Maanligliefde – Elize Davies

maanligliefde_high res

“Wel, Annette-se-sus, sal jy met my dans?” vra hy onnutsig en kry haar aan die hand beet voordat sy kan weier. Sy maak haar mond oop om te protesteer, maar hy gee haar nie ’n kans nie, trek haar tot styf teenaan hom en begin ritmies op maat van die musiek beweeg.

Sy probeer wegbeur. Maggies, moet hy haar so styf vashou? Haar borste word omtrent platgedruk teen sy harde bolyf, en sy gespierde bobene dwing al tussen hare in, en dit voel so intiem soos … soos seks. In die openbaar.

“Hou op wegrem,” tart sy diep stem hier bokant haar kop.

“Meneer . . . Ek weet nie eens wat jou naam is nie,” sê sy ontevrede.

“Leon. Leon Lategan,” sê hy hulpvaardig maar sy oë glim onheilig. “Jy kon my netnou met ’n veertjie omtik,” sê hy en sy mond roer teen haar wang. “Juffrou Eksie-perfeksie is sowaar Annette se tweelingsus. Wie sou dit nou ooit kon dink!”

Mariëtte skool haar gesig om nie haar ergernis en verleentheid te wys nie. “Toemaar, jy hoef dit nie te sê nie,” sê sy gemaak-verveeld.

“Wat?”

“Dat ons nie na ’n tweeling lyk nie. Nie eens na susters nie.”

Daar is gelatenheid in haar stem. Aanvaarding. Sy is gewoond daaraan om met Annette vergelyk te word. Sy moes die uitroepe van verrassing en bewondering oor Annette se lieflikheid tot vervelens aanhoor toe hulle kinders was, woorde soos “beeldskoon” en “stunning” en “’n gebore hartebreker”. En dan het die mense na háár gekyk, en die gesigsuitdrukkings het meewarig geraak.

“Mariëtte is ook mooi, maar . . . anders, nè?” het een van haar ma se meer taktvolle vriendinne eenkeer gesê. “Sy het ’n eiesoortige skoonheid.”

“Wel, ’n mens kan seker nie so bevoorreg wees om twéé stunning dogters te hê nie,” het haar ma geantwoord.

“Wat beteken eiesoortig?” wou sy later van haar pa weet.

“Ons liewe Vader het elke mens uniek gemaak,” het hy ’n moeilike woord met ’n nog moeiliker begrip probeer verduidelik.

Sy het nie verstaan nie.

“Hoekom is Annette mooi en ek nie?” wou sy weet.

“Wie sê jy is nie mooi nie?”

“Ma. Sy sê sy het twee dogters, ’n mooie en ’n slimme. Ek dink ek is die slimme.”

“Jou ma moet ophou om etikette om julle nekke te hang,” het haar pa gebrom.

“Sê my, hoe is dit dat jy en Annette so geweldig verskil?” ruk die diep stem bokant haar kop haar terug na die hede.

Verdomp, kan die mansmens nie ophou karring nie?

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s