nag, sonder om ooit aan mekaar te raak?”

Hy trek haar nader totdat haar bolyf syne raak. Hitte golf deur Karien en sy moet haarself dwing om stil te staan en nie om te draai en weg te hol, weg van die strand en van Hugo en van sy breë skouers en sy mooi mond wat al nader kom nie; weg van die begeerte om haar arms om sy nek te gooi en haar teen daardie sterk liggaam te vly en daardie mond teen hare te voel.

Genadiglik keer gesonde verstand betyds terug en sy staan vinnig tru. “Dis nie onderhandelbaar nie, Hugo,” sê sy koppig. “’n Huwelik tussen ons sal ’n saketransaksie wees. Ek verkoop twee jaar van my vryheid en gee my beroep en my lewe prys om die ontwikkeling wat Kleinspruit sal vernietig te stuit. Maar ek verkoop nie my liggaam nie. Nie eens daarvoor nie.”

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s