Elize Davies – ’n dogter van Stoffberg

Ek sal die gelukkigste persoon in die wêreld wees as …

My kinders gelukkig, gesond, veilig en voorspoedig kan wees, en as ek en my man nog sommer baie sakke sout saam kan opeet.

Liefde is soos …

Baie dinge: So heerlik en soet soos roomys; so oneindig kosbaar en skaars soos ’n rare juweel; so broos en moeilik om aan die groei te hou soos ’n eksotiese orgidee.

Ek’s niks as dit nie was …

Vir die onverdiende genade van Bo, en my ouers se aanmoediging en ondersteuning nie.

As ek verveeld is …

Soek ek vir myself werk: ek gaan spuit tuin nat, of pak ’n kas reg, of begin met ’n nuwe verhaal.

Vrede omring my …

As ek langs die see stap, of in stilte na die ongerepte veld kyk, of in ’n sonkolletjie in my sagte leunstoel my ma se Bybel sit en lees.

Ek kan regtig leef sonder …

’n Televisie. En sonder onvergenoegde, jaloerse mense. En sonder snobs.

Niks, ek herhaal niks, kom tussen my en my … nie

Vroegoggendkoffie

cup-of-coffee

My trooskos is …

Karamelsjokolade. Ai, mensdom!

My droomhuis is …

’n Kliphuisie by ’n stil strand.

Ek’s bygelowig oor …

Niks nie. Gelowig, ja, maar bygeloof speel nie ’n rol in my lewe nie.

Wat’s jou gunstelingwoord?

Daar is so baie pragtige, raaksê Afrikaanse woorde:  rondomtalie, bollemakiesie, holderstebolder…

Waar wil jy op vakansie gaan?

’n Griekse eiland, ’n bootvaart op die Rynrivier, die Kaapse Weskus, Namakwaland in die blomtyd.  Enige stil plek − ek is allergies vir malende menigtes.

Watse verrassings is in jou beursie?

Sy inhoud is maar karig − ’n paar muntstukke, baie plastiek, en ’n fototjie van my kinders.

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

Onder die lewendes: my drie seunskinders, wat oor die wye wêreld verspreid is (een in Engeland, een in Duitsland, een in Suid-Korea). Onder die Grotes: Shakespeare (hoe kan enige skrywer so tydloos wees?) Beethoven (hoe kon ’n dowe man sulke hemelse musiek skryf?) en Michaelangelo (hoe kan enige iemand op sy rug lê en steeds so wonderlik skilder?)

Watter drie boeke het jy meer as drie keer gelees?

  • Pride and Prejudice – Jane Austen
  • Kringe in ’n bos − Dalene Matthee
  • Swart Pelgrim − FA Venter

Waar is die vreemdste plek waar jy al ooit geskryf het?

Ek gaan nêrens sonder ’n notaboekie nie en krabbel gedurig idees of woorde neer − tydens vervelige vergaderings, in ’n bus op pad werk toe, in ’n tent tydens ’n seevakansie en in ’n vliegtuig op pad Suid-Afrika toe.

Vir wie sal jy jou laaste dans wil spaar?

Vir my man, wat al veertig jaar aan my sy is en nog steeds net so lief is vir my as veertig jaar gelede.

As jy vir ’n dag as ’n ander bekende skrywer kan leef, watter skrywer sal dit wees? En hoekom?

Nora Roberts, die romanskrywer − dit moet ’n ongelooflike hupstoot vir mens se selfbeeld gee om te dink jy het al meer as ’n miljoen boeke verkoop!

Wat laat jou lag?

Afrikaners se lagwekkende sêgoed en hulle unieke humorsin − na 12 jaar in Engeland kan ek nog nie die Engelse humor snaaks vind nie.

Wat laat jou huil?

Kinders wat kanker kry en doodgaan.

Wat het jou laat besluit om te skryf? Wat was die oomblik wat jou op ’n stoel laat sit en begin het?

Tydens ’n seevakansie in Oos-Londen het ’n storie in my kop begin draai en ek het net besluit: probeer. Tot my verbasing is die kortverhaal wat gebore is, dadelik deur Sarie aanvaar. Dit was die begin!

Hoekom skryf jy juis liefdesverhale?

Want die behoefte om deur ’n maat verstaan en gekoester te word, lê in elkeen van ons, oud of jonk, mooi of lelik, ryk of arm.

Wat is jou gunsteling-onderwerp? Waar kry jy jou stories vandaan?

Elke persoon op straat is ’n moontlike karakter in ’n boek, elke situasie waarvan ek lees of hoor is ’n moontlike insident, elke nuwe plek wat ek besoek is ’n moontlike agtergrond vir ’n storie.

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

My hoërskoolhoof, mej. FR Malan (hoof van die destydse Hoër Meisieskool Stoffberg in Brakpan) het dit by ons ingeprent dat “’n dogter van Stoffberg” nie moed opgee nie: as ’n mens nie dadelik sukses behaal nie, probeer jy weer. Mens het uithouvermoë nodig as jy wil skryf!

Wanneer skryf jy?

Oggend, middag of aand? Verkieslik vroeg-oggend  terwyl ek nog vars voel. Saans is ek gedaan!

Jy het nou al ’n hele paar boeke op jou kerfstok. Raak ’n mens ooit daaraan gewoond dat ’n boek van jou gepubliseer word?

Nee, dit bly nog altyd ’n yslike lekkerte om daardie dankie-ons-kan-jou-boek-gebruik-briefie of e-pos te kry.

Daar is baie mense wat graag wil skryf. Wat sou jy sê is die eienskappe waaroor ’n voornemende skrywer moet beskik?

Redelik goeie taalgebruik, ’n ryk verbeelding, baie uithouvermoë en hope deursettingsvermoë!

Wat is daar vir jou in die pyplyn?

As al ons plannetjies reg uitwerk, sê ek later vanjaar vir my kollegas by die werk koebaai en kan my dan voltyds op skryf toelê.

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s