#liefvirjou − Elsa Winckler

Cara lag en druk hom weg. “Ek het gehoor julle is twee sulke hartebrekers, nou verstaan ek.”

“Jy kan nie alles glo wat jy hoor nie,” sê Kobus. “Jou tas? Ek kan dit sommer in my motor laai.”

“Ag wat, ons kan later,” sê Cara.

“Maar . . .” begin haar ma.

“Nou toe, kom ons gaan in, lyk my almal is al binne,” beduie Cara en haak by haar ma in.

Cara en haar ma begin aanstap met haar pa ’n kortkop agter hulle. Kobus kan nie sy oë van haar afhou nie. Op die vliegtuig in jeans en ’n toppie het sy hom al vreemde dinge laat doen en ervaar. In die kort, blou wasige rok van vandag vat sy die wind heeltemal uit sy seile.

“Jy’s reg, my broer, sy is vrek sexy. Laat weet my as jy nie verder belangstel nie.”

Kobus kyk vies na Tinus. “Jy het mos ’n date.”

Tinus grinnik. “Jy het die skoot hoog deur en jy weet dit nie eens nie.”

Kobus wil ’n vies antwoord gee, maar hulle het intussen in die ruim lokaal gestap. Hy kyk vorentoe, betyds om te sien hoe ’n lang donkerkopvrou op Cara afstorm.

“Kyk hoe mooi lyk jy!” roep sy uit.

Langs hom swets Tinus onderlangs, maar voordat hy kan vra wat aangaan, trek Cara die donkerkop nader en draai terug na hulle toe.

“Kobus, dis my vriendin, Leila Mouton, ons ken mekaar van laerskooldae af. Leila, dis Kobus.”

“Hallo, Kobus,” sê Leila met ’n glimlag, maar toe haar kop draai en sy vir Tinus gewaar, verdwyn haar glimlag dadelik. “Tinus,” knik sy voordat sy wegdraai. “Nou toe, kom, kom. Die paartie gaan binnekort begin!” Sy fluister iets in Cara se oor voordat sy tussen die mense verdwyn.

“Hoe ken jy vir Leila?” vra Kobus en kyk vir die eerste keer weer na sy broer.

Tinus se kake is styf opmekaargeklem. “Ek . . .” Hy skud sy kop vinnig. “Ek moet my date gaan soek. Sien julle later.” Hy stap weg.

Oorbluf staar Kobus hom agterna. Hier is iets aan die gang.

#liefvirjou en Jy is huis vir my is beide beskikbaar by LAPA Uitgewers: http://bit.ly/2ojAS9k

Leave a comment