Vermetele mansmens – Elize Davies

vermetele mansmens_high res

“Ek hoop nie jy oorweeg dit om weer op jou vriend se motorfiets te klim nie,” sê ’n diep stem skielik in haar oor. Karli swaai om en bots teen Ben Breytenbach se harde lyf.

Sy gooi haar hare agtertoe en lig haar ken. “Hoekom nie, meneer Breytenbach?” vra sy koel.

“Dis nie veilig nie. Jou vriend slaan die een drankie na die ander weg. Hy is beslis nie nugter genoeg om te bestuur nie.”

“Jy swaai mos so graag jou tjekboek rond. Hoekom bied jy nie aan om sy motorfiets te koop nie? Ek is seker hy sal te vinde wees vir ’n goeie aanbod,” sê Karli soet voordat sy haar rug op hom draai en haar aandag weer by die dansers bepaal.

’n Sterk hand sluit pynigend om haar boarm en sy verstyf. “Ek bedoel dit, Karli. Jou vriend is dronk. Ek verbied jou om saam met hom te ry.”

Bloed styg in Karli se wange op en suis in haar ore. Sy is oombliklik so kwaad dat sy die mansmens sou kon byt.

Sy draai om sodat sy die vent vol in die oë kan kyk. “Wie de duiwel dink jy is jy om vir my voor te skryf, Ben Breytenbach?” sis sy met blitsende oë. “Ek sal doen wat ek wil en ry saam met wie ek wil. En haal jou hande van my af.”

Asof hy haar wil wys wie baas is, bly die ysterklamp nog vir etlike sekondes om haar arm voordat sy greep verslap.

Voor hulle het die dans tot ’n einde gekom en die bekende inleiding van Zorba se dans begin speel. “Kom al die mans, kom dans!” roep die voordanser, en die vroue verlaat laggend die kring en maak plek vir die mans wat vorentoe stroom.

Tot Karli se verbasing gaan Ben Breytenbach ook vorentoe en val by die kring dansers in. Eers huiwerend en dan met meer selfvertroue aap hy die ander dansers na. Sy wens vurig hy misgis hom met die bewegings en beland plat op sy bas, maar teen haar sin moet sy erken dat hy rats is en vinnig leer. Van die arrogante diktator is daar nou geen teken nie. Hy grinnik seunsagtig toe Stavros en die ander mans hom ná die dans omring en goedkeurend op die skouer klop voordat hulle geselsend saam met hom terugstap stoep toe.

Kort daarna wil Nikos vertrek. Hy slaan sy arm beklemmend om Karli se skouers toe hulle opstaan om Stavros en Maria te gaan groet.

“Ag nee, Nikos, jy kan nie nou ry nie, man!” sê Stavros luid en laggend. “Laat iemand anders vir klein Karli huis toe vat. Jy sal verongeluk as jy nou op daardie rooi gevaarte van jou klim. Kom sit eers hier by ons en gesels.”

Nikos kyk agterdogtig na die groot, gul man. “Sê jy ek is dronk?” vra hy aggressief.

“Nee, natuurlik nie! Maar kom sit nou eers hier by my en Maria en vertel ons hoe die werk aan jou boot vorder.”

Al pratende lei hy Nikos na binne. Sy arm is joviaal om Nikos se skouer, maar hy beduie wild met sy ander hand agter Nikos se rug.

“Kom.”

Ben Breytenbach se vingers het weer om Karli se arm gesluit. Sy wil beswaar maak, maar binne sekondes bevind sy haar in die wit motor en ruik sy die subtiele speserygeur van Ben se naskeermiddel toe hy oorleun om die veiligheidsgordel vir haar vas te knip.

“Maggies, kry jy altyd jou sin?” vra sy vies toe hy wegtrek. “Ek het al baie dominerende en aanmatigende mans gesien, maar jy is sowaar die ergste.”

“Jou vriend is dronk. Die taverne-eienaar het gesê hy sal hom vannag daar hou sodat hy nie ander padgebruikers se lewens op die spel plaas nie.”

“En omdat j’y toevallig so dink, moet vier ander mense hulle planne aanpas – ek, Stavros, Nikos én jou gesofistikeerde metgesel.”

“Jy word nie verontrief nie; ek sal jou veilig tuis besorg,” antwoord Ben koel. “Stavros en sy vrou gee nie om om te help nie. Jou vriend Nikos kan sy roes in veiligheid afslaap. En my metgesel sal heel goed sonder my regkom. Haar vriende sal haar na haar hotel neem.”

Hy loer na haar kant toe. “Buitendien weet ek nie hoekom jy kla nie. Ek het jou gisteraand in die bed gesit, ek kan jou seker maar vanaand huis toe neem,” sê hy tergend.

Dit was ’n lae hou. Karli kan aan absoluut geen antwoord dink nie. Sy draai haar kop weg en kyk by die venster uit.

Ben draai in Pefkos se hoofstraat in en draai byna dadelik weer regs, strand se kant toe. Hy ry by die gastehuis se erf in en hou in die oprit stil. Die groot, nuwe gebou troon bokant hulle uit. Die meeste vertrekke is in donkerte gehul, maar by die voordeur brand ’n lig. Saam met die volronde maan wat laag oor die silwer see hang, verlig dit die omgewing spookagtig. Aan die kant van die huis lê hope sand en bakstene, so die bouwerk is seker nog nie heeltemal klaar nie.

Karli vroetel die sitplekgordel los. “Hoe lyk dit binne?” vra sy nuuskierig. “Met Oupa se dood en alles het ek nog nooit kans gehad om te gaan kyk nie. Is dit net so mooi as wat dit van buite lyk?”

“Dis orraait,” sê hy onverskillig. “Soos enige hotel, blinkskoon en onpersoonlik.”

“Dit klink of jy dikwels in hotelle tuisgaan. Hoe lank is jy nog met vakansie?”

“Wat laat jou dink ek is met vakansie? Jy weet tog hoekom ek hierheen gekom het.”

Sy byt ingedagte aan haar nael. “Wel, hoe lank gaan jy nog hier wees?”

“Totdat ek jou oorreed het om saam met my terug te gaan Suid-Afrika toe,” antwoord hy koeltjies.

Karli staar na sy donker profiel. “Dan hoop ek jy het genoeg geld in jou bankrekening vir ’n lááng besoek aan Rhodes, meneer Breytenbach, want ek gaan nêrens saam met jou nie,” sê sy koud.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s